Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ras: ‘Dit bestaan nie’
Foto: istock

Daar bestaan nie werklik iets soos ras nie, voer Jurie van den Heever en Chris Jones aan. En hulle bied ’n alternatief vir die gelaaide r-woord.

In die eerste helfte van die 19de eeu het dr. Samuel Morton van Philadelphia, destyds een van die VSA se prominente wetenskaplikes, breingrootte by die mens probeer bepaal deur die volume van die breinkas van ’n groot aantal skedels te meet. Sy aanname was hoe groter die brein, hoe groter die intelligensie.

Hiervolgens verdeel hy die mensdom in vyf rasse, elkeen apart geskape.

Daarvolgens was die wit ras (Kaukasiërs) die intelligentste. Die Oos-Asiate van Mongolië was ’n trappie laer, maar tog vindingryk en vatbaar vir kultivering. Nog ’n trappie laer was die mense van Suidoos-Asië en benede hulle die inheemse Amerikaners. Swart mense (Ethiopiërs) het Morton op die heel onderste rang geplaas.

Hy het wel nie liggaamsgrootte in ag geneem nie, want hoe groter die liggaam, hoe groter die brein. Albei is klimatologiese aanpassings en daar bestaan nie ’n korrelasie tussen skedelgrootte en intelligensie nie.

Sy idees is deur die voorstanders van slawehandel verwelkom en toe Morton in 1851 sterf, het die Charleston Medical Journal hom geloof omdat sy navorsing glo die Negers in hul ware posisie, as ondergeskikte ras, bevestig het.

Vandag word Morton as die vader van hierdie soort “wetenskaplike” vergryp beskou en kan baie van die gruweldade wat sedertdien teen verskillende menslike groeperings gepleeg is – veral toe kolonialisme hoogty gevier het – herlei word na die vals oortuiging dat die mensdom in “rasse” ingedeel kan word en dat die onderskeie “rasse” nie gelykwaardig is nie.

Ten spyte van die feit dat moderne navorsing by herhaling aangetoon het dat daar nie iets soos “rasse” onder die mensdom bestaan nie, vind dit steeds neerslag in ons politiek, ons woonbuurte en die manier waarop ons oor onsself praat en dink.

Sosiale mite

In 1950 maak die Verenigde Nasies (VN) se agentskap vir onderwys, wetenskap en kultuur (Unesco) bekend dat die gebruik van die uitdrukking “ras” ’n sosiale mite en nie ’n biologiese werklikheid is nie en benadruk die feit dat alle mense tot dieselfde spesie, Homo sapiens, behoort.

Sedertdien is dit deur talle wetenskaplikes beaam en tans is dit algemene kennis dat alle mense boonop uit Afrika stam.

Die internasionaal bekende genetikus Luigi Cavalli-Sforza verklaar in 2000 dat die tradisionele manier van rasseklassifikasie laat vaar moet word en met die voltooiing van die menslike genoomprojek in 2000 beaam die genetikus Craig Venter weer eens die feit dat daar geen genetiese of wetenskaplike basis vir die konsep van “ras” bestaan nie.

Die vraag is dus hoekom daar steeds soveel rasgegronde voorval-le oor die hele wêreld heen plaasvind?

In Suid-Afrika is daar talle voorbeelde. Die stelsel van apartheid was op ’n rassegrondslag gebou en ten spyte van die feit dat dit tot ’n misdaad teen die mensdom verklaar en dit uiteindelik afgetakel is, ervaar ons steeds, ná meer as twee dekades in die nuwe, demokratiese Suid-Afrika, gevalle van rassisme aan albei kante van die politieke spektrum.

Plaaslike voorbeelde

Glen Snyman, ’n Wes-Kaapse onderwyser, het in die onlangse verlede in sy aansoek om ’n pos as skoolhoof aangedui dat hy “African” of swart is, terwyl hy inderwaarheid bruin is.

Hy het nie die pos gekry nie, maar daar is wel ’n klag van bedrog teen hom ingestel.

Gelukkig het Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, ingegryp. Sy het verklaar dat die viktimisering van mense wat hulle nie met “ ’n kunsmatige en arbitrêre klassifikasie van wie hulle is”, vereenselwig nie, nie in haar departement geduld sal word nie. Die klag teen Snyman is intussen teruggetrek.

Snyman wou ’n punt maak: dat hy gekant is teen die klassifikasie van mense as “bruin”. Hy is dan ook die stigter van People Against Race Classifications.

In ’n ander geval het ’n navorsingsartikel verskyn met die titel: “Age and Education Related Effects on Cognitive Functioning in Coloured South African Women”. Dié navorsing sou bewys dat bruin vroue minder intelligent as ander vroue is en daarom intellektueel ondergeskik of minderwaardig.

Helen-Rose van Wyk, ’n nagraadse student aan die Universiteit van Wes-Kaapland, sê in haar reaksie daarop dat dit haar verstand te bowe­ gaan dat haar kognitiewe vermoëns gemeet word aan die blokkie wat sy moet afmerk wanneer sy ’n vorm vir die departement van binnelandse sake moet voltooi.

Uitgediende paradigma

Rassediskriminasie bly ’n wêreldwye verskynsel.

Ons is juis onlangs weer aan die uitspraak van die Nazi-rasteore­tikus Hermann Gauch herinner wat in 1933 verklaar het: “Non-Nordics are more closely allied to monkeys and apes than to Nordics.”

Om dus (tans) van “rasseverskille” te praat, is betekenisloos, aangesien daar geen biologiese grondslag vir rasse-indelings is nie en dit nog nooit bestaan het nie.

Sigbare verskille, soos die kleur van iemand se vel, liggaamsbou, hare­ en gesigskenmerke, vorm deel van ’n geografiese gradiënt of geleidelike oorgang.

Daar is dus geen duidelike genetiese grense tussen groepe mense nie en boonop kom die meeste genetiese verskille in “rasse” voor en nie tussen “rasse” nie.

Die donker pigment melanien beskerm die vel teen skadelike ultravioletstrale en die konsentrasie daarvan hang af van die hoeveelheid sonlig in ’n spesifieke omgewing.

Iemand wat dus steeds “rasseverskille” op grond van velkleur grond, bevind hom in ’n uitgediende paradigma, ’n ou kognitiewe landskap wat nie op goeie wetenskaplike navorsing berus nie.

Genetika

Waarom dan velkleur uitsonder en ander ewe onbelangrike verskille, byvoorbeeld oogkleur, inkomste, lengte, kerkverband, politieke affiliasie en bloedgroep, ignoreer?

Geneties verskil alle mense – behalwe natuurlik identiese tweelinge – maar ook is ons almal op ’n unieke wyse aan mekaar verbind. Daar is nie ’n enkele geen wat net by ’n sekere groep voorkom en by ’n ander totaal afwesig is nie.

In werklikheid is alle mense nader aan mekaar verwant as wat sjimpansees onderling verwant is.

“Raskategorieë” behoort dus van alle amptelike vorms, bepalings en wetgewing verwyder te word. Die voortgesette gebruik daarvan bevorder dikwels net intergroep-konflik en -spanning, wat niks met “ras” te doen het nie, maar veel eerder met ander aspekte, byvoorbeeld geloof en sekere politieke en ekonomiese ideologieë.

“Ras” as sosiale en kulturele konstruk is boonop ook plooibaar en verskil van land tot land en tydvak tot tydvak.

Bruikbare alternatief

’n Moontlike plaasvervanger is etnisiteit. Dit verwys na identifiseerbare groepe mense wat hulself spontaan op grond van ’n gemeenskaplike kultuur en taal organiseer – met diep waardes, karakter, gedrag, godsdiens, tradisie, gebruike en etos.

Ná alles is dit duidelik dat, wat mense betref, daar net een ras op aarde bestaan, en dit is die menseras.

Wanneer amptelike vorms dus ons ras vereis, behoort ons net “mens” in te vul. Dit trek die mat summier uit onder een van die voorheen sterkste kriteria om teen mense te diskrimineer.

Etnisiteit lyk vir ons na ’n bruikbare en waardevolle plaasvervanger vir die r-woord, maar dan moet dit vanuit die oogpunt van ’n spesifieke maatskaplike taksonomie beskou en beskryf word – en beslis nie “ras” nie!

Prof. Van den Heever, ’n paleontoloog, en dr. Jones, ’n teoloog, is albei verbonde aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Gene  |  Mensdom  |  Rassisme  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.