Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rassie het hulp nodig – as hy Afrikaans praat

Ja, ons het baie om oor te kla, selfs om oor moedeloos te word, maar danksy die Springbokke se oorwinning in die Rugbykampioenskap brand daar voor in die wapad ’n lig.

En anders as wat dikwels in Suid-Afrika die geval is, is die lig hierdie keer nie dié van ’n aankomende trein in ’n donker tonnel nie.

En wie moet ons bedank, soos wyle Boland Bank se leuse gelei het? Natuurlik ou Rassie! Ek is só in my skik met hom dat ek by die president gaan aanbeveel dat hy hom met die Orde van die Springhaas (Klas 2, Goud) vereer.

Maar Rassie het hulp nodig. Dringend. Nie op die veld nie, maar wel van die veld af – wanneer hy met die media Afrikaans praat.

Ons moet seker dankbaar wees dat hy darem nog Afrikaans praat, soort van, maar die onderwyser wat hom Afrikaans op skool gegee het, gaan nog die horries kry as hy aanhou om soos ’n springhaas tussen Afrikaans en Engels rond te spring wanneer hy op die televisie of radio praat.

Weet hy byvoorbeeld dat ons in Afrikaans nie van ’n “coach” praat nie, maar wel van ’n breier of afrigter? En nie van “defence” nie, maar van verdediging?

Die vraag is dus: Het Rassie dalk Afrikaans in Engels geneem? Daar was mos ’n tyd toe Engels in Afrikaans gegee is.

Wil sy aanvalskonsultant hom nie net asseblief reghelp nie deur daarop te wys jy kan retireer op die aanval as jou “defence” jou in die steek laat?

Die vraag is dus: Het Rassie dalk Afrikaans in Engels geneem? Daar was mos ’n tyd toe Engels in Afrikaans gegee is.

Soos toe Pietie vir die skoolinspekteur ’n sin met die woordjie “wortel” moes maak en hy wegtrek met: “The tree has carrots.” Die onderwyser wat vir Pietie Engels in Afrikaans gegee het, het aan die inspekteur gesê: “Ag, Meneer, u moet maar verskoon, ons is nooit heeltemal seker van die has en die haves nie.”

Dit herinner my aan Kapok wat vertel het hoe hy ’n taxidrywer wat by City Deep in Johannesburg voor sy agttienwieler met ’n vrag skaap diep uit die Ceres-Karoo ingery het, toegesnou het: “Jou werf*tt*r ! Waar het jy jou laaisens gekry – by Pep Stores?”

Rassie se manier van praat laat my ook elke keer jammer voel vir die mense wat, ten spyte van die toenemend swak taalgebruik van Afrikaanse mense, daarop gesteld bly en moeite doen om Afrikaans korrek en keurig te praat en skryf.

Ek het ook groot bewondering vir die mense wat Afrikaans in die aangesig van Engelse oorheersing steeds uitbou en dokumenteer, soos Willem Botha en Frikkie Lombard by die Woordeboek van die Afrikaanse taal op Stellenbosch.

Ek haal my hoed vir hulle af. Soms wonder ek of hulle nie mismoedig word wanneer hulle hoor hoe Afrikaanssprekendes hul moedertaal opmors nie.

Ek word soms mismoedig. Gelukkig gee hulle my telkens weer nuwe moed.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Rassie Erasmus  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.