Stille Afrikaans: die Afrikaans van mense wat gesien maar nie gehoor word nie, van mense wat so dikwels in ongekose stilte moet leef.

Gerhard van Huyssteen
Die Stille Afrikaanses is blinde en dowe mense, of mense wie se sig en gehoor op so ’n wyse geïnhibeer word dat hulle nie Afrikaans op dieselfde ongekniehalterde maniere as die gemiddelde Afrikaanssprekende kan gebruik nie.
Hoeveel doen ons vir dié deel van ons taalgemeenskap? As jy ’n skrywer is, eis jy die oudioregte van jou blitsverkoper by jou uitgewer op en lees jou boek self as vrywilliger voor by onder meer die South African Library for the Blind? Het jy al daaraan gedink dat ’n gebrek aan Afrikaanse onderskrifte by TV-programme en rolprente dowe Afrikaanssprekendes die reg ontneem om sulke media in hul moedertaal te geniet? As jy vandag doof word, gaan jy nie weer ’n Afrikaanse sepie in Afrikaans kan geniet nie – slegs in Engels.
Twee onlangse Afrikaanse projekte is hartverwarmend. Die vakgroep Skryfkuns van die Noordwes-Universiteit en die Pionierskool vir siggestremdes in Worcester se Byderhand-projek bied innoverende, interaktiewe leeservarings waardeur plek en literatuur op grensverskuiwende maniere ervaar kan word. Sowel visueel gestremde as siende persone gebruik ’n kombinasie van konkrete en digitale koppelvlakke (soos braille-instruksies, bordjies met QR-kodes en ’n digitale koppelvlak waarin van spraaktegnologie gebruik gemaak word) om deur die multisensoriese tuin by die Pionierskool te beweeg.
Plante is gekies met die fokus op reuk en tas; die paadjies is uitgelê met verskillende teksture; buitelugmusiekinstrumente nooi mense uit om saam te speel en musiek te maak. Sentraal tot dié ervaring is tien tuin- en kinderverse deur William Rowland, Hans du Plessis, Bernard Odendaal, Daniel Hugo, Floris A. Brown en Franci Greyling. Van die verse word aangevul deur musiekverwerkings, vertalings en tipografiese animasies sodat gebruikers die werke op ’n verskeidenheid van maniere kan ervaar.
Bemagtigingstegnologieë ontwikkel met rasse skrede, maar is en bly duur – veral vir ’n klein mark soos die Afrikaanse mark.
In nog ’n projek het ’n seun van die Nuwe Hoop Skool in Pretoria vroeër dié maand vir die eerste keer ’n seunstem gekry om via ’n tablet met ander te kommunikeer. Voorheen moes Alexander Avenant vir lief neem om met die kunsmatige stem van ’n volwasse man te praat omdat daar nie ’n Afrikaanse seunskunsstem beskikbaar was nie. Danksy die WNNR en drie vlytige seuns van die Laerskool Constantiapark wat ure en ure se stemopnames geskenk het, kan Alexander (en talle ander seuns soos hy) nou vir die eerste keer soos regte egte Afrikaanse seuns klink.
Bemagtigingstegnologieë ontwikkel met rasse skrede, maar is en bly duur – veral vir ’n klein mark soos die Afrikaanse mark. As jy dink jy kan bydra tot bogenoemde projekte of tot die ontwikkeling van sulke Afrikaanse tegnologieë, stuur gerus e-pos na navraag@viva-afrikaans.org.
Gerhard van Huyssteen is ’n taalkundige aan die Noordwes-Universiteit. (gerhard.vanhuyssteen@ nwu.ac.za)