Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Regbank is kuur teen ANC-plaag
Johann Maarman

Met drie dae oor voordat 2020 uitloop, is dit vir seker een van die verskriklikste jare wat die wêreld nog beleef en ervaar het. Die Covid-19-pandemie het elke mens op die aardbol geraak en het ongekende spore van dood en hartseer gelaat.

Tans tref die tweede vlaag van die gevreesde korona-virus Suid-Afrika en bring nóg groter verdriet en hartseer as met die eerste piek. En dit is nou maar nog die begin.

Dan wag daar nog ’n derde en selfs vierde piek. Hierdie korona-monster is besig om die gesondheidstelsel van bykans elke land geheel en al te verorber en lam te lê.

Net soos wetenskaplikes en medici spook om ’n entstof betyds gereed te kry vir dié aaklige siekte, net so word daar gesoek na ’n teenmiddel in die Suid-Afrikaanse politiek om die korrupsie en die plundering sonder brieke van die staatskas hok te slaan.

In die Suid-Afrikaanse politiek het ons selfs ons eie politieke korona-virus gehad waarvan die ANC die vernaamste kiemdraer is. Hierdie virus het ’n lang aanloop gehad – van die wapenskandaal tot by Nkandla – maar dit het net soos Covid-19 gemuteer. Selfs toe die ANC-mandaryne in Suid-Afrika se donkerste uur die nasie moes lei, het hulle gewetenloos betrokke geraak by bedrog wat persoonlike beskermende toerusting (PPE’s) betref. In Suid-Afrika se grootste uur van nood het hulle die pandemie gewetenloos gebruik om korrupsie verder te bevorder.

Die ANC vee hom af aan die geween van die opposisie-partye.

Wat ’n aaklige aanklag en skreiende skande teen ’n politieke party wat veronderstel was om die party te wees wat die armstes van die armes verteenwoordig.

Maar 2020 het ook dit wat in die donker gebeur het, in die lig geopenbaar. Ace Magashule, uitvoerende hoof van die ANC, ook handeldrywend as sekretaris-generaal, staan nou in die regbank op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Dit is iets wat lankal moes gebeur het, want ons almal weet wie die hand is wat die kontrakte-wiegie vir lank in die Vrystaat beweeg het.

Dit is skandelik verby dat iemand wat betrek word by miljoene rande se korrupsie, nog die gesig van die ANC kan wees.

Hy moes lankal sy baadjie in die hand gestop gewees en onseremonieel uit Luthuli-huis begelei gewees het. Die vermetelheid van hom om te sê dat hy deur die ANC-takke gekies is tot sekretaris-generaal en dat hy dus net deur ANC-takke verwyder kan word, is skokkend. Maar nou is hy voor die regterstoel en soos gewoonlik sal dit die regbank moet wees wat die teenmiddel moet wees teen die ANC-plaag van korrupsie.

Die ANC vee hom af aan die geween van die opposisie-partye. Hulle gee nie ’n flenter om wat die DA, die EFF, die VF Plus en al die kleiner partye sê van hul onbeholpenheid nie. Dit rol soos water van ’n eend se rug af.

Die enigste plek waar die ANC tot stilstand gedwing kan word, is die regbank ofskoon hulle die regbank ook probeer verdag maak. Soos Jacob Zuma wat viervoet vassteek en weier om voor die Zondo-kommissie te getuig.

Maar dat adjunkhoofregter Raymond Zondo hom nie laat boelie het deur die kamma aartsengel van radikale ekonomiese transformasie nie, onderstreep net weer watter belangrike pilaar die regbank in enige demokrasie is.

Zuma kan soveel stof opskop as wat hy wil, maar in 2021 moet hy voor Zondo verskyn. Weier hy, is dit maar so dat hy moet tronk toe. Of hy hom selfs dan as ’n martelaar wil beskou, is sy saak.

Die oorgrote meerderheid van ons soek net geregtigheid, want die regbank is ons enigste teenmiddel teen die gewetenlose skurke in die ANC.

Maarman is eindredakteur van Die Burger.

Meer oor:  Johann Maarman  |  Regbank  |  Politiek  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.