Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Ramasprokie’ ná Ramaforie?

As Dawie moedswillig wou wees, sou hy ná die staatsrede gesê het Ramaforie het dalk nou vir ’n “Ramasprokie” plek gemaak. Maar al het pres. Cyril Ramaphosa die wenkbroue laat lig met sy droom van ’n slimstad en ’n sneltrein terwyl ons nog sukkel om Eskom te red, gaan Dawie hom nog die voordeel van die twyfel gee.

Ná die nagmerrie van die Zuma-bewind, moet Suid-Afrikaners hulself toelaat om groot te dróóm. Of daardie groot droom ’n slimstad en ’n sneltrein moet behels, is egter ’n ander vraag.

Dawie

Miskien probeer hy Suid-Afrikaners skaar agter ’n groot nasionale doelwit, soos John F. Kennedy met die maanlanding gedoen het. Maar nogmaals, om Eskom te red, ís byna ’n maanlanding.

Die belangrikste aspek van die toespraak is die wyse waarop Ramaphosa nuwe lewe in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) geblaas het.

Ons moenie vergeet waar ons vandaan kom nie, want sedert die weldeurdagte NOP onder leiding van Ramaphosa en Trevor Manuel gestalte gekry het, het Jacob Zuma self bra langtand daaraan gebyt.

Besmoontlik omdat die plan deur breë oorleg in die samelewing gestalte gekry het, en nie in die donker raadskamers in Luthuli-huis nie, was Nommer Een se voorkeur nog deurentyd by skuldverplasing met temas soos “die tweede fase van die revolusie” of die sagter weergawe in die gedaante van “die tweede fase van oorgang”.

Die jongste inkarnasie hiervan was natuurlik “radikale ekonomiese transformasie”, wat eerder as “radikale ekonomiese sabotasie” moet bekend staan. Dié idees is helaas nog baie gewild onder die Ace Magashules van die wêreld.

Ramaphosa is in die kol as hy sê die tyd vir praat is verby en dat die uurglas leegloop om die NOP tot uitvoering te bring. Tog is daar twee vername leemtes in sy toespraak.

Die eerste is die sewe hoofpunte waarop sy administrasie hom in die komende vyf jaar sal toespits.

Sy voorganger se staatsredes was ’n tragiese verhaal van die een verlore geleentheid ná die ander. Mag Ramaphosa dié patroon nog verder omkeer.

Om van die een driepuntkrisisplan na die volgende vyfpunt- of negepuntplan te strompel gaan niks aan ons heil verander nie. Wat wel sal help, is om weg te kom van die vae versugtinge van die sogenaamde sewepuntplan en eerder bestendige bestuur aan die dag te lê. Wýs die buitewêreld dat die regering ernstig oor die inwerkingstelling van die NOP met duidelike tydsraamwerke is.

Die tweede leemte is sy verwysing na ongewilde besluite wat geneem moet word, sonder om enige verdere inhoud hieraan te gee. Sekerlik het dié besluite al in Ramaphosa se gedagtes vorm aangeneem. Maar hoekom neem hy ons nie in sy vertroue oor presies wat die besluite behels nie?

Beteken dit dat die regering uiteindelik die moed van die oortuiging aan die dag gaan lê om sy stiksienige arbeidswetgewing te verander? Of beteken dit eerder dat hy op groot skaal landbougrond sonder vergoeding gaan onteien? Beteken dit dat Ramaphosa die vakbond Sadou se vernietigende greep op die onderwys gaan breek? Of beteken dit dat hy ’n welvaartsbelasting gaan instel?

Hierdie leemtes ten spyt, wat Rama­phosa wel kan aanspreek in sy repliek op die staatsrede-debat, was Dawie eergisteraand opnuut dankbaar dat ons nóg ’n stotterende aflees van ’n staatsrede deur Zuma gespaar gebly het.

Ramaphosa kan hom in woord en daad nog verder onderskei van die regeerstyl wat in sy eie woorde op “nege verlore jare” uitgeloop het.

Dít is om in die algemeen vorendag te kom met ’n nog duideliker programmatiese plan van aksie met meetbare doelwitte en ’n duidelike tydlyn om dié verlore tyd te begin inhaal.

Sy voorganger se staatsredes was ’n tragiese verhaal van die een verlore geleentheid ná die ander. Mag Ramaphosa dié patroon nog verder omkeer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.