Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rees-Mogg, dis mos pure onsin!
Leopold Scholtz

Baie Afrikaners het emosioneel gereageer op die onsin wat die Britse parlementslid Jacob Rees-Mogg oor die konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog kwytgeraak het.

Hy het onder meer beweer die kampe was bedoel om die vroue en kinders daarin te beskerm en te voed.

Rees-Mogg is ’n aartskonserwatiewe Tory, en as sodanig een van die Brexit-voorbokke. Hy is ’n tipiese voorbeeld van iemand wat nog meen die Britse imperialisme was iets fantasties.

In ons reaksie moet ons egter ook nie oorboord gaan nie. Rees-Mogg het reg as hy daarop wys dat die Britse kampe nie bedoel was om die Afrikaners fisiek uit te moor nie, in teenstelling met die Nazi-kampe wat Jode wóú vermoor.

Die konsentrasiekampe wat lord Kitchener, destyds bevelvoerder van die Britse magte in Suid-Afrika, opgerig het, het ’n ander doel gehad. Dit moet teen die agtergrond van die teorie van teeninsurgensie-oorlog beskou word.

Mao Zedong het guerrillas vergelyk met vis wat in water swem. Nes die vis nie sonder water kan oorleef nie, is guerrillas afhanklik van die hulp – huisvesting, kos, inligting – van die plaaslike bevolking.

Bowendien het die Britte met hul gevoel van meerderwaardigheid ook nie juis omgegee oor wat met die vroue en kinders gebeur nie.

Dis hoekom die Britse goewerneur van Maleia, sir Gerald Templer, in die 1950’s se stryd teen kommunistiese insurgente met ’n nuwe benadering gekom het. Die swaartepunt van die stryd was nie soseer die uitskakeling van die guerrillavegters nie, het hy geleer, maar om die “hearts and minds” van die plaaslike bevolking te wen.

Dis iets wat die Duitsers in hul besetting van Europa (1940-’44) en die Nederlanders in hul oorlog teen die Indonesiese nasionaliste (1946-’49) nie begryp het nie. Hulle het die plaaslike bevolking hardhandig behandel en só in die opstandelinge se arms gedryf.

In Suid-Afrika het Kitchener die idee tot sy uiterste gedryf. Dit het nie eens by hom opgekom om die plaaslike bevolking se lojaliteit te probeer wen nie; hy het hulle eenvoudig massaal van die toneel verwyder en in kampe opgesluit.

Dit het veels te vinnig en ongeorganiseerd gebeur – die kampe was nie in staat om soveel mense so gou te ontvang nie. Bowendien het die Britte met hul gevoel van meerderwaardigheid ook nie juis omgegee oor wat met die vroue en kinders gebeur nie.

Dit was eers nadat Emily Hobhouse in Brittanje rugbaarheid aan die saak gegee het dat Kitchener gedwing is om die toestande in die kampe te verbeter. Teen die einde van die oorlog was die sterftesyfer byna “normaal”.

Hoeveel vroue en kinders het gesterf? Wel, die tradisioneel aanvaarde syfer van 26 000 is ’n onderskatting. Volgens navorsing van Andries Raath en Ce­lesté Reynolds moet dit nader aan 34 000 wees. Plus ’n minimum van 20 000 swart mense, waarskynlik meer.

Interessant genoeg het die Portugese in hul teeninsurgensie-oorlog in Afrika versterkte dorpe – “aldeamentos” – gebruik, wat dieselfde rol as die Britse konsentrasiekampe gespeel het. Die Rhodesiërs het iets soortgelyks gedoen.

Die konsentrasiekampe het egter so ’n letsel op Afrikaners se psige gelaat dat die SA Weermag (SAW) nooit so iets in sy stryd teen Swapo in Suidwes-Afrika probeer doen het nie.

Trouens, uit interne dokumente uit dié tyd blyk dit dat die SAW goed besef het dat hy die plaaslike bevolking van die insurgente moes losweek.

In Ovamboland was die sukses beperk; in die res van die land groter. Maar omdat Swapo grotendeels ’n Ovambo-organisasie was en dus op die meerderheid se steun kon reken, kon hy die verkiesing in 1990 wen.

Terug by Rees-Mogg: Die man is ’n opperste dwaas. Iemand moet aan hom verduidelik dat die Britte regtig geen uitverkore volk is nie.

Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.