Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rassisme is SA se historiese juk

Julius Malema, leier van die EFF, en sy party word toegelaat om rassisties te wees en op te tree. Of so lyk en voel dit. En hulle kom daarmee weg.

Malema se uitbarsting verlede week teenoor die DA se hoofsweep in die Nasionale Vergadering was duidelik rassisties. Malema het John Steenhuisen ’n “rassistiese jong wit man” genoem.

Dink vir ’n oomblik wat sou gebeur het as Steenhuisen vir Malema ’n “rassistiese jong swart man” genoem het.

Terwyl ek na die chaotiese tonele in die Nasionale Vergadering op TV kyk en luister, het ek vir ’n oomblik gedink aan soortgelyke uitbarstings deur gewone Suid-Afrikaners wat nie die beskerming van parlementêre privilegie het nie – mense soos Vicki Momberg, wat tronkstraf vir haar rassistiese uitbarstings opgelê is.

Rassisme is Suid-Afrika se historiese juk. Jy kan dit nie beveg deur ook rassisties te wees nie. Dit is wat Nelson Mandela ons geleer het, maar soos so baie van die groot man se lesse steur ons ons deesdae al hoe minder daaraan.

Malema het ’n woede in hom wat waarskynlik ook in die harte van baie swart landgenote smeul.

Daar is inderdaad in die geledere van die ANC, Mandela se politieke tuiste, elemente wat nie huiwer om rassistiese tendense te openbaar nie.

Die ideaal van ’n nierassige Suid-Afrika – ’n historiese wekroep van die ANC wat die dryfkrag van die bevrydingstryd was, is waarskynlik ’n onhaalbare uitdaging. Mandela het dit besef, maar het dit nietemin nougeset nagestreef. Dit is juis wat van hom so ’n groot en goeie leier gemaak het.

Malema het ’n woede in hom wat waarskynlik ook in die harte van baie swart landgenote smeul. Suid-Afrika kan nie bekostig om toe te laat dat dit suurstof kry nie.

Wit landgenote kan help deur meer sigbaar en hoorbaar groter ootmoedigheid te toon oor die vergrype wat oor die eeue in hul naam teen swart mense gepleeg is. Opmerkings soos dat nie alles omtrent kolonialisme sonder waarde was nie, is onbehulpsaam en teenproduktief.

Ons het ’n behoefte om na die leerstellings en waardes van Mandela terug te keer. Maar die vraag is: Wie gaan so ’n proses lei?

Pres. Cyril Ramaphosa toon belofte, maar dit is duidelik sy teenstanders aanvaar hom nie noodwendig as ’n moontlike hedendaagse Mandela nie.

Die president sal nietemin die verantwoordelikheid moet neem om die land by die gees van die oorgang in 1994 terug te kry.

Dit is verlede week deur die gebeure in die parlement onderstreep. Malema se tirade was nie net op die DA of Steenhuisen gerig nie – dit was ’n regstreekse aanslag op Ramaphosa.

Die president sal nietemin die verantwoordelikheid moet neem om die land by die gees van die oorgang in 1994 terug te kry.

Hy sal die eerste wees om te erken dat hy nie ’n Mandela is nie. Tog het hy bepaalde talente wat hom kan help om tot sy kamerade in die ANC deur te dring. Baie mense reken egter dat die ANC deel is van die probleem en nie van die oplossing nie.

Wel, dis ietwat naïef om te reken dat enigiets noemenswaardig bereik sal kan word sonder die regerende party se aktiewe en selfs leidende deelname.

Een van die dinge wat Ramaphosa kan doen, is om sy kamerade binne die ANC aan Mandela se opmerkings in sy hoogverraadverhoor in 1964 te herinner. Hy het onder meer gesê:

“ . . . “Ek het teen wit oorheersing geveg. Ek het teen swart oorheersing geveg. Ek het die ideaal van ’n demokratiese en vry samelewing gekoester waarin almal in harmonie saamleef en met gelyke geleenthede. Dit is ’n ideaal wat ek hoop om voor te leef en ’n werklikheid te sien word. Maar, Edelagbare, as dit nodig is, is dit ’n ideaal waarvoor ek bereid is om te sterf.”

Treffende woorde deur ’n man wat mense oral in die wêreld geïnspireer het. Malema kan ons nie in daardie rigting lei nie; Ramaphosa wel.

Meer oor:  Anc  |  Eff  |  Henry Jeffreys  |  Julius Malema  |  Rassisme  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.