Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ramaphosa kan Mandela só eer
Rapule Tabane

Die viering van Nelson Mandela se 100ste verjaardag lyk na ’n ritueel vir baie Suid-Afrikaners wat geïrriteerd voel omdat alles op dié dag tot stilstand moet kom. Ek voel ook soms so.

Maar dit is ’n goeie dag. Dit vereis nie van ons om iets te doen nie, net om na te dink oor Mandela se waardes en of ons dit steeds huldig. Dis die minste wat ons kan doen. Help ons arm mense? Glo ons nog in versoening? Leef ons hierdie waardes uit? Ek dink dit is nodig dat ons jaarliks hieroor dink.

Dis wel ’n narigheid om te sien hoe van ons swakste politici verhoë bestyg om Mandela se lof te besing, terwyl hulle presies die teenoorgestelde verteenwoordig as dít waarvoor hy gestaan het.

Ek het vanjaar se Nelson Mandela-gedenklesing geniet. Dit het my geraak om te sien hoeveel Suid-Afrikaners van verskillende rasse geduldig in lang toue by die Wanderers-krieketstadion wag om na oudpres. Barack Obama van die VSA te luister.

Die toespraak het nie die voorspelbare kritiek op swak politici behels nie. Dit was een aspek, maar hy het ons álmal se gewete getoets – in pas met Mandela se waardes. Hy het ons herinner dat ons – selfs al is ons nie ryk nie en kan ons net die basiese bekostig – nie diegene moet vergeet wat niks het nie.

Jy hoef jouself nie te verbind tot ’n lewe van armoede om ander te help nie.
Barack Obama

“Jy kan net soveel eet. Jou huis kan ook net so groot wees. Daar is net soveel lekker reise waarop jy kan gaan. Ek bedoel, dis genóég. Jy hoef jouself nie te verbind tot ’n lewe van armoede om ander te help nie. Jy moet net sê laat ek daardie kind help wat nie genoeg kos het nie of skoolgeld benodig. Ek sal so ’n bietjie meer belasting betaal. Dis oukei. Ek kan dit bekostig,” het Obama gesê.

Ons moes dit hoor. Baie mense woon hierdie geleenthede by omdat hulle hoop korrupte politici word sleggesê – en dit is ál wat ons wil hoor. Ons verwag die lesings moet ons goed laat voel oor onsself en ons frustrasies bevestig oor onbevoegde staatsamptenare en die vermorsing van staatshulpbronne.

Hierdie kwessies is kritiek, maar soms is daar iets wat ons álmal moet hoor. Ons kan nie altyd derde partye vir ons situasie blameer nie.

Die een interessante dinamika was hoe die oomblik pres. Cyril Ramaphosa se politieke posisie bekragtig het. Hy was uit die staanspoor gewild, maar is die laaste tyd op die agtervoet weens die stygings in BTW en die brandstofprys. ’n Ipsos-peiling wys die ANC se gewildheid neem toe danksy Ramaphosa, terwyl die DA en die EFF se steun taan. Tog is daar talle binne die ANC wat steeds nie van Ramaphosa hou nie.

Ek kon sien hoe Ramaphosa gloei van blydskap.

Maar Ramaphosa was geliefd by die 14 000 mense wat die Mandela-lesing bygewoon het en hulle het selfs vir hom gesing. Obama het dit ook beaam. “Jy kan sien pres. Ramaphosa gee sy mense hoop,” het hy gesê. Ek kon sien hoe Ramaphosa gloei van blydskap.

Hy voel geroepe deur Mandela om Suid-Afrika te lei, maar dan moet hy bereid wees om sommige van Mandela se eienskappe uit te leef. Madiba was nie bang om besluite te neem nie.

Toe oudpres. Bill Clinton van Amerika hierheen kom en Mandela en die ANC gekritiseer het weens hul steun aan Moeammar Ghaddafi en Fidel Castro, het hy hom in sy peetjie gestuur. Toe baie mense in die ANC wou hê Mandela moet weens apartheid sterker standpunt teen wit mense inneem, het hy Hendrik Verwoerd se weduwee onthaal en in ’n gees van versoening uitgereik na wit mense.

Hy was bereid om ongewilde besluite te neem omdat hy geweet het hy was reg. Ramaphosa is nog net ’n rukkie president, maar dit lyk of hy almal probeer tevrede te stel. Dit gaan nie werk nie. Hy moet sy instink vertrou en optree in landsbelang. Dit sal die beste manier wees waarop hy Mandela kan eer.

Tabana is City Press se politieke redakteur.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Mandeladag  |  Mening  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.