Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Willie Spies: Put inspirasie uit Spioenkop
Willie Spies

Ek het die laaste tyd diep onder die indruk gekom van ’n fatalisme onder baie Afrikanermense.

Die emigrasiekoors loop hoog. Dit is te verwagte. Die leefwêreld in Suid-Afrika het die afgelope drie jaar uiters giftig vir Afrikaners geraak.

Die histeriese haatreaksie teen die gr. R-juffrou van die Laerskool Schweizer-Reneke, Elana Barkhuizen, ná die neem van ’n klasfoto, was maar die jongste van ’n reeks venynige anti-Afrikaner-aanslae die laaste tyd.

Ek is al dikwels met die vraag gekonfronteer of al die hofstryde, aktivisme en organisasiewerk van instellings wat minderheidsregte wil beskerm, enigsins help.

Daar was al in die geskiedenis voorbeelde van moedelose mense wat in ’n stryd gewikkel was waar hulle totaal onseker was oor die vooruitsig op sukses. So ’n voorbeeld het toevallig vandag 119 jaar gelede op 24 Januarie 1900 afgespeel.

Die plek was Spioenkop, ’n entjie van die dorp Ladysmith in KwaZulu-Natal.

Die plek was Spioenkop, ’n entjie van die dorp Ladysmith in KwaZulu-Natal.

Die gebeure is treffend opgeteken deur Deneys Reitz, ’n latere prokureur, politikus en diplomaat, wat destyds slegs 17 jaar oud was en kort tevore nog op die skoolbanke van Grey Kollege in Bloemfontein gesit het.

Dit was die vroeë maande van die Anglo-Boereoorlog.

Reitz vertel hoe hy die oggend van 23 Januarie by die kommando’s aangesluit het ná kort verlof om by sy pa in Pretoria te gaan kuier. Die Britte was vasbeslote om deur die Boere se front­linie aan die Tugelarivier te breek. Duisende Britse troepe was uit die suide van Durban af in opmars na die Drakensberge om hul inval in die twee Boererepublieke te voltooi.

Spioenkop sou ’n belangrike strategiese punt wees wat deur die Britte verower moes word om die deurbraak in te lui. Teen die aand van 23 Januarie was dit duidelik dat die Britte reeds op die kop ingegrawe was en die inisiatief geneem het. Die nag het Reitz saam met sy tentmaats gaan slaap – sy broer en nog drie Pretorianers, Charles Jeppe, ene De Vos en ene Van Reinecke.

Die volgende dag het ’n geweldige skietgeveg uitgebreek.

Die volgende dag het ’n geweldige skietgeveg uitgebreek. Die 17-jarige Reitz moes aanskou hoe al drie sy tentmaats, Jeppe, De Vos en Van Reinecke, doodgeskiet word.

Hy skryf dat sy instinktiewe reaksie met die besef van soveel dood rondom en naby hom was om weg te loop. Maar die gedagte aan sy makkers wat vir hul land gesterf het, het hom geïnspireer om voort te gaan.

Die skietgeveg het die volle dag, tot ná sononder, geduur. Uitgeput, dors en hartseer het die Boeremagte na die onderkant van die kop teruggestrompel, vas oortuig dat hulle die veldslag verloor het weens die meer as 50 sterftes in hul geledere.

Maar die volgende oggend is hulle verras. Net ná sonop het hulle twee burgers van die bopunt van die kop hoor juig terwyl hulle hul hoede en gewere swaai. Die twee is die oggend vroeg teen die kop uit om iets te gaan soek wat hulle die vorige dag daar verloor het. Toe hulle bo kom, is hulle begroet met die verrassende werklikheid dat die Britse magte die aftog geblaas en onttrek het.

Die ongevalle aan Britse kant was veel groter as aan Boerekant, meer as 3 000. ’n Menslike tragedie vir die Britte, maar ’n klinkende oorwinning vir die Boere, wat vas geglo het hulle was besig om te verloor.

So het die Boere 119 jaar gelede ’n veldslag gewen wat hulle gedink het hulle verloor. Ons kan inspirasie daaruit put.

Hou aan stry, hou aan hoop en hou aan werk. Die oorwinning kom dikwels sonder dat ’n mens dit verwag!

Meer oor:  Willie Spies  |  Rassisme  |  Emigrasie  |  Inspirasie  |  Rassehaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.