Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Reaksie op Ashwin wys wit ontkenning, onkunde

Die reaksie op die Ashwin Willemse-voorval ontbloot ’n klomp wit mense wat ná twee dekades van demokrasie steeds nie die skade van rassisme wil verstaan nie, skryf Christi van der Westhuizen.

Die openbare rusie oor die SuperSport-aanbieder en voormalige Springbok-rugbyspeler Ashwin Willemse wys dat hy deur ’n waas van wit ontkenning gebreek het, en in die proses ’n teer puntjie oor rugby in die apartheidsera aangeraak het.

Dit wys ook dat sommige wit mense bloot net weier om die skade van kolonialisme en apartheid, en die voortgesette ideologie van rassisme, te verstaan.

Ashwin Willemse het Saterdag uit SuperSport se ateljee in Randburg gestap tydens ’n uitsending. Foto: Nasief Manie

Sommige wit mense se reaksie op Willemse se optrede dien as illustrasie van hoe witheid werk. Witheid in die postapartheidsera het spesifieke eienskappe.

Die afgesaagste een met die grootste dividende vir wit mense is wit ontkenning van die geskiedkundige feite en bestaande rassisme.

Die onregverdige bevoordeling van wit mense oor eeue heen het die wit welvaart van vandag bewerkstellig.

In verregse kringe word die idee van wit bevoorregting bevraagteken. Maar dit is gewoon oneerlik om te sê dat kolonialisme en die gepaardgaande geweld en uitbuiting van gekoloniseerde mense nié wit mense gebaat het nie.

Ja, jou voorouers moes ook werk, maar die verskil is dat hul werk beloon is. Daarteenoor kon swart mense so hard werk as wat hulle wou, maar met die verlies aan hul grond en ander eiendom, en die hongerlone wat hulle betaal is, het die meerderheid ’n oorlewingsbestaan gevoer.

Wat die reaksies op Willemse ontbloot, is dat ’n klomp wit mense ná meer as twee dekades van demokrasie steeds nie die skade van rassisme wil verstaan nie.

Nog ’n feit is dat ons voorouers op rassisme staatgemaak het om genoemde roof te regverdig. Die aftakeling van swart mense (ek sluit hierby bruin mense in) was dus nie net op materiële vlak nie, maar ook op die vlak van menswaardigheid.

En rassisme het nie in 1994 geëindig nie. Allermins. Daarvan spreek baie van die uitbarstings van wit mense in die rusie oor Willemse se optrede.

Hierdie onding is springlewendig.

Opsetlike wit onkunde

Wit ontkenning is nou verwant aan wit onkunde. Albei dié eienskappe maak op die hoofeienskap van witheid staat: gewaande wit verhewenheid.

Wat die reaksies op Willemse ontbloot, is dat ’n klomp wit mense ná meer as twee dekades van demokrasie steeds nie die skade van rassisme wil verstaan nie.

Wit onkunde is belangrik om wit ontkenning in stand te hou. Daarom dat baie wit mense hard daaraan werk om hulself oningelig te hou oor die feite van die werklike menslike koste van kolonialisme en apartheid, en die gepaardgaande ideologie van rassisme.

“Kwotaspeler” is ’n perfekte voorbeeld van die soort kodifisering van rassisme wat deesdae gebeur.

Hierdie opsetlike onkunde maak dit moontlik vir sommige wit mense om iemand soos Willemse af te lag, of om voor te gee dat hulle nie weet waarvan hy praat nie. Daarteenoor, geoordeel aan sosiale media en radio-geselsprogramme, weet die meeste swart mense presies waarvan hy praat, want hulle het dit al self ervaar.

Willemse se protes was klokhelder. Hy het verwys na “neerbuigende” behandeling deur sy mede-aanbieders, Nick Mallett en Naas Botha, en dat hy ’n “kwotaspeler” genoem is hoewel hy in eie reg respek as ’n toprugbyspeler gekry het.

Nick Mallett, een van Ashwin Willemse se mede-aanbieders, ná ’n vergadering Dinsdag. Foto: Deaan Vivier

Die “neerbuigendheid” waarna hy verwys het, staan in die akademiese literatuur bekend as “mikro-aggressies” en “mikro-vyandighede”.

Dit gebeur in alledaagse interaksies, presies waar die weefsel van menseverhoudings gevorm word. Die giftige uitwerking van die illusie van wit verhewenheid begin daar.

Om iemand wat anders as jy is te verkleineer in ’n gesprek deur in sy of haar gesig te lag, kom neer op ’n mikro-aggressie. Die persoon aan die ontvangkant weet as dit te make het met hul ras, geslag, liggaamsvermoë of ander merker van andersheid.

Nes die dikwels implisiete aanvaarding van manlike verhewenheid gebruik word om seksuele teistering as normale gedrag voor te stel, skep die implisiete aanvaarding van wit verhewenheid die omstandighede vir wat as rasse-teistering beskryf kan word.

‘Kwotaspeler’ kodifisering van rassisme

Om vas te stel of iets ’n mikro-aggressie of teistering is, is die eerste vraag altyd: Wat is die effek van daardie opmerking, gebaar of gesigsuitdrukking?

Mark Lamberti het as Imperial se uitvoerende hoof bedank nadat die hooggeregshof hom skuldig bevind het aan ras- en geslagsdiskriminasie teenoor ’n voormalige werknemer. Foto: Verskaf

As dit verkleinerend is – dus iemand as minder voorstel as wat hulle is – is dit ’n negatiewe magsuitoefening op die mikro-vlak. As die verkleinering op grond van iemand se ras is, is dit ’n voorbeeld van wat die Afro-Nederlandse denker Philomena Essed “alledaagse rassisme” noem.

Dat die wrywing tussen die drie aanbieders oor ras gaan, is bevestig deur Willemse se verwysing daarna dat hy ’n “kwotaspeler” genoem word, en dat hy sê “ek sal nie neerbuigend behandel word deur twee individue wat in apartheid, in ’n gesegregeerde era, gespeel het nie”.

“Kwotaspeler” is ’n perfekte voorbeeld van die soort kodifisering van rassisme wat deesdae gebeur.

Omdat blatante rassisme meestal onaanvaarbaar is, word kodewoorde soos dié gebruik om nie net aan te dui dat iemand swart is nie, maar dat hulle op grond daarvan nie die posisie verdien waar hulle is nie.

’n Soortgelyke voorbeeld is Mark Lamberti, voormalige uitvoerende hoof van Imperial, wat die senior bestuurder Adila Chowan “female employment equity” genoem het.

Só is haar ras gekodifiseer en is geslag ook bygesleep om aan te dui dat sy nie die pos verdien het waarin sy was nie.

Die ontsteltenis van sommige wit mense hou verband daarmee dat Willemse as ’n swart mens durf waag het om ’n toksiese rasse-wisselwerking te ontbloot.

Christi van der Westhuizen.

Deel hiervan was sy herinnering aan die historiese feit dat Mallett en Botha gesegregeerde rugby in die apartheidsera gespeel het.

In daardie sin ken Willemse nie “sy plek” nie.

Vir sommige wit mense is swart mense net aanvaarbaar as hulle met wit ontkenning saamspeel. Dus is die ontstoke openbare reaksie daarop gemik om Willemse, maar eintlik ook álle swart mense, te dissiplineer.

In dié raamwerk moet swart mense inval by die huidige werklikheid van alledaagse rassisme en die ontkenning van die geskiedenis van opsetlike benadeling van mense op grond van ras.

Die onaangenaamste van Willemse se konfrontasie vir sommige ontstokenes was waarskynlik dat hy almal herinner het dat wit rugbyspelers minder mededinging gedurende apartheid moes trotseer omdat ander, moontlik beter, spelers op grond van hul velkleur uitgesluit is.

* Prof. Van der Westhuizen is ’n genoot van die Democracy Works-stigting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.