Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rassie se suksesresep doen hele SA goed

Die Springbok-rugbyspan is een van die min dinge wat ’n mens deesdae beter in en oor Suid-Afrika laat voel.

Hulle wen nie net weer wedstryde (én bekers) en ding uiteindelik weer op gelyke voet met die All Blacks mee nie, maar hul spel (behalwe dalk vir verlede Saterdag se getjommel) maak mense weer opgewonde.

Gert van der Westhuizen

Nuwe sterre soos S’bu Nkosi, Cheslin Kolbe en Herschel Jantjies het mense gaande, terwyl gevestigde spelers, soos Handré Pollard, Eben Etzebeth en Beast Mtawarira wys dat hulle hul teenstanders beslis nog ’n les of drie kan leer.

Maar die belangrikste van alles is dat die Bokke nie weer soos vier jaar gelede kort voor ’n Wêreldbeker-toernooi midde-in ’n politieke storm is nie.

Voor die Wêreldbeker-toernooi in 2015 was daar wydverspreide ontevredenheid met die samestelling van die Springbok-span en selfs vooraanstaande mense het in die openbaar gesê hulle kan nie ’n span steun wie se afrigter hom nie aan transformasie steur nie.

Nou kla bitter min mense oor ’n gebrek aan transformasie en selfs die raserige “teenkwota-brigade”, wat gewoonlik met elke nederlaag die skuld op die rassesamestelling van die span gepak het, is tjoepstil.

Rassie Erasmus, afrigter van die Bokke, moet die lof vir dié stand van sake kry.

Hy was vreesloos in sy spankeuses vandat hy as afrigter aangestel is.

’n Goeie voorbeeld is die keuse van Kolbe, wat sy rugby in Frank­ryk speel, al deur baie Suid-Afrikaners vergeet is en wat vir van Erasmus se voorgangers “te klein” sou wees.

Nou is Kolbe ’n Bok-ster.

Erasmus het boonop sy net baie wyd gegooi en nie geskroom om jong en onervare spelers te kies nie.

Erasmus het die ideale atmosfeer geskep waarin sy span vir die Wêreldbekertoernooi kan voorberei.

Sodoende het hy seker gemaak dat die groep spelers waaruit gekies kan word al hoe groter word. Erasmus het ook gewys dat transformasie nie ’n vloekwoord is nie.

Niemand kan kla oor die vermoëns van die spelers wat vir hom uitdraf nie en deesdae gaan transformasie op nasionale vlak nie net oor die getal spelers van ’n sekere kleur in ’n span nie.

Erasmus het sodoende die ideale atmosfeer geskep waarin sy span vir die Wêreldbeker-toernooi kan voorberei.

Skielik het Suid-Afrikaners ook weer hoop vir hul span.

Hulle mag dalk nie vanjaar die Wêreldbeker wen nie, maar die toekoms lyk beslis veel rooskleuriger as in ’n baie, baie lang tyd.

Hopelik bly Erasmus die afrigter van die Bokke, al wen hulle nie die Wêreldbeker nie.

Hy is duidelik besig met ’n toekomsplan wat die Springbokke weer een van die wêreld se beste spanne sal maak en Suid-Afrikaners minstens ’n handjievol Saterdae vir 80 minute lank nader aan mekaar sal bring.

  • Van der Westhuizen is Netwerk24 se Stemme-redakteur.
Meer oor:  Rassie Erasmus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.