Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rassisme lê in onderbewuste

Verlede week het prof. Anton van Niekerk geskryf oor die impak van ras op prins Harry en Meghan­, hertogin van Sussex, en hoe lede­ van die koningshuis se houdings teenoor ras hulle raak.

Van Niekerk laat dit klink asof houdings oor ras op die bewuste vlak voorkom en as mense net reflekteer oor hoe hulle oor “die ander” voel, rassisme sal ophou. Ek wil met hom verskil, want dit is juis houdings wat op ’n onbewuste vlak voorkom wat die grootste probleem is.

In haar boek Why I’m No Longer Talking to White People About Race skryf Reni Eddo-Lodge (’n swart joernalis) oor rassisme in Engeland: “I’m no longer engaging with white people on the topic of race . . . I just can’t engage with the bewilderment and the defen­siveness as they try to grapple with the fact that not everyone experiences the world in the way that they do . . . The words hit a barrier of denial . . . That is the emotional disconnect.”

Die probleem wat Eddo-Lodge uitwys, is dat wit mense doof en verdedigend word sodra sy met hulle oor ras praat. Dit is soos wanneer ’n feminis met mans oor seksisme praat wat dan voel hulle word persoonlik aangespreek eerder as om te probeer verstaan hoe vroue die probleem ervaar.

Dit is Meghan se uitlatings teenoor Oprah Winfrey wat haar die probleem maak, nie die manier waarop die Britse koningshuis of publiek haar behandel het nie.

Lank voordat Harry en Meghan na die VSA verhuis het, was daar nimmereindigende koerantberigte oor alles wat Meghan “verkeerd” doen – hoe sy haar baba vashou, hoekom sy avokado op haar brood eet. Dit was konstante kritiek wat aan haar wou tuisbring dat sy nie eintlik inpas of “wit” genoeg is vir die koningshuis nie. In ’n studie van 843 koerantberigte was net 20% positief oor haar. Ras is nooit by die naam genoem nie, maar was altyd die subteks.

Witheid is ’n lewensingesteldheid wat saamhang met ’n belewenis van die wêreld waar die leefwyse, norme en simbole van “witwees” as normaal ervaar word. Dit is wat Sara Ahmed, ook van Engeland, beskryf as om “gestop” te word. Die institusionele kultuur sal wit mense laat voortgaan waarmee hulle ook al besig is, maar swart mense sal metafories gestop word omdat hulle nie inpas nie. Hulle sal allerlei versperrings moet oorkom voordat hulle aanvaar word in die binnekring van “witheid”.

Dis waaroor #RhodesMustFall of #OpenStellenbosch in 2015-’16 gegaan het – die onsigbare mure wat swart mense keer. Dit gaan nie oor die veroordeling deur die gesproke woord of die liggaamstaal oor die ander nie, maar oor hoe mense uitgesluit word uit die groter leefwêreld van wit mense. Dit het Meghan so diep geraak dat sy obsessief oor selfdood gedink het. Dit het die mees verpletterende impak op die psige van ’n mens.

Ahmed wys ook daarop dat as jy die een is wat rassisme of seksisme opper, word jy dadelik die probleem. Jy is die probleem, nie ander se rassisme of seksisme nie. Dit is Meghan se uitlatings teenoor Oprah Winfrey wat haar die probleem maak, nie die manier waarop die Britse koningshuis of publiek haar behandel het nie.

Rassisme is gekoppel aan strukturele toestande of strukturele rassisme. Dit gaan oor die beskerming van ’n leefwyse, voorregte en norme – ongeag hoe dit diegene raak wat nie wit is nie. In die VSA het Kamala Harris vir baie wit mense simbolies geword van alles wat “verkeerd” geloop het met die VSA.

Om rassisme op ’n rasionele vlak aan te roer, is om die probleem mis te kyk. Eddo-Lodge se boek bewys hoe moeilik dit is om met anti-rassisme te werk – heel boaan is die passiewe aggressie van wit mense wat geregtig voel om haar aan te val sonder ’n kriesel bewyse.

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap van die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Meghan  |  Prins Harry  |  Koningsgesin  |  Rassehaat  |  Rassisme  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.