Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Reënboë spat soos kesies in die poele speel
Gerhard Verdoorn

Swartblou kranse verskyn uit die mistige wolke wat uit die bergkoninkryk ter aarde neerdaal. Die hange lê rustig en wag op die winter wat hulle grasgewaad sal verdor en groen na oker verkleur. Water drup-drup oral op struik en varing en sypel die aarde in waar dit geesgenote soek op pad na die albasterpoele.

’n Berglyster sit opgepof op die sandsteenrotse waar die glimmer van mistigheid ligene optower. Sy maat kam vere en skud ’n reënwolk mistigheid uit haar vlerke voor die twee in die miswolke verdwyn.

Die kabbelende waters kom uit alle rigtings die klowe af, vol beloftes van helderheid wat onder in die vallei versamel. Ribbokke luister aandagtig na die water en ruik die bitter geur van bergkiepersol se dofgroen blare.

’n Bergadder seil skelm onder sy rotsherberg in om die kille mistigheid te ontsnap. Rooivlerkspreeus fladder in die mistigheid op pad na neste onder oorhangkranse waar volveerkuikens honger op hul insekmaaltyd wag. ’n Baardaas-voël sweef geruisloos uit die mistigheid en verdwyn weer spookagtig anderkant die donker kranse op pad na êrens waar die beendere van ’n gestorwene lê en wag.

Kleintjies plons in die poele, trek sterte en karnuffel mekaar in die helderskone water. Reënboë spat soos die kleingoed baljaar.

Onder in die vallei lê die stroom en sy poele borrelend van helder waters waar miljoene jare se wind, weer en klein klippies meesterlik hul kunswerke in die sandsteen gebeitel het. Gladde geute lei die waters na helder kolke waar dit draai en spat so asof die waters self kon lag.

’n Ronde maalklip tol stadig in die kolk om sy skepping verder af te rond. As die groot komeet weer oor vyftig somers kom, sal die maalklip se kunswerk beswaarlik sigbaar wees, maar oor eeue sal die kolk ook in ’n groot albasterpoel uitgekalwe word.

’n Trop kese werk geselserig teen die hange na die poele af. Knolle en kewers swig voor hulle ratse oë terwyl die ou brandwag gedurig berg toe kyk vir die witkruis of luiperd wat miskien in die miswolke sluwe planne maak. By die poele skree bobbejaankinders van opgewondenheid. Wyfies versamel op die sandsteentrone om die poele en praat brom-brom. Die ou man vat setel op die hoogste rots en gaap ’n dreigement met vreesaanjaende slagtande vir enigiets wat die span se pret wil bederf.

Kleintjies plons in die poele, trek sterte en karnuffel mekaar in die helderskone water. Reënboë spat soos die kleingoed baljaar. Die elandtrop wag geduldig in die digte bos vir hulle drinktyd terwyl die bruinlywe hulle deel van die dag se water geniet.

Dan blaf die ou kees ’n bevel en die wyfies vis kleingoed uit die poele. Sommige stribbel nog teë maar stewige hande veeg hulle weerstand weg. Die trop vertrek vallei op na die hoogtes waar aalwyne se eerste blomme lekker soetigheid offer. Elande kom soos skimme uit die bos en neem gelid langs die kanaal in waar miljoene jare se waters die sandsteen kunstig poleer het. Versigtig drink die elande hul daaglikse dors weg terwyl klein blink vissies onder in die albasterpoele dartel.

  • Dr. Verdoorn is ’n natuurliefhebber en bewaarder.
Meer oor:  Gerhard Verdoorn  |  Omgewing  |  Natuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.