Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rassisme: Hoe diep lê wortels?

Terwyl ek hier sit en skryf, is die Springbokspan in Japan vir die Wêreldbekertoernooi. Onder ’n wolk.

Daardie wolk is, weer eens, rassisme. Eben Etzebeth word beskuldig van ’n kru rassistiese geskel op ’n “anderskleurige”. Ek hoop van harte dit is ’n vals beskuldiging en dat die Stormers en Bokke se reus sy amper onontbeerlike rol in die toernooi sal kan speel.

Prof. Anton van Niekerk

Tegelyk kan jy slegs jou hande saamslaan oor die skynbaar meedoënlose terugkeer van rassistiese insidente (werklik en na bewering). As dit nie Penny Sparrow is nie, is dit Angelo Agrizzi. As dit nie Henry Tromp is nie, is dit Steve Hofmeyr. Dit hou net nie op nie.

Tereg is dit ’n verskynsel wat die meerderheid van ons bevolking meer as enigiets grief. Hoekom? Eenvoudig omdat rassisme die beste illustrasie is van hoe hopeloos ons “die Ander” – dié wat “anders” is, bedoelende veral “anderskleurig”, wat nie “soos ons” lyk nie – hanteer. Rassisme is ’n veragtelike euwel omdat dit die een aspek van ons menswees waaraan ons níks kan verander nie, naamlik ons velkleur, verhef tot die maat van ons menswees – tot dit wat fundamenteel aan mense waarde of gebrek aan waarde verleen.

Daar is baie en fassinerende teorieë oor die diepste wortels van rassisme. Die Franse sosiale antropoloog Claude Lévi-Strauss herlei die oorsprong daarvan na twee ewe onbeholpe, wreedaardige maniere waarop mense in voor-moderne samelewings met “die Ander” omgegaan het – diegene in wie ons onsself nie herken nie, maar met wie ons op een of ander manier steeds moet huishou.

Die een is die “antropofagiese” benadering, ’n geleerde woord vir kannibalisme: As jy nie met iemand kan klaarkom nie, eet jy hom (soms letterlik) op. Die tweede is die “antropoëmiese” benadering: om “aan vreemdelinge te braak”. In sulke samelewings, sê Lévi-Strauss, “they vomit out the deviant, keeping them outside of society or enclosing them in special institutions within their perimeters”.

Ander sosiaal-wetenskaplikes, soos Zygmunt Bauman, redeneer dat rassisme sy oorsprong het in ’n oordrewe benepenheid met higiëne. Omdat rassisme gewoonlik gemik word teen mense met ’n donkerder gelaatskleur, is daar by baie wit mense ’n irrasionele oortuiging dat hulle gewoon nie “skoon” genoeg is nie.

Ons het die verskynsel van “rasse-higiëne” veral by die Nazi’s gesien. Rassisme wil “suiwer en skoonmaak” – tot op die punt waar besef word dit is nie moontlik nie, en dan begin die “etniese suiwering” of volksmoorde.

Wat ook al die oorsprong van rassisme, is dit nie so belangrik soos die onvoorwaardelike verwerping en bestryding daarvan nie. Dit is die maklikste ding op aarde om illusies van selfbelangrikheid en eiewaarde te kweek deur mense te veroordeel, gering te skat of te verwerp – nie op grond van enigiets wat hulle doen nie, maar bloot van wat hulle (na jou mening) is en hoe hulle lyk.

Die Duitse filosoof Hegel toon in sy geskiedenisfilosofie aan hoe verstommend lank dit geneem het – vanaf die oudste “beskawing” van die Chinese en via die ryke van Indië, Persië, Antieke Griekeland en die Romeinse Ryk – voor die idee uiteindelik posgevat het dat alle mense gelyk is en die reg het om hulself in vryheid uit te leef in die (Pruisiese!) demokratiese staat wat, vir Hegel, die kulminasie van die geskiedenis is.

Rassisme registreer nie iets soos maaksels van “die natuur” of “die skepping” nie. Rassisme reflekteer nie “die natuur” nie, maar is ’n sosiale konstruksie. Dit is ’n mensgemaakte aberrasie, soos slawerny en vroueverdrukking. Dit kan nie heftig genoeg bestry en verwerp word nie. Al sou die prys daarvoor die Rugby-wêreldbeker wees.

  • Van Niekerk is professor in filosofie en direkteur van die sentrum vir toegepaste etiek aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Eben Etzebeth  |  Springbokke  |  Rassisme  |  Aktueel  |  Rubriek  |  Ras-Voorvaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.