Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Reg en praktyk bots oor taal
Willie Spies

Die Verenigde Nasies (VN) se Deklarasie aangaande die Regte van Persone wat aan Nasionale of Etniese, Godsdienstige of Taalminderhede behoort, bepaal in art. 1 dat state die bestaan van nasionale of etniese, kultuur-, godsdiens- en taalminderhede in hul onderskeie jurisdiksiegebiede moet beskerm en die omstandighede moet skep en aanmoedig om daardie identiteit te bevorder.

Die artikel bepaal voorts dat state wetgewende en ander maatreëls moet tref om hierdie doelwitte te bereik.

Art. 2 bepaal dat minderhede die reg het om hul eie kultuur te beoefen, hul eie godsdiens uit te leef en hul eie taal privaat en in die openbaar te gebruik, vry van inmenging en van enige vorm van diskriminasie.

Laastens bepaal art. 4 dat state toepaslike maatreëls moet tref sodat waar ook al moontlik mense wat aan minderhede behoort, voldoende geleentheid moet hê om in hul moedertaal te leer of om onderrig in hul moedertaal te ontvang.

Hierdie deklarasie is op 18 Desember 1992 eenparig deur die algemene vergadering van die VN goedgekeur.

Hierdie deklarasie is op 18 Desember 1992 eenparig deur die algemene vergadering van die VN goedgekeur.

Toe ons finale Grondwet in 1996 goedgekeur is, het die grondwetskrywers probeer om gevolg te gee aan hierdie bepalings deur spesifieke regte in die menseregte-akte van die Grondwet in te skryf wat hierdie regte verder beskryf.

Art. 30 van die Grondwet beskerm die reg van elkeen om die taal van sy eie keuse te gebruik om aan ’n kulturele lewe van sy eie keuse deel te neem, maar met die vereiste dat die uitoefening van hierdie regte nie op ’n manier gedoen word dat enige van die ander regte in die Grondwet daarmee onbestaanbaar is nie.

Art. 31(1) bepaal weer dat mense wat aan kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe behoort, nie die reg ontsê mag word om saam met ander lede van daardie gemeenskap hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen en hul taal te gebruik en verenigings en ander burgerlike instellings te vorm nie.

By histories Afrikaanse universiteite is Afrikaans as onderrigtaal reeds afgeskaf of minstens afgeskaal.

Wat onderwys betref, bepaal art. 29(2) dat elkeen die reg het om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van hul eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is.

Die staat het ook ingevolge die Grondwet ’n plig om alle alternatiewe in die onderwys met insluiting van enkelmedium-instellings te oorweeg, maar met inagneming van billikheid, doenlikheid en die behoefte om gevolge van historiese diskriminasie reg te stel.

Al poog die Grondwet dus om gevolg te gee aan internasionaal aanvaarde menseregte met betrekking tot die beskerming van minderheidsregte, het die praktyk in Suid-Afrika anders geraak.

By histories Afrikaanse universiteite is Afrikaans as onderrigtaal reeds afgeskaf of minstens afgeskaal. Die konstitusionele hof het laat verlede jaar die afskaffing van Afrikaans by die Universiteit van die Vrystaat bekragtig en regsprosesse is steeds aan die gang oor soortgelyke prosesse by Unisa en die Universiteit Stellenbosch.

Volgens Paul Colditz van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole was daar 23 719 openbare skole in 2017. Daarvan bied net 2 319 of 10,43% Afrikaanse onderrig aan en slegs 1 279 daarvan of 5,3% van die totale getal openbare skole.

Nietemin hou die enkele Afrikaanse skole in Gauteng tans asem op om te sien of hul taalbeleid geïgnoreer gaan word wanneer die Gautengse onderwysdepartement op 3 Augustus sy plasings van nuwe leerlinge vir 2019 bekend maak.

Ondanks duidelike internasionale regsbeginsels oor die beskerming van minderhede word die hantering van Afrikaans tans deur die boelietaktiek van Panyaza Lesufi dikteer. Dis ’n voorbeeld van die reg en praktyk wat bots.

Spies is ’n prokureur verbonde aan AfriForum en betrokke by Pretoria FM.

Meer oor:  Taal  |  Afrikaans  |  Regte  |  Universiteite  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.