Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Psalm vir die gulsiges wat by die trog aansit

Die gieriges sal altyd met ons wees, niks sal hulle ontbreek nie.

Dana Snyman

Hul lus vir geld en die vrugte daarvan is onversadigbaar. Nóg ’n motor, nóg ’n plaas, nóg ’n huis teen die heuwel met ’n bevredigende uitsig oor die uitsigloses, nóg ’n Hollywood-styl-apartement. Nóg ’n Cohiba-sigaar. Nóg ’n Breitling-horlosie.

Hul gulsigheid verbind hulle met ander gulsiges. Hulle is die blinkoog-kaders van die Revolusie wat hulself van hul gewete bevry het. Nóg ’n gratis vlug na Dubai om ’n drie-eenheid-sakemanne te gaan ontmoet. Nóg ’n leersak vol note in die Benz se kattebak. Hulle is die amptenare wie se begeertes hulle verslind. Nóg ’n R30 000-aand in ’n Ballito-hotel op die staat se rekening.

Nóg ’n regeringsbesoek aan Europa wat ’n hoogtepunt in Harrods in Londen bereik. Hulle is die vegters vir die armes in die Range Rovers met die langpuntskoene by hul oorpakke. Nóg ’n miljoen oorgeplaas na ’n familietrust. Nóg duisend townshiphuise waarvoor betaal is wat nooit gebou gaan word nie. Hulle is die kinders van die vorige heersers wat hulself van die Kerk en die Party bevry en hul god op die aandelebeurs genoteer het.

Nóg ’n miljoen oorgeplaas na ’n familietrust.

Nóg ’n vals inkrywing in die maatskappy se finansiële state om daardie fabelagtige verlies na ’n wins te laat lyk. Nóg ’n resiesperd en ’n jong liefie in ’n helikopter onderweg tussen Franschhoek en elders.

Die aarde behoort aan hulle en die volheid daarvan, daarom slaan hy daardie ou R4 miljoen-huis plat en bou ’n nuwe vleispaleis in sy plek.

Op hulle en hul naaste se hoof rus Prada en Gucci, hul glas loop oor van Johnny Walker Black en Rémy Martin. Hul buffels se horings strek die wydste, in hul koi-damme swem die vetste visse.

Hier kom een in sy Bentley, hy en die drie kaalkoppe eet weer vanaand tesame by Marble in Rosebank. Hul hande wat links en regs vlieg om hul kwylende mond te voer.

Hulle omring hulle met lakeie en buiksprekers in dun, pienk dasse wat dieselfde perkelose drome as hulle droom. Hulle deel hul skatte slegs met dié wat voor hulle kniel en deur wie hulle hul skatte kan vermeerder.

Geld is hul lig en hul heil en hul toevlug, vir wie sou hulle bang en vervaard wees?

Al gaan hulle deur ’n dal van doodskaduwee, hul oortredings en vergrype is niks in hul eie en hul kamerade se oë nie, die onheil word aangestook deur die jaloerses en afgunstiges wat in hul plek by die trog wil vreet.

Hulle byt hul eie vingers af en skeur groot stukke uit mekaar se lyf.

Hulle het die waarheid lief en sit nie by valse mense nie en met slinkse mense gaan hulle nie om nie, sê hulle, en omring hulle met prokureurs en advokate wat alles moontlik moet doen dat ’n vonnis nie teen hulle voltrek word nie.

Nóg ’n laatmiddagvaart op ’n jag in Tafelbaai met ’n glas Dom Perignon in die hand. Nóg ’n nag nié in die tronk nie.

Hoe heerlik is die aarde nie.

(Met apologie aan Jan Rabie.)

Meer oor:  Deurloop  |  Dana Snyman  |  Meningsberig  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.