Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rassisme skuil dikwels in ons onderbewuste
Nico Koopman

Die tragiese dood van George Floyd in Minneapolis, Amerika, aan die hand van ’n polisielid benadruk opnuut die belangrikheid van ’n volgehoue stryd teen rassisme en ander vorms van diskriminasie.

Om rassisme te oorkom en tragedies soos hierdie te voorkom, moet ons drie vorms van rassisme onderskei en bestry.

Eerstens is daar die rassisme van vooroordeel. Ons funksioneer met bewuste, en meermale onderbewuste, vooroordele teenoor ander kleurgroepe. Van die groepe word beskou as minderwaardig wat onder meer intellek, moraliteit, gesofistikeerdheid, rasionaliteit, emosionaliteit en fisieke voorkoms betref.

Dit word dan in samelewingstrukture vasgelê – sogenaamde strukturele rassisme. Apartheid is een van die beste voorbeelde van die strukturering van diskriminerende vooroordele. Om rassistiese vooroordele in die strukture, beleide en praktyke vas te lê, vereis dat ek politieke en veral ekonomiese mag moet hê.

Die derde vorm van rassisme is die regverdiging van rassistiese vooroordele en strukture deur die misbruik van godsdienstige en sekulêre lewensbeskouinge en singewende raamwerke.

Die drie vorms van rassisme vind ook neerslag in ander vorms van diskriminasie, soos op grond van onder meer gender, sosio-ekonomiese posisie, seksuele oriëntasie, gestremdheid en ouderdom.

Om rassisme af te breek moet ons mekaar bewus maak van ons subtiele en onderbewuste diskriminerende vooroordele.

Almal droom van ’n nierassistiese samelewing. Ons droom selfs van ’n nierassige samelewing – een waar ras nie tel nie, waar onregte en ongelykhede wat oor eeue heen langs kleurlyne ontwikkel het nie meer bestaan nie; ’n samelewing waar regstelling, billikheid en ’n lewe van kwaliteit vir almal ontwikkel het.

Om rassisme af te breek moet ons mekaar bewus maak van ons subtiele en onderbewuste diskriminerende vooroordele. Ons is dikwels bewustelik gloeiend téén rassisme, maar dan skuil daar rassistiese vooroordele in ons op onderbewuste vlak. Soms verwond ons mekaar met ’n onderbewuste diskriminerende woord, gebaar, liggaamshouding of voorkeur. Die rassisme van vooroordeel word ook gesien in die gemaklike toeskryf van faktore wat sosiologiese en ander wortels het aan mense se ras.

Ons moet daarop wys hoe diskriminerende vooroordele skuilgaan in strukture, beleide en praktyke. En ons moet mobiliseer deur die ryke bronne in ons lewensbeskoulike tradisies positief te gebruik om gelykheid en menswaardigheid te bevorder.

As ons aan hierdie vorms van rassisme en ander vorme van diskriminasie werk, sal ons nie net die byna alledaagse, minder opsigtelike pyn van diskriminasie oorkom nie, maar uiteindelik ook die kru en sigbare vorme daarvan, soos dié in Minneapolis, wat uit die onderbewuste vorms van diskriminasie drink.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Polisiegeweld  |  Rassehaat  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.