Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rampe onthuts en sleur mee
Gert Coetzee

Die voorbladfoto van die oorstroomde Dachello-boerdery buite Bultfontein tref diep.

Vir Volksblad-lesers, vir wie die belange van ons streek na aan die hart lê, is dit na aan tuis. Die Bultfonteiners, Hoopstadters en Heilbronners, asook die verre Noord-Kapenaars, wat deurloop, dié keer deur te veel water, is eie mense.

Dit herinner aan 1988 se vloed toe Bloemfontein en Vrystaatse dorpe van die buitewêreld afgesny is en groot vloedskade aangerig is ook op die walle van die Vaalrivier en selfs die Benede-Oranjerivier soos die watermassa heelpad see toe verbygedonder het.

Een koerantfoto daardie jaar het gewys hoe mans halflyf in die water in ’n kroeg in Douglas staan en kuier.

In daardie jaar het Bloemfontein in Februarie 491,1 mm reën gekry – waarvan 310 mm net op 21 Februarie 1988 geval het, het ons gister uit die argiewe berig.

Menslike drama is ’n onontbeerlike deel van nuus omdat ander se lotgevalle vanuit ’n menslike hoek onthuts en meesleur.

Menslike drama is ’n onontbeerlike deel van nuus omdat ander se lotgevalle vanuit ’n menslike hoek onthuts en meesleur. In 1880 al was Reuters se instruksie aan joernaliste: fokus op brande, ontploffings, vloede, ongelukke, verwoestende storms, skeepsrampe, betogings, stakings en sterftes van watter aard ook al. Waar rampe gebeur, sal daar verslaggewers wees.

Ook in ons sentrale streek. Bykans ’n eeu gelede is berig oor die ontploffing van ’n trein met 312 ton dinamiet in 1932 naby Leeudoringstad. Vyf mense is gedood. Die Volksblad het dieselfde dag ’n verslaggewer per vliegtuig na die ramptoneel gestuur. Dit was die eerste nuusinsameling per vliegtuig.

Die vlug met die Westland Widgeon was vir die verslaggewer so ’n prestasie dat hy die inleiding en 33 paragrawe van die hoofberig daaraan gewy het.

In later jare loop veral die Goudvelde deur. In 1975 het ’n aardbewing van 4,5 op die Richterskaal Welkom vyf sekondes lank laat skud. Tempesthof, ’n woonstelblok van ses verdiepings, het soos ’n konsertina ingevou. Sonder lewensverlies; iemand het ’n motor pas onder die gebou weggetrek, toe val dit.

Sewentien mense sterf in ’n moddergraf en honderde huise is platgevee en honderde beskadig.

Die doodsangs is ondenkbaar van 62 mynwerkers wat gesterf het toe ’n metaangas-ontploffing in 1987 ’n staalhysbak in die skag van die St. Helena-goudmyn na benede laat tuimel het. Het hulle besef hulle gaan die bodem tref?

In 1990 het ’n tornado Welkom getref en veral huise in Flamingopark en Riebeeckstad verwoes. Soos met Tempesthof is dit ’n wonderwerk dat niemand dood is nie.

Dit was nie die geval in 1994 nie toe ’n slikdam se wal by Merriespruit, Virginia, meegee en inwoners in die nag in hul huise deur die kruipende modder oorval is. Sewentien mense sterf in ’n moddergraf en honderde huise is platgevee en honderde beskadig. In 1988 sterf 24 mense toe ’n Douglas DC-3C-vliegtuig in die nag ná perdewedrenne vroeër in Bloemfontein in ’n mielieland by Hennenman neerstort. Ons Welkomse kollega wat gaan berig het, het gesê die ramptoneel sou by hom bly spook.

Suid-Afrika se bekendste – die woord voel onvanpas – rampe sluit in Coalbrook in 1960, ons land se grootste myntragedie waarin 435 mans dood is; aardbewings by Wolseley, Tulbagh en Ceres in 1969; die vliegramp toe drie weermagvliegtuie in 1971 Duiwelspiek getref het; die Laingsburg-vloed wat op 25 Januarie 1981 die dorp “in ’n malende bruin massa van vernietiging meegesleur het”; die Helderberg-vliegramp in 1987 toe ’n Boeing van die SAL in die see geval en al 159 mense aan boord omgekom het; die Westdene-busramp in 1985 toe 42 leerlinge van Hoërskool Vorentoe in die Westdene-dam verdrink het, en, en, en . . .

Dit sluit “mensgemaakte” rampe uit met doodslag en bloedvergieting wat lewens in ons ongenadige land eis.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Dood  |  Tragedie  |  Rampe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.