Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Puberfoendies van die Taal, wys jul staal!
Gerhard van Huyssteen

Daar hang ’n swanger spellinglug in die skole. Dis daardie tyd van die jaar wat al wat ’n landwye spellingkompetisie is einde se kant toe staan.

Die twee bekendste kompetisies is die Sanlam WOW-spelkompetisie en die ATKV se Spelathon.

En nou is daar nóg ’n geleentheid vir die jong taalfoendies om te wys dat dit ook finansieel lonend kan wees om iets van taal te weet.

Die nuwe seisoen van kyk-NET se taalspelprogram, Op die spel, gaan slegs hoërskooldeelnemers hê. In die vorige seisoen het woelwaters gewys dat hulle al te goed weet waar Dawid die wortels gegrawe het. Toe laat weet kykNET se mandataris: Maak ’n nuwe reeks met slegs kinders!

Aanvanklik het die vervaardiger, Homebrew Films (wat onder meer Kokkedoor, Koekedoor, Kokkedoortjie en nou ook Koekedoortjie vervaardig het), die net wyd gesprei: van laerskool tot universiteit.

Toe die inskrywings egter begin instroom, besef hulle dat die belangstelling té groot is; die 2018-reeks sal slegs uit hoër­skoolpubers bestaan.

Tot Vrydag 15 September het leerlinge nog die kans om in te skryf by opdiespel.tv. As ek nou ’n kannetjie was, het ek my daarheen gehaas, want die prysgeld is buitensporig aantreklik.

Per episode wat jy wen, sleep jy so ’n wanstaltige R10 000 die ateljee uit. En dis nou bo en behalwe die R5 000 wat jy as naaswenner per episode kan losspel, pryse vir jou skool, of al die ander HAT-woordeboeke en VivA-pryse wat jy kry deur bloot deel te neem.

Boonop staan ’n gr. 11- of 12-leerling die kans om met ’n Atterbury Trust-universiteitsbeurs ter waarde van R150 000 weg te stap!

En ekke? Arme ekke moet die vrae opstel . . .

Nou kyk, so goed soos wat die kinders kan spel, so aggressief-gramstorig is hul ouers. Onlangs was daar byvoorbeeld ’n fanatieke vader wat aangedring het dat “geevalueer” korrek is, want “die meeste mense skryf dit so”.

Maar rekenaars – soos mense – is ook maar feilbaar.

Hoe besluit ’n mens of ’n woord maklik, gemiddeld of moeilik is om te spel?

In die aanloop tot ’n navorsingsprojek aan die Noordwes-Universiteit het ek en kollega Martin Puttkammer vir vyf verskillende mense 303 woorde elk gegee om in een van bogenoemde drie kategorieë te klassifiseer.

Die ooreenstemming tussen hulle is skokkend laag (Fleiss se ??= 0.21): Wat die een dink maklik is om te spel, dink die ander een is moeilik. Laat die taak dus liewer oor aan ’n rekenaar.

Vervolgens kombineer ons verskeie masjienleeralgoritmes (waaronder sogenaamde perseptrons en ewekansigebesluitnemingswoude – daar’s nou ’n lekker een om te spel!) om ’n outomatiese klassifiseerder te maak wat die kluts hopelik beter kan klaar.

Op grond van 27 verskillende faktore vertel die komper vir ons dat “geelhoutboom” en “polisiemotor” (elk 12 letters lank) maklik is om te spel, “sportmanskap” en “Victoriaanse” gemiddeld is, en dat “kontinuïteit” en “geïntimideer” moeilik is. Lyk vir my #legit.

Maar rekenaars – soos mense – is ook maar feilbaar. Onse slimme klassifiseerder reken “obstinate” en “fotokopiëring” is báie maklik, terwyl “koolstof” en “barbaar” moeilik is.

Maar wie is ek nou om met die rekenaar te stry? Ten minste het ek ’n gefundeerde grondslag om my vraagkeuses te verantwoord. Nou maar hoop al die kort-van-draadtes stem saam . . .

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.