Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Malema 'n rasbehepte windlawaai

Hy was sy gewone opgeblase self, maar Julius Malema was nie ver verkeerd nie toe hy die naweek verklaar het: “Ons is in beheer. Ons bestuur die land van agter die skerms deur ons idees.”

Die EFF-leier het dit as ’n klap na die regerende ANC bedoel, en met reg, maar dit is ’n ewe groot refleksie op die media en heelwat van ons meningsvormers en politieke ontleders.

Julius Malema spreek ’n nuuskonferensie in Johannesburg toe.Foto: cornel van heerden

Te veel van hulle word deur Malema gehipnotiseer, en dié wat hom sien vir wat hy is, is bang om dit te sê, want dan gaan hulle vir rassiste of uitverkopers uitgekryt word.

Dit is ’n verskriklike oordeel oor hoe ons nasionale politiek in 2018 daar uitsien. Malema is ’n gewetenlose politikus wat in rassehaat en dreigemente van geweld handel dryf; hy is die populistiese leier van ’n militaristiese, neo-fascistiese party met minder as 10% bewese steun, en hy is die stert wat die hond swaai?

’n Mens kan nie meer ’n radio of ’n televisiestel aanskakel of ’n koerant of webwerf oopmaak sonder om in Malema vas te kyk nie. En dít terwyl die leier van die amptelike opposisie, ’n party drie keer so groot soos die EFF, sukkel om ooit die nuusblaaie te haal.

Is dié dominering deur die EFF die resultaat van ’n briljante politieke strategie? Is dit omdat die Suid-Afrikaanse politiek só verloop het dat die EFF se tyd aangebreek het? Of is dit die onafwendbare gevolg van die nuwe vlaag populisme wat die land die laaste paar jaar oorspoel het?

Max du Preez: Sy loopbaan van 'n onversetlike "waarheid versus mag"-benadering is steeds ná kwarteeu van demokrasie 'n verhaal van waagmoed en beginselvastheid. Foto: Liza van Deventer

Malema is ongetwyfeld ’n fenomeen wie se gelyke ek nog nie in my lang jare in die politieke joernalistiek raakgeloop het nie. Hy en sy medeleiers het die afgelope vyf jaar met prysenswaardige energie ’n kombinasie van identiteitspolitiek, rasmobilisering, politieke teater, simboliek en populisme as aanslag ontwikkel. Vandag is dit hoofsaaklik grond en die wit vyand.

As goedkoop populiste is die EFF niks nuuts nie. Hulle volg dieselfde patroon as Venezuela se Hugo Chávez en Zimbabwe se Robert Mugabe: verdeel die land tussen ’n bose elite en ’n onderdrukte massa; beroep jou op die mense se mees basiese instinkte; krap die roof van elke historiese seer af; en belowe die mense dat hulle almal welvarend en welsalig gaan wees as hulle jou volg.

Dit is ongelukkig waar dat as Suid-Afrika sedert 1994 genoeg vordering met ekonomiese bemagtiging, werkloosheid en die uitwissing van ongelykheid en rassisme gemaak het, die EFF nie juis ’n teelaarde vir hul aanslag sou gehad het nie.

Sy vloekery op wit Suid-Afrikaners laat die rooi ligte flikker, maar word as die uiting van geregverdigde swart frustrasies weggepraat.

Ons moet onsself gedurig daaraan herinner dat hy dusver net 6,35% van die steun kon kry, dat die grootste gros swart landgenote hom ook as ’n rasbehepte windlawaai sien en dat dit nie sy plek is om te verklaar wie en wat ons is en waar ons hoort nie.

Dit skep ’n klimaat van haat en onverdraagsaamheid. In Amerika het Donald Trump se nasionalistiese populisme die haatdraendes dapperder gemaak en tot ’n skerp toename in haatmisdade en anti­semitisme gelei.

Laasweek sê Malema die EFF gaan volgende jaar se algemene verkiesing wen, maar dan voeg hy dadelik by: ons gaan ten minste ons 2014-steun (6,35%) verdubbel. Ek dink hy’s dalk reg, maar dit sal die EFF steeds net die helfte so groot soos die DA maak.

Malema ontlok die ergste by baie wit Suid-Afrikaners, wat maak dat hulle hom beledig en rassisties kleineer. Dit maak hom net sterker.

Ons moet onsself gedurig daaraan herinner dat hy dusver net 6,35% van die steun kon kry, dat die grootste gros swart landgenote hom ook as ’n rasbehepte windlawaai sien en dat dit nie sy plek is om te verklaar wie en wat ons is en waar ons hoort nie.

  • Du Preez is ’n joernalis, skrywer en politieke ontleder.
Meer oor:  Julius Malema  |  Rubriek  |  Menings  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.