Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Protes ál meer en ál intenser
Amanda Gouws
Prof. Amanda Gouws Foto: Verskaf

As ’n mens genoeg CNN-nuus kyk, kan jy vergewe word as jy dink die einde van die wêreld is op hande.

Oral is mense op straat besig om protes aan te teken en regerings raak al hoe hardhandiger in hul optrede teen betogers.

In die afgelope week het alles in Hongkong tot stilstand gekom omdat duisende betoog het vir groter demokrasie – in die week wat China 70 jaar van kommunistiese regering gevier het met ’n skandelike tentoonstelling van wapens. Toe traangas en rubberkoeëls misluk, is lewendige ammunisie gebruik. In Egipte was duisende ook in die strate om ontslae te raak van die militêre regime. In Irak dieselfde storie, met jong mense wat basiese regte en ’n lewe met waardigheid eis.

En ’n paar weke gelede was Suid-Afrikaners in die strate om teen geweld teen vroue te protesteer.

’n Webwerf wat protes naspeur, wys dat daar in 2016 3 104 protesoptogte in Hongkong was. Vir 2019 sal dit reeds baie meer wees. In 2016 het Mexikostad 7 011 protesoptogte gehad en Suid-Afrika 14 693, Berlyn 5 000, Madrid 1 983, Den Haag 1 500 en Parys 2 383. Met toenemende immigrasie en klimaatsverandering raak protes in Europa al hoe erger.

Waarop protes dui, is dat konvensionele maniere van deelname net nie werk nie.

Politieke wetenskaplikes gebruik ’n kategorisering van deelname aan demokrasie wat insluit om te stem, om jou parlementêre verteenwoordiger te kontak of ’n brief/e-pos aan hom/haar te skryf, om ’n politieke vergadering by te woon of ’n petisie te onderteken. Dit word beskou as konvensionele deelname.

Daar is ook ’n spektrum van onkonvensionele deelname: om deel te neem aan ’n vreedsame protesoptog, of aan ’n optog wat jy weet gewelddadig sal raak, of om self geweld te gebruik.

Baie van die regimes waar daar protes voorkom, is nie demokraties nie, maar baie is wel, soos Suid-Afrika, Amerika en Frankryk. Waarop protes dui, is dat konvensionele maniere van deelname net nie werk nie. Burgers glo hul stemme word nie gehoor nie en selfs waar hulle stem, kry hulle despotiese, populistiese leiers. Dink maar aan Donald Trump en Boris Johnson.

Dit is egter die reëlmaat waarmee en skaal waarop protesoptogte plaasvind wat die aandag trek. In baie lande soos Hongkong is dit daagliks. Selfs waar die polisie brutaal optree, hou die protes nie op nie. Protes het só beskou konvensionele deelname geword.

Wat populisme aanwakker, is juis elite-politiek.

Die meeste mense wat aan protesoptogte deelneem is jonk, veral wat betref protesoptogte vir optrede teen klimaatsverandering. Dit is jong mense wat moeg is vir korrupte elite, werkloosheid en die gebrek aan ’n waardige lewe. Dit is húlle wat ’n sterwende planeet gaan erf.

Wat populisme aanwakker, is juis elite-politiek, waar diegene wat geld en bronne het, leef op ’n manier wat wys dat hulle geensins omgee wat van die 80% mense in die wêreld word wat jaarliks armer word nie.

Die vierde nywerheidsrevolusie dra by tot dié droewige prentjie, waar die groter gebruik van tegnologie werkloosheid aanvuur. In supermarkte in Swede is daar deesdae net een persoon by die kasregister. Die meeste mense skandeer self hul inkopies, druk die kaart in die masjien en die transaksie is afgehandel. Dieselfde situasie in banke. Alles kan nou aanlyn gedoen word. Die hof het die bankvakbond in Suid-Afrika Sasbo se voorgenome staking gestop.

Hoe meer ontevredenheid toeneem, hoe meer outokraties raak demokratiese regerings. Wat ons gaan sien is groter outokratiese optrede deur demokratiese regerings wat voel hulle verloor beheer.

Dit is die voortsetting van die glibberige glybaan terug na outokrasie.

  • Gouws is professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Elite-Politiek  |  Protes  |  Elite  |  Demokrasie  |  Betogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.