Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Reg vir nuwe wêreld
Die klas van 2020 tydens die matriekeksamen aan die einde van ’n skooljaar wat op alle vlakke deur Covid-19 ontwrig is.Foto: GALLO IMAGES

Die matrieks van 2020 het beslis hul deel van swaarkry en uitdagings gehad. Maar soms rus dit wat jou beproef jou toe vir ’n spesifieke rol, skryf Francis Petersen in ’n ope brief aan die klas van 2020.

Beste Klas van 2020,

Ongewoon. Dit is ’n woord wat dikwels gebruik word om die reis van jou matriekjaar te beskryf. ’n Jaar wat gewoonlik gevul is met kleurvolle seremonies, rituele en mylpale waarna jy waarskynlik jou hele skoolloopbaan uitgesien het. En wat ongetwyfeld toe heel anders was as wat jy dit voorgestel het.

Pres. Cyril Ramaphosa het erkenning hieraan gegee toe hy julle verlede jaar net voor die eksamen sterkte toegewens het: “Die klas van 2020 moes omstandighede verduur wat hulle voorgangers nooit nodig gehad het om te trotseer nie. Hulle moes in reële tyd aanpas om nie net die leerplan te voltooi nie, maar ook om die verlore leerure in te haal,” het hy gesê.

Voeg hierby die spanning wat met onsekerheid gepaardgaan, die trauma met die hanteer van geliefdes wat siek word of sterf, die afsondering van vriende en huishoudelike omstandighede wat dikwels onder druk is, en jy het ’n jaar wat jy – in plaas van om dit te koester – waarskynlik so gou moontlik wil vergeet.

Gebore in 2002

Die meeste van julle is in 2002 gebore.

Thabo Mbeki was nog die president van Suid-Afrika. En in die Verenigde State (VSA) het George W. Bush die aanval op die VSA op 9 September 2001 hanteer deur Amerikaanse troepe, ondersteun deur Navo en meer as 40 ander lande, na Afganistan te stuur.

Denzel Wash­ington en Halle Berry het pas die eerste swart akteurs geword wat Oscar-toekennings gewen het.

Wat wêreldgesondheid betref, was vigs waarskynlik die grootste probleem, met die Suid-Afrikaanse regering wat uiteindelik in Augustus 2002 ’n antiretrovirale-bekendstellingsplan aangekondig het.

Rol vinnig vorentoe van 2002 na 2020 en die wisseling van twees en nulle het ongekende en dramatiese verandering meegebring.

Die meeste van julle het waarskynlik saam met jul gesinne gekyk toe Ramaphosa daardie eerste toespraak oor Covid-19 op 23 Maart 2020 gelewer het.

Julle het gehoor hoe hy (toe) ongewone woorde en frases soos “inperking”, “social distancing” en “aandklokreël” gebruik het.

Woorde wat spoedig deel van die alledaagse woordeskat vir ons almal geword het en wat die matriekjaar vir almal van julle gedefinieer het.

Daardie jaar is nou agter die rug.

Maar die uitdagings het waarskynlik pas begin.

Uitdaging is aanvaar

Die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) het ’n spesiale verslag uitgereik oor die weg na ekonomiese herstel uit die Covid-19-krisis.

Dit is hoe Klaus Schwab, stigter en uitvoerende voorsitter van die WEF, die uitdagings wat ons nou in die gesig staar, saamvat:

“Die krisis het ook die uitwerking van die vierde nywerheidsrevolusie (4IR) op handel, vaardighede, digitalisering, mededinging en indiensneming verder versnel en die skeiding tussen ons ekonomiese stelsels en maatskaplike veerkragtigheid beklemtoon. Op hierdie tydstip is dit van deurslaggewende belang om nie net te besin oor die beste manier om na groei terug te keer nie, maar ook hoe om beter ekonomieë op te bou wat die gevolge vir die mens en die planeet sal verbeter.”

As ons toekomstige leiers op die politieke, sake-, gesondheids-, opvoedkundige, landbou- en omgewingsfront, lê daar beslis ’n swaar taak vir julle voor.

Kritieke vaardighede

So, wat is dit wat jy nodig het om hierdie gedugte uitdagings aan te pak?

Die WEF het reeds voorspel wat die top-tien vaardighede is wat in 2025 nodig sal wees vir die arbeidsmark. Dit is dan ook omstreeks die tyd wanneer baie van julle die arbeidsmark sal betree, hopelik met een of twee tersiêre kwalifikasies op jul kerfstok.

Die vaardighede is: analitiese denke en innovasie; aktiewe leer en leerstrategieë; komplekse probleemoplossing; kritiese denke en ontleding; veerkragtigheid, stres­toleransie en buigsaamheid; kreatiwiteit, oorspronklikheid en inisiatief; leierskap en sosiale invloed; redenasie, probleemoplossing en ideevorming; emosionele intelligensie; en tegnologie-ontwerp en programmering.

Nogal ’n mondvol, maar jy kan dalk nader daaraan wees om dit af te merk as wat jy mag dink.

Geleer in 2020

As jy daaroor nadink, het baie van die dinge wat jy in 2020 beleef het, in werklikheid aktief meegewerk sodat jy baie van hierdie vaardighede reeds bemeester het.

Jy moes beslis nuwe leerstrategieë aanvaar. Jy moes noodgedwonge probleme oplos – dikwels heeltemal alleen, sonder onderwysers en tegnologies-slim ouers om jou rigting te gee.

En omdat jy die spanning van ’n immer veranderende omgewing moes hanteer, het jy geleer om veerkragtig en buigsaam te wees en nuwe maniere aan te leer om die heersende akademiese uitdagings die hoof te bied.

Die lang ure wat jy alleen deurgebring het, afgesonder van jou vriende, was moeilik. Maar dit het jou heel waarskynlik gedwing om ’n bietjie vinniger volwasse te word, om te delf in jou innerlike hulpbronne waar jy moontlik emosionele intelligensie en krag ontdek het waarvan jy nie bewus was nie.

En deur tegnologie te omarm en dit op nuwe, kreatiewe en innoverende maniere op die leeromgewing toe te pas, het jy jou voorberei op ’n toekoms waar dit ’n byna daaglikse vereiste sal word.

Tersiêre onderwys

In die proses het jy jouself ook voorberei op ’n nuwe tersiêre onderwyslandskap wat onherroeplik deur die Covid-19-pandemie verander is.

By Kovsies het ons byvoorbeeld gekies om voort te gaan met ’n aanlyn of gemengde leer- en onderrigbenadering vir eerstejaar- en se­nior studente gedurende die eerste semester van 2021.

Dit beteken dat sommige klasse aanlyn sal wees, sommige sal kontakklasse wees en ander ’n kombinasie van kontak en aanlyn – ’n benadering wat deur die Raad op Hoër Onderwys onderskryf word.

Ons het ook tot die gevolgtrekking gekom dat ’n skootrekenaar nie net meer ’n nuttige leertoestel is nie, maar ’n noodsaaklike een, en ons het dus maatreëls getref om te verseker dat al ons studente toegang tot ’n skootrekenaar het.

Daar is ’n wêreldwye skuif na die integrasie van tegnologie in leer en onderrig, en soos ander tersiêre instellings, het die Universiteit van die Vrystaat (UV) dit omarm.

Samehorigheid

’n Gevolg van Covid-19 wat van besondere belang vir ons in Suid-Afrika is, is hoe swaarkry dikwels ’n gevoel van eenheid wek.

Dit is hierdie soort eenheid wat verouderde – en nou verbode – inisiasierituele by skole en koshuise in die verlede kunsmatig probeer bereik het deur nuwelinge aan georkestreerde en dikwels skadelike “swaarkry” te onderwerp.

Julle swaarkry was eg. So ook die bande wat deur hierdie gedeelde ervaring gevorm is.

Waar ons verlede deur verskille, verdeeldheid en uiteenlopende, skynbaar onversoenbare ervarings gekenmerk is, het ons nou ’n belangrike gedeelde ervaring – hoe moeilik dit ook al mag wees.

Wanneer jy vanjaar by een van ons tersiêre kampusse aankom, kan jy na enige van jou mede-eerstejaars kyk en weet dat – ongeag van watter dorp, stad, skool, kultuur of agtergrond julle kom, het julle iets merkwaardig gemeen: Julle het pas Matriek 2020 oorleef. En as gevolg daarvan het julle sterker aan die anderkant uitgekom.

Hierdie soort samehorigheid kan van jul jaargroep ’n krag maak om mee rekening te hou.

Toekoms is joune

Een van die belangrikste aspekte wat studente en leerlinge gedurende 2020 moes omarm, was die gebruik van tegnologie om hulle in staat te stel om te studeer.

Julle, die klas van 2020, het baanbrekers geword van ’n nuwe leeromgewing wat gekenmerk word deur snelle en onherroeplike tegnologiese verandering.

Maar skep moed in die wete dat jou moeilike matriekjaar-reis jou toegerus het met vaardighede wat ’n belangrike platform kan skep om die storms en uitdagings van die werkswêreld, wat ongetwyfeld nog voorlê, te beding.

Jou 2020-ervaring kan op die ou end uiters nuttig en waardevol wees.

Want in ongewone tye gaan die gewone vaardighede, ervarings en ingesteldheid eenvoudig nie voldoende wees nie.

Ons het die ongewone nodig. En die buitengewone.

Ons het jou nodig.

Ek glo in die veerkragtigheid, vindingrykheid en aanpasbaarheid van die jeug van Suid-Afrika.

Groete,

Prof. Petersen

Prof. Petersen is rektor van die Universiteit van die Vrystaat.

Meer oor:  Francis Petersen  |  Afskeid  |  Universiteit  |  Matrieks  |  Toekoms  |  Leerders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.