Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ramaphosa op verkeerde tyd AU se voorsitter

Pres. Cyril Ramaphosa se voorsitterskap van die Afrika-unie (AU) kom op die verkeerde tyd. Hy het soveel hooi op sy vurk dat die konflik in Libië beslis nie sy volle aandag gaan kry nie, skryf Liesl Louw-Vaudran.

Pres. Cyril Ramaphosa herdenk Dinsdag oudpres. Nelson Mandela se vrylating 30 jaar gelede. Foto: Jaco Marais

Pres. Cyril Ramaphosa is ’n man met ’n skerp humorsin. ’n Paar dae gelede het hy afgevaardigdes op die 33ste beraad van die Afrika-unie (AU) in Addis Abeba onkant betrap toe hy op die podium verskyn het om die voorsitterskap van dié organisasie oor te neem.

Sy voorganger, pres. Abdel Fattah al-Sissi van Egipte, het met hom blad geskud en toe gaan sit.

Ramaphosa het na sy gehoor van staatshoofde, ministers en gaste soos António Gutteres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, gekyk en gesê: “Wel, my eerste taak as voorsitter is nou om Cyril Ramaphosa na vore te roep sodat hy sy aanvaardingstoespraak kan maak.”

Daar was ’n oomblik van verwarring in die saal en toe lag almal verlig. Nee die Suid-Afrikaanse president is nie kens nie, hy maak ’n grappie.

Ná ’n oomblik van stilte het Ramaphosa met ’n glimlag sy toespraak begin: “Dames en here, ek staan voor u met dankbaarheid vir die groot eer wat aan Suid-Afrika betoon is. Namens die mans en vroue van Suid-Afrika aanvaar ek jul gesamentlike besluit dat ek die voorsitter van die AU moet word vir 2020.”

Die president se lysie is baie lank. Daar is soveel om te doen.

Ramaphosa het daarna met erns gepraat oor Suid-Afrika se prioriteite vir die AU in die jaar wat voorlê. Boaan die lys is die kontinentale vrye handelsooreenkoms wat baie belofte inhou. Suid-Afrika sal in 2020 ’n sleutelrol speel om te sorg dat die uitstaande onderhandelinge oor die ooreenkoms afgehandel word, om industrialisering van Afrikalande te bevorder en om te sorg dat infrastruktuur gebou gaan word sodat ekonomiese integrasie in Afrika werklik kan posvat.

Suid-Afrika sal ook in 2020 probeer om die jarelange konflikte in Afrika op te los. In plekke soos Libië en Suid-Soedan sal Suid-Afrika konkrete stappe doen om toe te sien dat die oorloë stopgesit word.

Suid-Afrika sal ook vroueregte bevorder en seker maak dat Afrika-regerings kwotas instel vir ondernemings wat deur vroue bestuur word. Ramaphosa sal ook streef na meer gelykheid vir vroue in die politiek en in parlemente, sê hy.

Die president se lysie is baie lank. Daar is soveel om te doen.

Terwyl ek op die balkon van die Nelson Mandela-saal na hom luister, wens ek daar is regtig twee Cyril Ramaphosas: een wat al hierdie verantwoordelikhede vir Afrika op sy skouers kan dra en ’n ander, tweede een wat Suid-Afrika se baie interne probleme kan takel.

Die tweede Ramaphosa het Dinsdag in die vroeë oggendure huis toe gejaag om voor te berei vir sy staatsrede. Dis onduidelik wanneer Addis Abeba hom weer sal sien.

Voorspoedige Afrika in almal se belang

Liesl Louw-Vaudran

Afrika se probleme is legio, maar daar is ook volop geleenthede vir Suid-Afrika om ’n verskil te maak. ’n Vreedsame en voorspoedige Afrika is in almal se belang.

Suid-Afrika is een van die min lande op die vasteland wat regtig die kapasiteit het om ’n impak te hê op ’n organisasie soos die AU, wat maar sukkel om aan al die vereistes van ’n Pan-Afrika instelling te voldoen.

Suid-Afrika het ook ’n groot aantal gesoute diplomate wat die AU baie goed ken en wat raad kan gee oor al die dinge wat die organisasie nodig het om meer doeltreffend te funksioneer.

In die wandelgange by die AU het Ramaphosa byvoorbeeld met oudpres. Thabo Mbeki gesels. Ondanks al sy foute, het Mbeki wye kennis van Afrika en is steeds betrokke by konflikte soos dié in Soedan en Suid-Soedan. Hy kan vir Ramaphosa waardevolle raad gee.

Maar om ’n suksesvolle voorsitter van die AU te wees moet Suid-Afrika se amptenare – en die voorsitter van die AU vir 2020 – die tyd, energie en toewyding hê om ’n verskil te wil maak.

En hieroor is daar minder sekerheid.

Ramaphosa se voorsitterskap van die AU kom op die verkeerde tyd. Hy het soveel hooi op sy vurk dat die konflik in Libië beslis nie sy volle aandag gaan kry nie. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, en haar span sal maar moet bontstaan om al die take te vervul, want Suid-Afrika kan nie die voorsitterstoel leeg laat nie.

Vir die volgende jaar, tot die volgende AU-beraad in Februarie 2021 is Suid-Afrika nie net aan die stuur van die AU nie, maar moet ook die vasteland op internasionale vlak verteenwoordig.

Ramaphosa II, staan op asseblief, ons het jou nodig.

* Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Afrika-Unie  |  Cyril Ramaphosa  |  Thabo Mbeki  |  Naledi Pandor  |  Abdel Fattah Al-Sissi  |  Libië  |  Addis Abeba  |  Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.