Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Protes teen gendergeweld wys magstrukture verander

Die protes op kampusse teen gendergeweld, dui ook daarop dat argaïese gesagstrukture aan die verander is, skryf Leslie van Rooi.

Studente maak op die kampus van die Universiteit Stellenbosch beswaar teen gendergeweld. Foto: Leslie van Rooi

Die onlangse grusame moorde op twee studente, Uyinene Mrwetyana en Jesse Hess, onderskeidelik van die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van Wes-Kaapland, het veral universiteitskampusse geruk.

Die sinlose dood van dié twee studente het daartoe gelei dat kampusse weer hernude protes teen geweld op grond van geslag beleef het.

Vrouestudente is aan die voorpunt van dié protes wat ons lei om soos baie Suid-Afrikaners die laaste ruk te skree: Genoeg is genoeg!

Soos wat ook in die verlede die geval was, is daar nou weer ’n gevoel dat mans wat hulself aan seksuele misdrywe skuldig maak aan die kaak gestel moet word en dat vroue dus hard teen oortreders moet uitpraat.

Oproep om 'n einde te maak aan verkragtingskultuur op kampusse.

Op verskeie kampusse word daar tans uiting gegee aan hierdie oproep.

Daarmee saam is daar pogings om veral universiteitsowerhede en manlike personeellede en - studente te laat verstaan dat die kultuur op kampusse moet verander om 'n einde te maak aan wat as ’n verkragtingskultuur beskryf word.

Hierdie situasie is natuurlik nie uniek aan Suid-Afrika nie. Dink maar aan die #MeToo-beweging wat veral bekendheid in die VSA verwerf het, maar wat in verskeie vorms en onder verskillende name steeds wêreldwyd aan die gang is. Ook is dit nie die eerste keer dat vroue op kampusse hard aandring op diepgaande verandering nie.

Hierdie situasie is ook nie beperk tot wat op universiteitskampusse gebeur nie. Die betogings oor die hele Suid-Afrika ná verskeie erge voorvalle van verkragting en moorde op vroue dui daarop dat Suid-Afrikaners dalk selfs sterker as in die verlede teen hierdie vorme van geweld opstaan.

Veranderinge eerste op kampusse gevoel

Leslie van Rooi

Maar hoekom word kampusse so direk geraak?

Universiteitskampusse is bekend daarvoor dat dit ruimtes is waar veranderinge in die samelewing eerste gevoel word en selfs eers getoets word.

In hierdie verband het universiteite ’n verantwoordelikheid om verandering te bestuur en op so ’n manier te verpak dat dit ’n konstruktiewe, positiewe impak op die groter samelewing (insluitend op ons universiteitsgemeenskappe) het.

Maar kampusse is nie verwyderd van die groter samelewing nie. Die “mikro-kosmosse” op kampusse is op ’n spesifieke manier ’n weerspieëling van die groter prentjie. Om dit nie te erken nie, is om ’n alternatiewe gemeenskap te probeer skep wat eintlik nie bestaansreg het nie.

Dat die twee studente se dood ons raak en oproep tot aksie, beteken nie dat hul lewens meer werd as dié van ander was nie. Die invloed van hul dood help ons egter om te verstaan dat die potensiële bydrae van jongmense op ’n pynlike manier uitgedoof word deur vorms van geweld waarvoor daar nie plek is nie.

Dit help ons ook om te verstaan dat universiteite, in verhouding met ander organisasies en departemente, ’n sterk rol moet speel in die daarstel van ’n beter en gesonder samelewing.

Wat moet verander?

Versoekskrifte wat die laaste tyd aan universiteitsowerhede voorgelê is, mag dalk sekere aksentverskille hê. Maar daar is wesenskenmerke wat dieselfde is.

Dit is dat veral vroue moet uitpraat teen enige vorm van seksuele geweld en dat universiteitsowerhede ’n verantwoordelikheid het om ruimtes te skep en kulture te verander wat tot gevolg sal hê dat vroue op kampusse nie in vrees hoef te leef nie.

Die samelewing verander vinniger as wat ons dink. Daar is nou aansienlik meer vroue as mans op ons universiteite. As mans sal ons vinnig moet leer dat die gender-dinamika in die samelewing reeds vinnig aan ’t verander is.

Ook dat mans ’n bepaalde verantwoordelikheid het om saam met vroue te werk aan die daarstel van ’n samelewing waar geweld op grond van geslag geen bestaansreg het nie.

Dit kan universiteite natuurlik nie in isolasie van die groter samelewing doen nie. Ons moet dit ook nie só probeer doen nie.

Maar in die ruimtes waar ons ’n bepaalde invloed en mede-verantwoordelikheid het, moet ons gehoor gee aan die oproepe.

Die samelewing verander vinniger as wat ons dink. Daar is nou aansienlik meer vroue as mans op ons universiteite. As mans sal ons vinnig moet leer dat die gender-dinamika in die samelewing reeds vinnig aan ’t verander is.

Die protes op kampusse help ons dus nie net om te verstaan dat geslagsgebaseerde geweld onaanvaarbaar is en nie geduld mag word nie. Dit help ons ook om te verstaan dat argaïese vorme van magstrukture in die samelewing ook verander – juis daarom moet protes op kampusse nie onderskat word nie.

* Dr. Van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.