Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Pryslied vir taal wat ook plekkie in son verdien
Ivor Price

Om in ’n taal soos Afrikaans te werk, is soms ’n taamlike pyn in die dinges, veral as jy nie wit is nie. Daar is heeltyd (meestal goedbedoelde) pogings om jou in ’n taalstryder te verander of as ’n geëerde gekleurde tot rade te koöpteer om saam planne vir die taal se voortbestaan te help maak.

Die afgelope twee dekades het ek grotendeels daarin geslaag om sulke pogings te vermy; om eerder die taal te lééf as om my met oordeelsdagpraatjies oor Afrikaans te vermoei. Moenie ’n fout maak nie: Ek is lief vir die taal en voel bevoorreg om daarin te kan droom en dink, maar ek voel nie benoud by die blote aanhoor van ander tale nie. Dit pla my ook nie dat die instruksies op my mikrogolfoond net in Engels en Mandaryns is of dat die noodprosedure in ’n vliegtuig net in Engels verduidelik word nie.

Toegegee, my Engels hou op ’n sonskyndag net tot ná middagete. Ek’t ook onlangs in Engels probeer vry – met katastrofiese gevolge.

Onlangs sê iemand egter dit is tyd dat Afrikaans, ná ’n werkdrama ’n jaar of wat gelede, eerder sonder my moet aanbeweeg. Dit het die wind uit my seile gehaal, want dit was die eerste keer dat ek aan myself sonder die veiligheid van my hartstaal moes dink. Is dit regtig moontlik dat ’n taal sy rug op jou kan draai? Belangriker selfs: Kan ’n mens afskeid neem van ’n taal wat jy met moedersmelk ingekry het?

So hier is ek nou: Besig om presies te doen wat ek my lewe lank nooit wou nie.

Vir die eerste keer dink ek anders aan ’n niggie en neef van my, albei in matriek, wat asem ophou dat hulle tog volgende jaar in Afrikaans sal kan studeer. En ek sien, asof vir die eerste keer, die flikkering van angs in die oë van ’n Zoeloesprekende student wat my trompop loop om te kla dat hy nie in sy moedertaal kan swot nie.

Skielik kyk ek ook anders na my susterskinders, wat in Engels grootgeword het. Hulle sukkel om basiese sinne in hul ouers se taal, Afrikaans, te voltooi en praat in sulke hoof­seun­aksente – en dit is kinders in ’n huis waar daar altyd Afrikaanse lees- en woordeboeke op die koffietafel lê.

Ek erken my suster se reg om haar kinders in die taal van haar keuse groot te maak, maar ek kan nie meer die bewese voordele van moedertaalonderrig ontken nie. Haar kinders het toevallig ’n uitgebreide woordeskat, maar ek weet dat hulle die uitsondering op die reël is: Die meeste kinders in soortgelyke omstandighede raak nooit hul moedertaal of selfs hul tweede taal behoorlik baas nie.

So hier is ek nou: Besig om presies te doen wat ek my lewe lank nooit wou nie. Ek sing ’n pryslied vir Afrikaans – nie as die alfa en die omega nie, maar as ’n taal wat sy plekkie in die son verdien; ’n taal waarvan sy woorde vir my wêrelde geopen het.

’n Taalbul wil ek egter nooit wees nie; eerder ’n ambassadeur wat ander inspireer om in hul onderskeie moedertale te droom en doen, soos ek in Afrikaans.

Meer oor:  Ivor Price  |  Rubriek  |  Menings  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.