Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ramaphosa moet die land nou eerste stel
Philda Essop

’n Jaar gelede met sy eerste staatsrede het pres. Cyril Ramaphosa die Nasionale Vergadering en die publiek aan sy voete gehad met sy inspirerende toespraak waarin hy ’n nuwe dagbreek vir Suid-Afrika belowe het.

Nuwe optimisme het ná sy toespraak posgevat. Ná die neerdrukkende bykans twee termyne onder die leierskap van oudpres. Jacob Zuma was die nuwe hoop wat Ramaphosa se toespraak ingehou het net die regte medisyne.

Laat ons egter weer na die 2018-staatsrede kyk.

Dit is deur dae van middernagtelike, versigtige en spanningsvolle politieke onderhandelings agter die ANC-skerms voorafgegaan. Rama­phosa is skaars twee maande tevore tot ANC-president verkies. Zuma was in daardie stadium steeds die staatshoof en was geskeduleer om die staatsrede op 8 Februarie te lewer. Daar was egter druk van binne die ANC dat hy nie die toespraak lewer nie en as staatshoof uittree om die twee magsentrums te neutraliseer.

Vir die eerste keer in die demokrasie moes die staatsrede – te midde van dié intense onderhandelings – uitgestel word. Zuma het uiteindelik amptelik op Valentynsdag bedank, waarna Ramaphosa as staatshoof ingehuldig is.

In plaas van Zuma was dit dus Ramaphosa wat die podium op 16 Februarie vir die gesamentlike parlementêre sitting bestyg het.

Eerskomende Donderdag het Ramaphosa ’n tweede kans om sy visie vir die land uit te spel.

’n Jaar later – ná verskeie berade om onder meer werk te skep en beleggings in die land aan te moedig, die hersiening van die grootte van die staatsdiens, fokus op misdaad, groter omsigtigheid in die aanstel van die direksies van staatsondernemings – is daardie optimisme egter aan die taan.

’n Groot pluspunt vir Ramaphosa – hoewel dit deur Zuma aangekondig is – is die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Vir die eerste keer kry ons ’n blik tot die mate waartoe die land in die greep van staatskaping vasgevang is. Die kommissie breek staatskaping in verteerbare hoofstukke af wat ’n geheelbeeld bied van hoe diep korrupsie gestrek het. Die onthullings rondom die dienstemaatskappy, Bosasa, wat sy naam na African Global Operations verander het, het mense regop laat sit en besef dat staatskaping nie net tot die Guptas beperk was nie.

Eerskomende Donderdag het Ramaphosa ’n tweede kans om sy visie vir die land uit te spel.

Dis ’n verkiesingsjaar, wat beteken dat daar ’n tweede staatsrede ná die verkiesing sal wees. Daarom dink ek nie Ramaphosa gaan veel nuwe planne aankondig nie.

Kwessies wat hy egter móét aanraak, is hoe hy werkgeleenthede gaan skep om die ekonomie weer aan die gang te kry.

Wat gaan hy met die sukkelende staatsentiteite – spesifiek Eskom – doen?

Wat gaan hy met die sukkelende staatsentiteite – spesifiek Eskom – doen?

Nersa is tans besig met openbare sittings oor ’n aansoek deur Eskom vir ’n 15%-tariefverhoging, wat nie net die algemene publiek nie, maar ook ondernemings se sakke erg gaan ruk.

Dan is daar die netelige grondkwessie. Ramaphosa moet vir die nasie sê wat die regering se planne is en of Julius Malema, EFF-leier, reg is as hy sê die ANC soek ’n manier uit grondonteiening sonder vergoeding en dat die party nie werklik daartoe verbind is nie.

Beleidsonsekerheid is nadelig vir beleggersvertroue en ’n oplossing is nodig wat almal sal baat.

Benewens verskeie ander kwessies, waaronder die ekonomie, misdaad en die gesondheidstelsel, moet Ramaphosa planne aankondig om die onderwysstelsel daadwerklik te takel en ontslae te raak van wat in wese twee onderwysstelsels is.

Watter planne hy ook al het en wil aankondig, kan sterk beïnvloed word deur die interne ANC-faksies. Hy moet egter kophou en die land eerste stel.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Philda Essop  |  Staatsrede 2019  |  Presidentskap  |  Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.