Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Realiteite wag ná WB-vreugde
Gert Coetzee

Cheslin Kolbe is so rats hy kan glo drie Engelse rugbyspelers in ’n telefoonhokkie systap. Soos ’n snelle fantoom het hy deur die Engelse muur geglip en gaan druk. Suid-Afrika se derde verowering van die rugby-wêreldbeker is beklink. Euforie!

Wat nou? In die doodsakker van Milnerweg in Bloemfontein jaag mense steeds soos besetenes – selfoon teen die oor. Op die hoek van Charles- en Wes-Burgerstraat lê die fladderende gemors smetterig waar die Mangaung-metro dit vir dae of weke nie kom oplaai nie.

Die slaggate is groter, die riool stinker, water minder en krag onseker. En by Prellerplein is ’n rooftog gepleeg.

Wat ’n vuil verwelkoming sou dit gewees het, as die Springbokke dit sou gewaag het om in Bloemfontein ook te kom spog. Dalk kom hulle nog.

Van Suid-Afrikaanse kant was die reaksie dieselfde én anders as in 1995.

Ja, niks het verander nie. Ons realiteite verdwyn nie. ’n Aardse hemel sonder probleme gaan ons nooit wees nie. Die WB 2019-sege wys hoe Suid-Afrikaners dors na hoop, inspirasie en verandering. Asook waartoe ons in staat is – as ons wil. Soos vir die Springbok-rugbyspan verg dit keuses.

Die Bokke, onder Rassie Erasmus (as minister van verdediging, hoor ek), se les is as ons ons potensiaal reg ontgin en saamstaan ons ’n wêreldkampioen kan wees. Hul welslae getuig van rolmodelskap en mentorskap – vir diegene wat wíl. Die hoeksteen hiervan is dat hulle wóú wen om van Suid-Afrika ’n beter plek te maak.

Prins Harry het in die kleedkamer gesê (terwyl hy die springbroekie van Faf probeer miskyk): “Rugby speel ’n massiewe rol om mense wêreldwyd te verenig. Tans kan ek nie dink aan ’n land wat dit meer nodig het as julle nie.” Soet vreugde, maar realiteite wag.

Van Suid-Afrikaanse kant was die reaksie dieselfde én anders as in 1995.

“Ons waardeer al die steun – mense in tavernes, in die sjebiens, op plase, daklose mense en diegene in landelike gebiede,” het Siya Kolisi, kaptein, gesê.

En Erasmus, op ’n vraag, het volhard die druk op die Bokke om vir Suid-Afrika te speel is ’n voorreg. “In Suid-Afrika is dit (druk) as jy nie nie ’n werk het nie, of ’n nabye familielid het wat vermoor is. Rugby moenie druk wek nie; dit moet hoop skep. Ons het ’n voorreg – nie ’n las nie.

Hoop is wanneer jy goed speel en mense kyk na die wedstryd en braai lekker, en ongeag politieke of godsdienstige verskille, stem julle saam selfs waar julle gewoonlik verskil.

“Hoop is wanneer jy goed speel en mense kyk na die wedstryd en braai lekker, en ongeag politieke of godsdienstige verskille, stem julle saam selfs waar julle gewoonlik verskil.”

Die ander ooglopende verskil van 2019 teenoor 1995 is natuurlik die span se kompleksie (ons bly in Suid-Afrika). En dat van die groot helde nóú swart is en uit arm toestande kom.

Die een tante (anoniem, maar haar naam wys onder haar profiel) het voor die WB 2019-eindstryd daagliks per WhatsApp beswaar aangeteken dat die Springbok-spelers op foto’s swart is.

“Waar’s die goeie ou dae tog,” was haar lament. Tante, Volksblad dra nie foto’s van swart of van wit Springbokke nie, maar van Springbokke.

Ons spieël die werklikheid.

Maar suurgattiges sal met ons wees.

Soos die Engelse ná hul nederlaag.

En die EFF wat ná die sege wittes se rol misken. Want as hulle dit erken, het di party nie ’n bestaansreg nie. Of Steve Hofmeyr wat twiet: “Laat die Siya-inspuiting jou verlam, sodat jy nie sal terugbaklei as ons die grond onder jou gat kom uitgryp omdat jy blank is nie.”

Hoe bitter kan die lewe tog wees.

Die werklikheid is ons leef in ’n land met swart en met wit mense, waarvan verreweg die meeste swart is.

As jy nie daardie gemoedskuif kan maak in Suid-Afrika 2019 nie, en jy wil in óns land bly, wag swarigheid. Dit beteken nie ’n lae peil, korrupsie of diskriminasie hoef geduld te word nie.

Leef én laat leef. Dit leer 2019 se Springbokke, die wêreldkampioen, ons.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Bokke  |  Wb  |  Realiteit  |  Wb-Sege
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.