Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rasse-transformasie ‘nie goed vir land óf versoening’

Hy is daarvan oortuig dat die geskiedenis gaan wys dat rasse-transformasie die enkele grootste strategiese fout is wat die ANC in sy klompie dekades as regering gemaak het, skryf Theuns Eloff.

Theuns EloffFoto: Edrea du Toit

Op Versoeningsdag op 16 Desember verlede jaar het pres. Cyril Ramaphosa ’n toespraak gehou. Met die meeste dele daarvan kan ’n mens saamstem, byvoorbeeld:

“So lank as wat ons nie die armoede, ongelykheid en onderontwikkeling kan oorkom waaronder die meeste mense in die land gebuk gaan nie, sal versoening vir altyd buite ons bereik bly.

“Ons kan nie ’n samelewing bou wat individue in staat stel om hul lewens te verbeter en hul potensiaal te bereik wanneer hulpbronne wat geoormerk is vir die mense gesteel word deur diegene wat beweer hulle is staatsamptenare nie.”

Ons kan nie voortgaan met die proses van betekenisvolle versoening as daar weerstand is teen beleid rondom ekonomiese transformasie, regstellende aksie en grondhervorming nie.
Pres. Cyril Ramaphosa

Een van die kernboodskappe wat die president oorgedra het, het byna ongesiens – en grootliks sonder kommentaar – in die media verbygegaan. Miskien is dit te wyte aan die tweede golf van Covid-19-infeksies wat toe begin groot nuus word het, of miskien is dit dat ons net afgestomp raak vir hierdie soort boodskappe:

“Ons kan nie voortgaan met die proses van betekenisvolle versoening as daar weerstand is teen beleid rondom ekonomiese transformasie, regstellende aksie en grondhervorming nie.”

Ramaphosa sê dus dat versoening in Suid-Afrika nie moontlik is sonder die ANC se beleid van rasse-transformasie nie. Dit sluit swart (en net swart) ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie in terme van ras en grondhervorming in terme van ras in. Hierdie ANC-beleid is gebou op die basis van demografiese (lees rasse-) verteenwoordiging: Elke enkele Suid-Afrikaanse instelling moet uiteindelik in sy personeel, eienaars, spelers, verkryging en ledetal die rassesamestelling van die Suid-Afrikaanse bevolking weerspieël – 80% swart (“African”), 9% bruin, 9% wit en 2% Asiër. Hierdeur belowe hy aan 80% van die bevolking dat hulle hulpbronne en geld sal kry – sonder dat hulle iets hoef te doen.

Pres. Cyril Ramaphosa het op Versoeningsdag gesê: “Ons kan nie voortgaan met die proses van betekenisvolle versoening indien daar weerstand is teen beleid rondom ekonomiese transformasie, regstellende aksie en grondhervorming nie.” Foto: Twitter

Dit is “regstelling” suiwer in terme van ras. En net so verklaar hy dat rasse-minderhede tevrede moet wees met die persentasie van die samelewing, hulpbronne en geld wat hulle getalle verteenwoordig: 9%, 9% en 2%. Implisiet in die ideologie is dat as die swart bevolking oor tien jaar 90% van die bevolking uitmaak, die “aandeel” van die minderhede verder gesny sal word. As die minderhede dit nie aanvaar nie, sal daar nie versoening wees nie. Dit is, om die minste te sê, ’n eienaardige en diep onlogiese argument.

Rasse-ingenieurswese

As ’n mens die president die voordeel van die twyfel en van interpretasie gee, moet jy saamstem dat die indien die gaping tussen ryk en arm, en die haglike armoede en werkloosheid nie verbeter nie, mense moeilik sal kan versoen. Dit gaan egter ten diepste nie oor die lofwaardige doel nie, maar oor hóé die ANC die probleme wil oplos. Die metodologie is om die rasse-formule van 80-9-9-2 (en in die toekoms 90-4-5-1) te gebruik om grootskaalse sosiale rasse-ingenieurswese te pleeg.

Hierdie formule word in die praktyk kwotas (iets wat arbeidswetgewing in beginsel verbied) en die gevolge hiervan is katastrofaal.

Rasse-minderhede maak vandag minder as 20% van die bevolking uit.

Hier is ’n paar perspektiewe oor hoekom rasse-transformasie nie goed vir Suid-Afrika en versoening is nie.

Eerstens kan (of wil) niemand die werklikheid van ons rasse-demografie ontken nie. By verre die meeste lede van ons bevolking is swart. En dit gaan nie verander nie. Rasse-minderhede maak vandag minder as 20% van die bevolking uit. Onder die minderhede is daar ’n groot persentasie wat ekonomies welvarend is, wat besighede besit, professies beoefen en bestuurders of landbouers is. Hulle het groot getalle mense in diens (die meeste van hulle is swart Suid-Afrikaners), hulle skep welvaart vir almal en produseer noodsaaklike dienste en goedere. Maar hul getalle neem persentasiegewys af, soos wat die swart bevolking groei, maar ook in absolute terme omdat hulle minder kinders het en sommige emigreer.

Hoe werk dít versoening in die hand?

Dit is veral die groep wat deur rasse-transformasie geteiken word. Die vraag is: Hoekom sal ’n meerderheid ’n minderheid probeer uitrangeer as daar binne die afsienbare toekoms in elk geval te min van daardie minderheid is om die land en die ekonomie te bestuur? Die feit is, daar is eenvoudig te min minderhede in die land oor om oor vyf tot tien jaar nog ’n beherende aandeel in die ekonomie te besit. Die meeste bestuurders uit minderheidsgroepe in die ekonomie is ouer as 60, en sal nie oor 10 jaar nog ekonomies aktief wees nie.

Versoeningsdag word in Worcester gevier as deel van die Worcester Hope and Reconciliation Day.Foto: Denzil Maregele

Anders gestel: Dit is ’n kwessie van tyd voor die (swart) meerderheid hulle regmatige (en beherende) plek in die ekonomie inneem. Hoekom dan besighede van minderhede wat werk verskaf, welvaart skep en goedere produseer, muilband met rassewetgewing? Hoe maak dit logiese sin? Hoekom sal ’n regering vlakke van eienaarskap van besighede so hoog maak (50% plus) dat minderhede in effek nie meer ondernemings kan besit nie? Wat doen dit aan entrepreneurskap? Hoe werk dit versoening in die hand?

Die waarheid is dat die samestelling van ons rasse-demografie ons eerder moet lei om alle vaardighede en goedgesindheid te gebruik om werk te skep en die ekonomie te laat groei – nie om minderhede deur rasse-transformasie te benadeel en te ontmoedig om saam aan die nasiebou te werk nie.

Kollektiewe skuld

Tweedens is rasse-transformasie gesetel in die kollektiewe skuld van minderhede (veral wit mense) oor apartheid. As ’n kollektief was en is wit Suid-Afrikaners verantwoordelik vir en aandadig aan apartheid. Hulle moet dus as groep benadeel word, sodat die eertydse groep slagoffers (swart Suid-Afrikaners) se situasie reggestel kan word. Rassewetgewing gebruik dus nie individuele aanspreeklikheid en optrede (soos enige ander wetgewing nie), maar kollektiewe aanspreeklikheid: As jy deel van ’n minderheid is en veral as jy wit is, is jy bevoordeel en het jy deel aan die kollektiewe skuld.

Die gevolg is dat rassewetgewing dan werk met kollektiewe regstelling en of bevoordeling. As jy swart is, is jy deur apartheid benadeel en het jy reg op kollektiewe regstelling. Dit maak nie saak of jy middelklas of ryk groot geword het nie – jou kollektiewe bevoordeling bly staan.

Lede en ondersteuners van AfriForum laat 500 ballonne vry by Kovsies om hul ontevredenheid oor regstellende aksie te kenne te gee. Foto: Marinus Mulder

Hierdie kollektiewe benadering lei daartoe dat ’n kultuur van toeëiening ontstaan het. “Dit is nou ons beurt” (om bevoordeel te word). Die groter probleem is dat die kollektiewe bevoordeling en die kultuur van toeëiening werk volgens die uitgangspunt dat ek self niks aktief hoef te doen om bevoordeel te word nie. Ek hoef nie hard te werk, gedissiplineerd te wees of vaardighede te ontwikkel nie. Dit kom my toe, omdat ek deel van die kollektiewe swart groep is.

’n Mens hoef nie baie navorsing te doen nie om te besef dat só ’n gesindheid die einde van individuele aanspreeklikheid, eie verantwoordelikheid en – in baie gevalle – harde werk is nie.

Korrupsie en nepotisme

Derdens is daar die gevolge van (kollektiewe) rasse-transformasie. In hierdie selfs onbedoelde gevolge kom dit duidelik na vore dat rasse-transformasie nie goed vir die land en versoening is nie. Die eerste faset is die wanfunksionaliteit van die rasse-transformasie-stelsel self. Tenders in die openbare en private sektore word met uiters streng rasse-voorwaardes gepubliseer, ook in sektore waar vaardighede en kennis om die werk uit te voer, uiters beperk is.

Die “swart” maatskappy aan wie die tender toegeken word, moet dan die nodige kennis en vaardigheid gaan inkoop – wat die koste drie- en viervoudig verhoog: ’n Koste wat die belastingbetaler moet dra.

Daar word tereg oor sogenaamde “fronting” gekla, maar die stelsel werk dit in die hand. Die feit is dat korrupsie en nepotisme in só ’n stelsel nie ver weg is nie. Die grootskaalse korrupsie en nepotisme met die Covid-19 toerusting het almal geskok, maar dit gebeur al jare op ander vlakke in die rasse-transformasie-stelsel – omdat geen kennis en vaardighede en ervaring noodsaaklik is nie.

... sonder rasgegronde regstellende aksie sou ons byvoorbeeld nie ’n grootliks mislukte plaaslike regering sektor gehad het nie.

Nog ’n regstreekse gevolg van die stelsel is die wydverspreide onbevoegdheid in die staatsdiens. As ’n regeringswoordvoerder kla oor ’n “gebrek aan kapasiteit” in dienslewering is daar net een verklaring: Regstellende aksie en mense wat op grond van hulle ras en nie op grond van hulle bekwaamhede, aangestel is nie. Daar is natuurlike baie bekwame en bevoegde swart staatsamptenare, maar sonder rasgegronde regstellende aksie sou ons byvoorbeeld nie ’n grootliks mislukte plaaslike regering sektor gehad het nie. Of ons sou ’n beter funksionerende gesondheidstelsel gehad het om Covid-19 te beveg. Of ons sou beter bestuurde staatsbeheerde ondernemings gehad het.

Die probleem word vererger deur die bogenoemde kultuur van toeëiening – ek verdien om die pos te beklee en daarom hoef ek nie regtig die werk te doen nie. Maar ek wil meer en meer verdien – en wend my dan tot bedrog en korrupsie. Uiteindelik is rasgegronde regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging handperde van korrupsie.

Oudpres. Nelson Mandela het dikwels gesê dat die sterkste instrument vir bemagtiging (ook ekonomiese bemagtiging) onderwys en opleiding is. Foto: Mlungisi Louw

Enkele grootste strategiese fout

Vierdens is dit wêreldwyd duidelik dat rasse-transformasie nie ’n volhoubare meganisme vir bemagtiging is nie. Die enigste volhoubare bemagtiging kom deur onderwys en opleiding aan die een kant, en ekonomiese groei aan die ander kant. Oudpres. Nelson Mandela het altyd ’n sterk saak uitgemaak dat die sterkste instrument vir bemagtiging (ook ekonomiese bemagtiging) onderwys en opleiding is. Ongelukkig het die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel grootliks gefaal. Daarby is die Seta-stelsel ook grootliks wanfunksioneel en vol korrupsie en wanbestuur.

Die ANC se dubbelslagtige siening van die ekonomie (van sosialisties tot markgedrewe) is grootliks daarvoor verantwoordelik dat die ekonomie in 25 jaar nog nie regtig kon groei nie (met die uitsondering van ’n paar jaar onder pres. Thabo Mbeki).

Pik Botha, ’n voormalige minister in die vorige bedeling, praat oor regstellende aksie. Foto: Herman Verwey

Die ekonomie word as staties beskou – die koek is net só groot, en dit moet herverdeel word – nie groter gemaak word nie. Hierdie herverdeling moet volgens die beginsels van rasse-transformasie gebeur. Dit kan dus nie anders nie as om weg te neem van nie-swart Suid-Afrikaners en aan swart Suid-Afrikaners te gee. Dit is wat ’n “zero-som-spel” genoem word – as ek wil wen, moet jy verloor.

As die ANC-regering onderwys en opleiding beter bestuur het, en die ekonomie laat groei het, sou daar baie meer swart mense bemagtig gewees het. En dit sou nie nodig gewees het om hardwerkende en welmenende minderhede sistematies deur rasse-transformasie te vervreem en te ontmagtig nie.

Ons kan nie versoening en bemagtiging bewerkstellig indien die stelsel van rasse-transformasie bly voortleef nie.

Ek is daarvan oortuig dat die geskiedenis gaan wys dat rasse-transformasie die enkele grootste strategiese fout is wat die ANC in sy klompie dekades as regering gemaak het. Dit het die land op die rand van ’n ekonomiese en administratiewe afgrond gebring. Dit was en is nie goed vir die land nie. En dit is een van die grootste struikelblokke op die pad van versoening tussen gewone Suid-Afrikaners.

Meneer die President, daar ís ’n verband tussen rasse-transformasie en versoening. Maar dit is andersom as wat u gesê het: Ons kan nie versoening en bemagtiging bewerkstellig indien die stelsel van rasse-transformasie bly voortleef nie.

Ek het u al baie keer sterkte en wysheid toegewens met die stryd om korrupsie uit te roei. Maar as die grootboetie van korrupsie, naamlik rasse-transformasie en daarmee die kultuur van toeëiening, nie verander word nie, sal korrupsie en wanadministrasie by ons bly. En versoening sal ’n hersenskim bly.

• Theuns Eloff is ’n onafhanklike kommentator. Die menings in hierdie rubriek is sy eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.