Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Qholani-geval: Dit kán mos nie

Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde.

Hierdie waarheid bied waarskynlik min troos vir Bulelani Qholani, wat verlede week nakend voor die wêreld uit sy sinkgehuggie in Khayelitsha geruk en deur die dienders van die Kaapstad-metro rondgepluk is.

Jy hoef geen regskenner te wees om daardeur voor die bors gestuit te word nie. Die nare Kaapse tafereeltjie het soos ’n palimpses oor onlangse beelde uit Amerika kom lê. Wat gaan tog in die swaaiers van knuppels en die draers van uniforms se kop aan wanneer hulle die hef so wreed in die hand kry?

Die gedagte dat ’n mens se huis jou kasteel is, kom van oudsher af. Veral in hierdie vreemde tydsgewrig waarin ons almal ontheem en vervreem voel, maak die beeld van die huis ’n soveel sterker aanspraak op ons sin van ordentlikheid en geregtigheid.

Dalk nog meer so waar die huis klein en wankelrig is. Hoe minder beskutting dit bied – om van gemak of weelde nie eens te praat nie – hoe meer onheilig is dit om daardie onderdak te bedreig.

Wat presies die regsposisie met betrekking tot Qholani se sinkhuisie is, sal mettertyd uitkom.

Tog wil dit uit uitsprake van Dan Plato, burgemeester, blyk dat daar geen hofbevel was wat Qholani se uitsetting veroorloof het nie – ten minste nie in grendeltyd nie. (By die wyse van sy uitsetting kom ek nie eens uit nie.)

Ons het nie die Handves van Menseregte nodig om die beginsel te begrond dat amptenare nie sonder ’n hofbevel sommer net iemand se huis – hoe onregmatig die oprigting daarvan ook was – mag oopboender en platvee nie.

Al blink jou bors hóé van amptelikheid, jy mag nie die reg in eie hande neem nie.

Al blink jou bors hóé van amptelikheid, jy mag nie die reg in eie hande neem nie. Doen jy dit wel, geld die Latynse reël spoliatus ante omnia restituatur. Die persoon wie se besit van ’n saak ontneem is, moet allereers – voordat die reg of verkeerd van sodanige besitsverhouding beoordeel word – in besit herstel word.

Trouens, in ’n voetnoot in sy handboek Sakereg laat prof. C.G. van der Merwe, lank ’n legendariese figuur aan Maties se regsfakulteit, blyk dat die beginsel van onmiddellike besitsherstel inderwaarheid na die Middeleeuse kerkreg herlei kan word. Kortom, dit het die bekleërs van kerklike ampte, soos biskoppe, teen konkurrente met aggressiewe elmboë beskerm. (Sulke ampte het immers telkens met ’n stewige stuk besoldiging gepaardgegaan.)

En daar was inderdaad iets domineeagtigs – in die beste sin van die woord – aan regter Marius Diemont toe hy in die laat 1970’s in sy bekende uitspraak in die Kaapse hooggeregshof in Fredericks and Another v Stellenbosch Divisional Council bevind het dat die mandament van spolie – die regsremedie waaroor besitsontneemdes beskik – die Fredericks-egpaar sou beskerm.

Op Valentynsdag, nogal, het die Fredericks-egpaar die deur op hul plakkershuisie in Kraaifontein toegetrek en hul skrede werk toe gewend. By hul terugkeer daardie aand is hul huis ’n blote herinnering – die Stellenbosse afdelingsraad het korte mette daarvan gemaak. Die raad se regstegnies korrekte maar siniese verweer was: “Ai, ons het die sinkplate en dies meer weggegooi. Ons kan die besitsverhouding wat bestaan het, nie herstel nie.”

Eeue se boeke ten spyt, wou Diemont niks weet nie. As die oorspronklike sinkplate weggedoen of onherroeplik deur ’n stootskraper vermink is, kan ’n mens mos sinkplate van ’n soortgelyke gehalte kry en die Fredericks-huisie in ere herstel.

Al is hierdie vernuwing in ons nuwe bestel op grondwetlike voete gesit, het Diemont toe al die renons gevoel wat die Qholani-geval in ordentlike mense wakker maak: “Dit kán mos net nie.”

  • Meiring is ’n Gautengse regsgeleerde.
Meer oor:  Bulelani Qholani  |  Jean Meiring  |  Mag  |  Mening  |  Demokrasie  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.