Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ras dryf DA tot by ’n kantelpunt
Henry Jeffreys

Die DA is nie by ’n kruispad nie, maar eerder op ’n gevaarlike kantelpunt. Die reeds benarde situasie is net vererger deur die naweek se verkiesing van die voormalige partyleier Helen Zille as voorsitter van die party se federale raad, een van die invloedrykste posisies in die party.

Zille se terugkeer na die topleierskap van die DA is bevestiging van sterk vermoedens onder baie dat ’n klein groep beheer oor die party wil neem en leiers soos Mmusi Maimane probeer isoleer of selfs uitwerk.

Die eerste slagoffer van die DA se intense binnegevegte is Herman Mashaba, wat Maandag as burgemeester van Johannesburg bedank het.

Hy is die tweede DA-burgemeester van ’n metropool wat bedank en sy lidmaatskap van die DA opgee. Hy volg Patricia de Lille, wat onder ’n wolk van omstredenheid as burgemeester van Kaapstad bedank het.

De Lille is nou die minister van openbare werke in die ANC-regering. Dis onwaarskynlik dat Mashaba dieselfde pad sal volg. Hy is ’n uitgesproke teenstander van die ANC en het dit in sy bedankingsaankondiging herhaal.

Aan die hart van die DA se probleme lê die party se “ewige uitdaging”, naamlik om die mag te bekom deur swart stemme te wen, maar sonder om dit in soveel woorde uit te spel.

Aan die hart van die DA se probleme lê die party se “ewige uitdaging”, naamlik om die mag te bekom deur swart stemme te wen, maar sonder om dit in soveel woorde uit te spel.

Die party sal eenvoudig vrede moet maak met die aard van die uitdaging en dit op die naam noem. Dit is onaanvaarbaar vir stoere liberale lede en leiers van die party.

Maimane het begin om die kwessie openlik te noem en aandag daaraan te gee, net om die argwaan van sy liberale kollegas op die hals te haal. Gevolglik het hulle hul messe in vir hom.

Ironies genoeg het Zille gedurende haar leierskap van die party die uitdaging in sy volle omvang besef en begin om swart leiers in die party te kweek en te lok. Maimane se opgang in die DA kan regstreeks aan Zille se persoonlike ingryping toegeskryf word. Tog word sy nou gesien as een van diegene wat van Maimane as leier wil ontslae raak.

Mashaba het dit Maandag beklemtoon dat die “dinamika in die DA” hom gedruk het om tussen die party en die land te kies. Hy het die land gekies.

Mashaba het dit Maandag beklemtoon dat die “dinamika in die DA” hom gedruk het om tussen die party en die land te kies.

Mashaba het geen geheim daarvan gemaak dat hy verkies het om besteding in Johannesburg op agtergeblewe (lees swart) gemeenskappe te konsentreer, eerder as op stedelike gemeenskappe (lees wit) nie.

Sy pogings is glo meestal deur wit kollegas gedwarsboom. Daar kan dus nou min twyfel wees: Die kwessie van ras is onmiskenbaar deel van die DA se beleids- en politieke agenda.

In vanjaar se nasionale verkiesing het die DA aansienlik veld verloor, grotendeels tot voordeel van die Vryheidsfront Plus. James Selfe, die DA se vorige federale voorsitter, het kort ná die verkiesing op 8 Mei gesê dit was te verwagte dat die party kwesbaar sou wees ná ’n besluit om nie net op minderheidsgemeenskappe te fokus nie.

Dit blyk nou dat dit juis dié klemverskuiwing is wat by die DA spook.

Die DA se probleme met leierskap is dieper as net Maimane. Wanneer leiers terugkeer, soos wat Zille nou gedoen het, dui dit op ’n gebrek aan natuurlike diepte. Besluit die DA nou op nog ’n wit leier (die naam van Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, word reeds vrylik rondgegooi), sal dit waarskynlik net die vermoedens versterk dat die party deur wit leiers ten koste van swart mense beheer word.

Wat nodig is, is iemand wat die party kan verenig en laat uitstyg bo die rasseverdeeldheid wat die party volstrek weier om te erken as ’n groot faktor vir sy voortbestaan – iemand wat die party kan weglei van die kantelpunt en wat die ewige uitdaging suksesvol kan pak.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Helen Zille  |  Ras  |  Politiek  |  Wit Stemme  |  Da  |  Kiesers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.