Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ramaphosa keer vir ANC en SA paaltjies
Barnard Beukman

Dit was op die sigbare oppervlak en gemeet aan verklarings en toesprake ’n stillerige week vir pres. Cyril Ramaphosa. Maar in sy organisasie en land kook dit plek-plek.

Moontlik sou hy gehoop het dat die dood van Winnie Madikizela-Mandela, een van die ANC se groot helde, kon help met sy poging om groter eenheid (lees persoonlike magskonsolidasie) in die ANC te kry.

Maar helaas, gou-gou het dit ook ’n twisgeleentheid geword, met Trevor Manuel, wat reeds einde verlede week vir Ace

Magashule, ANC-sekretaris-generaal en voormalige Vrystaatse premier, ’n openbare dwarsklap gegee het. Dít oor die geld vir die skep van ’n museum in Madikizela-Mandela se ballingskapshuis in Brandfort, wat spoorloos verdwyn het. Om net een voorbeeld te noem.

Verder het oorlede Winnie se week van rou ’n mededingende spogparade geword oor wie wat wanneer vir haar gedoen het – van Patricia de Lille, wat ’n hotelkamer op ’n kongres aan haar afgestaan het, tot Bantu Holomisa, wat borgtog uit sy eie sak vir haar betaal het.

Ramaphosa, wat self by tye aan die gedenkgeleenthede deelneem, moes ook berigte lees dat oudpres. Jacob Zuma, sy voorganger, en die ANC in KwaZulu-Natal besig is om hom te ondermyn en uiteindelik wil ontsetel.

Ramaphosa wou juis die “gewonde dier”-scenario van oudpres. Thabo Mbeki se ontseteling voorkom deur Zuma steeds beweegruimte en warmte in die ANC te gun.

Dit wil voorkom of Zuma nog ’n redelike kwota rasieleiers in die ANC-gange het.

Moontlik het dit daartoe bygedra dat Ramaphosa en kie ’n vroeër verkiesing oorweeg, as gerugte in die organisasie se eie parlementêre geledere waar is.

Bronne meen dis meer realisties om die verkiesing eerder in Mei 2019 te verwag.

Ontkennings dat dit reeds vir vanjaar oorweeg word, is nie juis gehelp nie deurdat die parlement vir ’n ongewone lang reses verdaag het.

Bronne meen dis meer realisties om die verkiesing eerder in Mei 2019 te verwag.

Maar ’n verkiesing gaan Ramaphosa se interne magskonsolidasie net aanhelp indien hy sy ondersteuners goed geplaas kry op kandidatelyste en die reste van die Zuma-faksie kan afskud.

Die volgehoue hardnekkige teenwoordigheid van Zuma-meelopers in die staatstrukture het vandeesweek in die ope uitgebars met dr. Setlhomamaru Dintwe, die land se inspekteur-generaal vir intelligensie wat ’n hofaansoek ingedien het dat die roemlose Arthur Fraser, die land se intelligensiehoof, moet ophou om in sy ondersoeke in te meng.

Het Ramaphosa enige kans om ook sy ander strewe te bereik, om die land te verenig? Of is die voortdurende politieke opstoking (die EFF oor grond) en selfsugtige belange van beroepspolitici besig om die oorhand te kry?

Selfs in Afrikaanse geledere is dit eerder die punte van die ideologiese hoefyster wat die hardste geraas maak. Dit is

asof daar oral kragte los is wat Suid-Afrika wil dryf na die scenario van skaakmat tussen Israel en die Palestynse gebied.

Daar kan nie meer ’n sentimeter in enige rigting beweeg word nie en die polarisasie en geweld neem daagliks toe.

Indien daar wel nog ’n welmenende meerderheid oor alle grense heen is wat glo aan ’n nuwe begin met sinvolle kompromie – al is dit by tye erg ongemaklik – gaan hulle vir eens uit hul winterslaap moet ontwaak en van hulle laat hoor.

Ramaphosa, vir een, gaan dit kort om te oorleef.

Beukman is Beeld se redakteur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.