Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Psalmdigters weet van ‘sela’

Sela. Dié woord kom altesaam 74 keer in die Hebreeuse Bybel voor – 71 keer in die Psalms en drie keer in Habakuk.

Elmarie Dercksen

Die presiese betekenis van die woord bly onbekend, maar as ’n liturgiese musiekterm dra dit heelwat gevoel, selfs vir ons vir wie die Midde-Oosterse kultuur vreemd is.

Ek is my lewe lank al ’n musikant en ’n vertolker, selfs ’n skribbelaar dan en wan, en my musikale hart verstaan van “stop en luister” of “tyd vir ’n kitaarsolo”.

My ma het altyd gesê: ’n Mens neem nie groot besluite in die nag nie. Jy mag hoogstens iemand ongevalle toe neem, indien nodig. Maar terwyl die donker dig teen jou venster is en die flou maan die enigste lig, is jou hart dalk ook doenig met dinge wat môre, in die daglig, anders sal lyk.

Ons almal het soms ’n blou Maandag, of ’n paar af dae wanneer ons “ ’n depro kap”. Miskien is jou bioritmes deurmekaar, jou goeie dermbiotika te min, of jou brein gedehidreer. Jy moet net ’n paar dae gesond eet en snags deurslaap, dan is alles weer op koers.

Om verskeie redes, waarvan een dikwels traumatiese gebeure is, beleef die meeste van ons ook deur die loop van ons lewe ’n paar episodes. Die verlies van ’n geliefde of ’n verhouding, siekte aan ons eie lyf voel, beproewings van allerlei aard kan so ’n episode veroorsaak.

Dis nie ’n paar dae van blou voel nie, dis weke of maande.

Dis nie ’n paar dae van blou voel nie, dis weke of maande. Ek is nie ’n kenner van die sielkunde nie, maar ons almal weet: As ’n mens nie hierdie dinge met omsigtigheid en verstandigheid benader nie, kan dit langdurig word.

(Ek weet sommige van ons is melankolies aanmekaargesit en dis vir my pragtig. Ek is ook bewus van die feit dat depressie ’n gekompliseerde siekte is en dat trauma nie die enigste aanduiding daarvoor is nie.)

Ek het wel in die laaste tyd met verskeie mense te doen wat deur so ’n episode werk. Sommige rou oor ’n geliefde se afsterwe, ander het hul werk verloor en moet skielik op familie staatmaak, ander kry bloot swaar omdat hulle vir die afgelope dertien maande tuis werk, oorweldig voel met klein kinders tuis, of nie so dikwels uitkom as voorheen nie.

Daar is ook heelparty van ons wat heel goed gefunksioneer het met weggepakte trauma, maar die pandemie en die inperking laat ons dinge onthou en opgrou wat ons nie weer wou bekyk nie, maar nou moet.

En wat ek die hele tyd wil pleit, is . . . sela.

’n Mens neem nie besluite in die nag nie, jy wag dat die son opkom. Die pyn van moeilike situasies maak dat ’n mens net wil ontsnap, of baklei. Maar om goeie besluite te neem, moet jy jou hele brein gebruik, nie net die oer-ene wat wil vlug of veg of vries nie.

Wanneer ’n mens swaarkry, voel ’n minuut soms soos ’n ewigheid. Maar God het steeds vir jou tyd en ruimte gegun en hierdie minuut is joune. Miskien is dit goed genoeg om nie dadelik te besluit nie, om nie dadelik al die antwoorde te hê of oplossings te sien nie.

Miskien is die lied ’n klaaglied, of ’n verlangelied, of die ode van ’n gebroke hart, maar dit verdien dat jy stop en luister na die instrumentale tussenspele. ’n Goeie kitaarsolo dra nie lirieke nie, maar dit vul elke oomblik met emosie en kommunikeer gevoelens soms beter as wat woorde kan.

Selfs die Psalmdigters het geweet: Soms moet die sangers stilbly dat die musiek net vloei.

Sela. Jou emosionele welstand is belangrik. Praat met iemand – ’n geloofsleier, dokter of sielkundige – indien jy dit moeilik vind om te funksioneer.

Ds. Dercksen is van die NG kerk Bloubergstrand.

Meer oor:  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.