Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Redes vir Britte se skeptisisme
Willie Spies

Vandag 70 jaar gelede het die Deutsche Bundesrepublik, oftewel Wes-Duitsland soos dit destyds algemeen bekend was, tot stand gekom.

Die geskiedenis van Duitsland is besaai met ironie, tragedie, die rampspoed van totalitêre Nazi-heerskappy, vernedering en uiteindelik hereniging 29 jaar gelede.

Nadat Duitse stadstate sedert die 1870’s onder leiding van Otto von Bismarck se leiding verenig het tot ’n magtige nasiestaat, was Duitsland ’n vername bedreiging vir sowel Britse imperialisme as Franse nasionalisme. Die spanning en wedywering tussen die Weste se twee groot moondhede sou onafwendbaar uitloop op die Eerste Wêreldoorlog en die vernederende vredesvoorwaardes van Versailles.

Lloyd George, destydse liberale Britse eerste minister, het die Vrede van Versailles nie as ’n vredesluiting beskou nie, maar bloot as ’n 20 jaar lange skietstaking. Die Duitse vernedering ná die Eerste Wêreldoorlog sou bloot die tafel dek vir die waansin van Adolf Hitler en die uiteindelike katastrofiese Tweede Wêreldoorlog.

Die muur tussen Oos- en Wes-Berlyn sou die simbool raak van die Koue Oorlog tussen die Weste en die Sowjetblok.

Die totstandkoming van Wes-Duitsland op 23 Mei 1949 was die gevolg van die vredesvoorwaardes ná die Tweede Wêreldoorlog. Die destydse verenigde Duitsland van Hitler en die hoofstad, Berlyn, is verdeel in vier besette gebiede, elk onder beheer van die vier groot geallieerde moondhede: die VSA, Brittanje, Frankryk en die Sowjetunie onder diktatorskap van Joseph Stalin.

Eersgenoemde drie moondhede het aan die gebiede onder hul beheer selfbeskikking verleen onder die kanselierskap van Konrad Adenauer, maar Stalin het besluit om die deel onder Sowjet-beheer, Oos-Duitsland, te behou. In die veelbewoë geskiedenis van ’n verdeelde Oos- en Wes-Duitsland wat gevolg het, is ongeveer 140 mense tussen 1961 en 1975 dood in hul pogings om vanaf Oos- na Wes-Berlyn te ontsnap.

Die muur tussen Oos- en Wes-Berlyn sou die simbool raak van die Koue Oorlog tussen die Weste en die Sowjetblok. Die skouspelagtige val van die muur 30 jaar gelede was eweneens simbolies van die nuwe wêreldorde wat sou volg op die val van kommunisme en die soveelste hereniging van Duitsland.

Vandag stem Europeërs vir lede van die Europese parlement met sy 750 lede.

Vandag stem Europeërs vir lede van die Europese parlement met sy 750 lede. Die land met die grootste verteenwoordiging is Duitsland, met 96 lede. Frank-ryk volg met 74 lede, terwyl Brittanje en Italië elk 73 lede het.

Vir Brittanje gaan vandag se verkiesing moontlik die laaste Europese verkiesing wees, behalwe as sprake van ’n tweede referendum en ’n moontlike omkeer van die Brexit-plebissiet van drie jaar gelede ’n werklikheid word. Aanduidings is egter dat die grootste wenner in Brittanje se verkiesing van Europese parlementslede juis Nigel Farage se Brexit Party gaan wees, met meer as ’n derde van die Britse setels.

Farage was die afgelope twee dekades as Europese parlementslid en leier van die UK Independence Party die verpersoonliking van nasionalistiese Britte se versugting na onafhanklikheid van en skeptisisme teenoor Europa. Hy sal ook in die geskiedenis onthou word as die enigste politikus wat hom sy lewe lank daarvoor beywer het om sy eie posisie in die politiek, as lid van die Europese parlement, tot niet te maak.

Duitsland is vandag die onbetwiste leier onder Europese lande wat getalle, invloed en die krag van sy ekonomie betref. Hy het deur diplomasie, vrede, demokratiese politiek en veral ekonomiese groei veel meer “veroweringswerk” in Europa gedoen as wat keiser Wilhelm II of die waansinnige Hitler in twee wêreldoorloë kon uitrig.

Dit verklaar dalk Britte se skeptisisme oor die Europese Unie-projek.

Meer oor:  Willie Spies  |  Rusland  |  Politiek  |  Europese Verkiesing  |  Europese Unie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.