Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ramaphosa kry ’n skoot Bybelse realisme

Dit is verblydend om te sien dat die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke nie doekies omdraai oor die dood van Nathaniel Julies nie, skryf Nico Botha.

’n Muurskildery van Nathaniel Julies in Eldeoradopark. Foto: Gallo Images

Te oordeel aan die baie sterk verklaring van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke wat op 2 September uitgereik is, lyk dit asof die profetiese kerk ’n bietjie tot verhaal gekom het.

Dié verklaring word pertinent aan pres. Cyril Ramaphosa gerig namens die godsdienstige sektor in die land.

Dit is plek-plek ’n sterk bewoorde verklaring en enkele elemente daarin word hier by wyse van kritiese kanttekeninge aan die orde gestel.

Sedert die dae van PW Botha is ’n mens nooit seker of ’n uitnodiging van die president daarop gerig is om die vinger voor godsdienstiges en kerkleiers se neuse te swaai of om na goeie raad of selfs ’n bietjie wysheid te luister nie.

Die aanhef van die verklaring is ’n verwysing na die tragiese skietdood van die 16-jarige Nathaniel Julies, wat downsindroom gehad het, in Eldoradopark. Ouers met kinders wat dit moeilik het in die lewe omdat hulle deur hierdie sindroom, outisme of deur iets soortgelyks uitgedaag word, sou met afgryse van Nathaniel se dood kennis geneem het.

Nico Botha

’n Uiters verblydende element in die verklaring is die feit dat daar nie doekies omgedraai word nie – die beskuldiging dat Nathaniel deur ’n “amptelike koeël van die staat” getref is, word by die president se adres afgelewer.

Daar word ook gewag gemaak van die uitwerking van die voorval op ’n gemeenskap wat met verslaenheid getref is. Die neiging onder die veiligheidsmagte om mense soos vyande te benader en steeds ’n “skop, skiet en donner”-benadering te volg, word sterk veroordeel in die verklaring.

Die verklaring praat egter nie net profeties en reguit met die president nie, maar betoon ook ’n priesterlike bewoënheid teenoor mense.

In solidariteit met geestelikes uit Eldoradopark en die inwoners word ’n sterk teks uit 2 Korinthiërs 4:8-10 aangehaal:

“Op elke manier word ons onder druk geplaas, maar ons is nie verpletter nie; ons is verward, maar nie wanhopig nie; ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; platgeslaan, maar nie vernietig nie. Ons dra altyd die sterwe van Jesus in ons liggaam saam sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.”

Dis daai soort Bybelse realisme wat in die teks tot uitdrukking kom.

Die ambivalente aard van die lewe aan die een kant neergeworpe met verwarring en vervolging, maar aan die ander kant nie verbrysel nie, nie tot wanhoop gedryf nie, nie verlate nie en nie vernietig nie.

Baie keer is dít al hoop wat mense het: Dat hulle leer om met kompleksiteit en ambivalensie saam te lewe.

Die verklaring trek ook te velde teen die indruk wat ontstaan dat die kerke en geloofsinstansies op 'n diskriminerende wyse hanteer word met die maatreëls vir die staat van inperking. Die verklaring stel dit nie uitdruklik so nie, maar die afleiding kan gemaak word dat die protes van die godsdienstige gemeenskappe geplaas word teenoor die heropening van die ekonomie.

Op 'n onuitgesproke manier is die heropening van die ekonomie terwyl die kerkdeure  half geslote moet bly, niks anders as om te sê dat die mens van brood alleen kan lewe. Natuurlik kan ons nie sonder brood lewe nie, maar daar is ook nog ander voedingstowwe nodig om 'n gesonde, gebalanseerde lewe te waarborg.

Die neiging tot eendimensionaliteit is lewensgevaarlik. Die verklaring opper 'n interessante argument teen die beperking van 50 mense op 'n slag in 'n kerk. Daar word eerder gepleit vir `n persentasie-benadering sodat kerke wat byvoorbeeld die infrastruktuur en kapasiteit het om op 'n veilige manier meer kerkgangers te huisves, toestemming daarvoor moet kry.

Maar miskien is die verblydenste aspek van die verklaring die sterkbewoorde kritiek teen die korrupsie wat met Covid-19 en die staat van inperking toegeneem het.

Woorde soos skok, verontwaardiging, ongeloof, diabolies en veragtelik in die aangesig van die “skemas van die donkerte” kom op 'n radikale wyse in die verklaring voor. Daar word met die Wêreldgesondheidsorganisasie saamgestem dat hierdie dade van korrupsie op moord neerkom.

Daarom vra die Raad van Kerke namens die godsdiensektor dat skuldiges minstens van strafbare manslag aangekla moet word. Die gevaarlike patologie van vraatsug waar niks en niemand in ag geneem word nie word ontmasker en veroordeel. In dié  konteks  word die agteruitgang in morele waardes betreur.

Sonder aansiens des persoons word daar nie op 'n seletiewe manier kritiek gelewer nie, maar die privaatsektor, besighede en die regering word onder die loep geneem. Die verklaring bevat daarom ook 'n sterk oproep vir die herlewing van openbare etiese waardes met die oog op die vestiging van 'n morele samelewing.

Die benadering dat enigiets aanvaarbaar is solank dit net tot selfverryking lei, word sterk bestry in die verklaring.

Net nog twee kritiese opmerkings. Eerstens laat die verklaring tog die vraag ontstaan of die beweging na binne en die padgee uit die openbare arena uiteindelik nou iets van die verlede is. Die hoop beskaam nie.

Tweedens, hierdie terugkeer of hertoetrede tot die openbare lewe in die gestalte van 'n sterk profetiese deelname kan slegs geloofwaardig wees as dit nie weer net by woorde en verklarings bly nie, maar op grond van volgehoue mobilisering en druk deurgevoer word.  

* Botha is emeritusprofessor in teologie aan die Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

* Die rubriek is aangepas sedert dit die eerste keer gepubliseer is.

Meer oor:  Nico Botha  |  Pw Botha  |  Cyril Ramaphosa  |  Nathaniel Julies  |  Eldoradopark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.