Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Reaksie op groenskrif wys eg ‘moet patriargie in stand hou’

Waarom word norme vernietig as ’n vrou meer as een man het, maar nie in die geval van mans wat meer as een vrou het nie? Christi van der Westhuizen bekyk reaksies op die Groenskrif oor Huwelike.

’n Nuwe wet oor huwelike is lankal reeds in Suid-Afrika nodig. Foto: Argief

As ’n mens ooit getwyfel het aan hoe belangrik die huwelik as instelling vir manlike oorheersing in die samelewing is, wys die reaksies op die nuwe Groenskrif oor Huwelike in Suid-Afrika hoe sake staan.

En dit alles oor die moontlikheid dat vroue toegelaat kan word om meer as een eggenoot te hê, soos mans tans reeds toegelaat word.

’n Nuwe wet op huwelike is lankal reeds nodig. Die benadering tot dusver was om die verskillende huweliksrituele in die land elk met ’n afsonderlike wet te reguleer, eerder as om een “harmonieuse” oorkoepelende stelsel in plek te stel.

Tans is heelparty vorme van huwelike, waaronder Joodse, Moslem- en Hindoe-huwelike, ten spyte van verskeie pogings van regeringskant nog ongereguleer.

Die gebrek aan regulering stel vroue aan erge diskriminasie bloot. Gegewe dat vroue in die algemeen ekonomies steeds ontmagtig is, kan ’n vrou wat nie wetlik getroud is nie maklik sonder ’n heenkome sit.

Dié vroue kan hulle nie beroep op eiendomsreg of erflatings nie – byvoorbeeld in gevalle waar die man dood is en sy familie sy eiendom opeis. Hulle verloor soms selfs hul reg tot toegang tot die kinders. Hul beroerde ekonomiese posisie maak regshulp buite hul bereik.

Die Wet op Burgerlike Verbintenisse van 2006 was die kulminasie van jare lange aktivisme om die beginsel van gelykheid voor die reg vir lesbiërs en gay mense te verwesenlik.

Dan is daar die probleem met die Wet op die Erkenning van Gewoontereg-huwelike wat trou met minderjariges (gewoonlik meisies) toelaat. Dat dié klousule in die demokratiese era aanvaar is – die wet is in 1998 bekragtig – is ’n klad op ons Grondwet.

Daar is ook die Huwelikewet van 1961 en die Wet op Burgerlike Verbintenisse van 2006. Laasgenoemde was die kulminasie van jare lange aktivisme om die beginsel van gelykheid voor die reg vir lesbiërs en gay mense te verwesenlik.

Hierdie wet het ook ’n probleem gehad, die sogenaamde gewetensklousule, wat intussen reggestel is.

Heteroseksuele kan ook ingevolge die Wet op Burgerlike Verbintenisse in die eg verbind word. Die Wet op die Erkenning van Gewoontereg-huwelike laat mans ook toe om met verskeie vroue te trou.

Dié twee wette bied dus erkenning daaraan dat ’n verskeidenheid intimiteite bestaan.

’n ‘Aftakeling van waardes’?

Christi van der Westhuizen

Maar die ontstokenheid oor die voorstel in die groenskrif om poliandrie, naas poligamie, toe te laat om die ongelykheid in die gewoontereg-wet reg te stel wys dat sommige mense steeds meen intimiteit mag slegs volgens húl eng voorskrifte geskied. Dit onthul baie oor die stand van geslagsverhoudinge – ongelukkig nie ten goede nie.

Die kommentaar van die Juma Mashid-trust, byvoorbeeld, is dat mans wat by die huis “aandoen” negatief op kinders sal inwerk, en die gesinstruktuur en kulturele waardes sal vernietig.

Maar die voorstel is tog nie vir mans wat kom en gaan nie, maar permanent in die huis as getroude eggenote van die vrou woon.

Die Juma Mashid-trust se voorstelling van mans wat by die huis “aandoen”, is van só ’n vrou as seksueel losbandig. Die trust sê dan ook dat “sedelike” vroue nie die voorstel sal aanvaar nie.

Maar hoekom beskou ons nie mans met vele vroue as losbandig nie? Waarom word norme vernietig as ’n vrou meer as een man het, maar nie in die geval van mans met meer as een vrou nie?

Die norm ter sprake hier is die manlike seksuele prerogatief. Vroue durf nie toegelaat word om legitiem dié prerogatief vir hulself op te eis nie.

Poliandrie onderstreep vroue se reg om self te besluit met wie hulle seks het en met wie hulle voortplant. Maar dit word voorgehou as ’n aftakeling van 'waardes'.

Insgelyks die reaksie van die Genesersvereniging wat glo die standpunt van sommige tradisionele genesers verteenwoordig.

Volgens hulle is poliandrie ’n belediging vir vroue en vir die “kultuur”.

Poliandrie onderstreep vroue se reg om self te besluit met wie hulle seks het en met wie hulle voortplant. Maar dit word voorgehou as ’n aftakeling van “waardes”.

Hier sien ’n mens weer eens die opvatting van vroue as die beliggaming van kulturele waardes. Só ’n oogpunt maak dit baie belangrik vir sommige mans om vroue se liggame te beheer, want die sogenaamde waardes ter sprake is patriargaal.

Die vereniging het ook gewaarsku dat die wettiging van poliandrie tot meer huishoudelike geweld sal lei. Die suggestie is dus dat mans geregtig daarop sal wees om vroue aan te rand wat self besluit hulle wil meer as een man in hul lewens hê.

Die kommentare sluit aan by die politieke party Al Jama-ah wat verklaar het dat DNS-toetse ingebring sal moet word om vaderskap van kinders te bevestig. Hierdie opmerking bring ons nog nader aan wat op die spel is.

Weer eens is die suggestie dat ’n vrou met vele mans losbandig is, selfs al is sy getroud met hulle. Maar meer as dit: Mans sal nou nie meer kinders as eerstens hul eie kan opeis nie.

Dit sluit aan by ’n klagte van ’n manlike lid van die publiek dat vroue nou met buitelandse mans gaan trou, en dan gaan Suid-Afrikaanse mans “slawe” in hul eie land word.

Vroue en kinders as hulpbronne

Die laaste stuk in die legkaart van die manlike teenkanting is dat poligamie net vir mans met die nodige geldelike vermoë beskore is, aldus die Juma Mashid-trust. Die Genesersvereniging beaam dit, en voeg by dat poligamie ’n gawe van die voorvaders is.

Lobolo is ’n blyk van waardering aan die vrou se gesin van oorsprong.

Die huwelik as instelling moet hierdie hok vir die patriargie beveilig.

Hierdie opmerkings spreek tot die hart van die patriargale stelsel. Die beheer oor vroue se seksualiteit en voortplantingsvermoë gaan oor die beheer van beide vroue en kinders as hulpbronne, ook vir die voortsetting van die pa se naam.

Die ma is die voertuig daarvoor. Of, om presies te wees, haar liggaam is. En daarom moet sy streng ingehok gehou word met die opvatting dat nóg haar seksualiteit nóg haar voortplantingsvermoë aan haar behoort. Die huwelik as instelling moet hierdie hok vir die patriargie beveilig, aldus die patriarge minstens.

Bo en behalwe die openlike verbintenis tot die onderdrukking van vroue waarvan hierdie menings spreek, drup hulle ook van die skynheiligheid. Want ons weet tog dat baie huwelike, ongeag godsdienstige oortuiging, ook elkeen hul “skelmpie” of twee het wat mans hulself veroorloof as een van die ongesproke regte wat bestaande huweliksvorme vir hulle verskans.

Van der Westhuizen is mede-professor by die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie aan die Nelson Mandela-Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Christi Van Der Westhuizen  |  Huwelik  |  Poligamie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.