Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ramaphosa moet nóú die brander ry of . . .
Janet Heard

Meer as ’n jaar gelede het ek ’n bondgenoot van Cyril Ramaphosa gevra hoe die adjunkpresident met sy stilte oor die oneerbare optrede van pres. Jacob Zuma kan saamleef, asook wanneer hy oop kaarte oor sy eie presiden­siële aspirasies gaan speel.

Tydsberekening is alles in die politiek, en geduld is nodig, was die antwoord.

Hy het Ramaphosa se strewe só beskryf: “Cyril hoef nie die eerste brander te ry wat na sy kant kom nie, of selfs die volgende een nie. Daar sal nog een wees.”

’n Groot brander het op 31 Maart verlede jaar ingerol nadat die konstitusionele hof Zuma geroskam het omdat hy geweier het om verantwoordelikheid vir opknappings by Nkandla te aanvaar. Maar Ramaphosa het steeds gewag.

Daarna het hy toegekyk hoe die een brander ná die ander by hom verbyrol. In onderdanige stilte het hy Zuma selfs in die parlement verbaal verdedig. Hy het voorts die res van die ANC-koukus gehelp om verskeie wantrouemosies te stuit.

Ramaphosa het verlede week uiteindelik getoon hy het wel ruggraat. Hy het Zuma in die openbaar geroskam weens sy “onaanvaarbare” besluit om Pravin Gordhan te pos, en hy het ’n beroep op landsburgers gedoen om van “gulsige, korrupte mense” ontslae te raak.

Ramaphosa het verlede week uiteindelik getoon hy het wel ruggraat.

Ramaphosa se reguit woorde is geprys deur een van sy felste kritici, die EFF-leier, Julius Malema. Die adjunkpresident het die eerste keer sin kwytgeraak, het Malema gesê.

“Ons moet hom aanmoedig om op daardie manier te groei. As hy president van die land wil word, moet hy homself meer oor hierdie kleptokrasie uitlaat. Hy moet veg,” het Malema gesê.

Maar Ramaphosa se robuustheid was van korte duur. Hy het die aftog geblaas nadat Zuma hom klaarblyklik die kop gewas het.

Waar laat dit die adjunkpresident?

Joel Netshitenzhe, ’n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, het verlede week gewaarsku dat ’n individu “nie net die ANC se belange nie, maar ook die gemeenskap s’n vertrap”. Volgens hom kan die ANC in 2019 die verkiesing verloor, en hy het voorgestel die party heropen die debat oor die terugroeping van Zuma en “doen ’n beroep om ’n omkeer van die flagrantste van die onlangse kabinetskuiwe”.

As hierdie pogings misluk, het hy gesê, sal die ANC dit dalk moet oorweeg om LP’s toe te laat om in ’n wantrouedebat ooreenkomstig hul gewete te stem, ongeag hoe ongemaklik dit gaan wees.

Daar is ’n soeke na alternatiewe leierskap om die land van politieke en ekonomiese onrus te red.

Daar is ’n vloedgolf van mobilisering teen Zuma; sommige noem dit ’n tsoenami.

Gordhan en ander vra aksie, en die adjunkminister van openbare werke, Jeremy Cronin, het in sy hoedanigheid as adjunk-sekretaris-generaal van die SAKP Zuma se kop geëis.

Die toestande is ideaal vir Ramaphosa om die brander te vang, maar minder as nege maande voor die ANC se verkiesingskonferensie loop die tyd vir hom uit.

As hy huiwer, loop hy gevaar om skouspelagtig afgeslaan te word en dat ’n meer entoesiastiese kandidaat sy brander vang.

Meer oor:  Ramaphosa  |  Politiek  |  Zuma  |  Oorlewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.