Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Regering kom nie kontrak na
Rapule Tabane

Die eerste lesse wat eerstejaarstudente in politieke wetenskap aan kolleges en universiteite leer, is oor hoe die konsep van regering tot stand gekom het.

Hulle leer dat regerings tot stand kom omdat burgers ’n sosiale kontrak met die staat sluit om hul regte en vryhede prys te gee in ruil vir beskerming van die staat. En dit is hoekom ons oor die wêreld heen regerings het.

Maar dit is in Suid-Afrika baie duidelik dat die regering nie sy deel van die ooreenkoms nakom nie. Hy slaag nie daarin om sy burgers te beskerm nie.

Ons aandag word dikwels afgelei deur gevegte oor persoonlikhede, politieke partye en ander randkwessies, maar ons vergeet dat die regering ons in die steek gelaat het wat een van sy mees grondliggende verpligtinge betref.

Ons het dit as vanselfsprekend begin aanvaar. Ons moenie, maar ons het.

Die meeste Suid-Afrikaners wat dit kan bekostig, woon in veiligheidskomplekse waar hulle veiligheidsmaatskappye betaal om toegang te beheer, hul woonbuurt te patrolleer en hulle teen misdadigers te beskerm.

Vele ander wat nie in sulke komplekse woon nie, bestee ook baie geld aan alarmstelsels, elektriese heinings, gemeenskapspatrollies en talle ander toestelle om hulself te probeer beskerm, terwyl dit die polisie se verantwoordelikheid is. Soms help al dié maatreëls nie eens nie omdat misdadigers dit steeds regkry om weerlose mense aan te val.

Dit is ons werklikheid in dié land.

Wat het met ons sosiale kontrak met die regering gebeur? Moet ons aanhou om ons kant te bring as die regering dit nie doen nie.

Ek is daaraan herinner toe ’n 19-jarige leerling buite ’n skool in Mondeor doodgesteek is. Dit word nou ’n te algemene verskynsel in skole landwyd. Dit lyk of die regering nie in staat is om hierdie nuwe vorm van misdaad te verhoed nie. Ek verstaan eerlikwaar nie hoekom dit so moeilik is nie.

Maar ek is seker talle burgers sal sê dis geen verrassing nie. Ons is onder beleg oral waar ons gaan – in ons huise, strate en by werk- en ontspanningsplekke. Ons probeer almal voorkomende maatreëls tref, maar dit is dikwels nie genoeg nie.

Wat het met ons sosiale kontrak met die regering gebeur? Moet ons aanhou om ons kant te bring as die regering dit nie doen nie? Die logiese antwoord behoort nee te wees. Maar ons weet minstens 12 miljoen Suid-Afrikaners gaan in Mei vir dieselfde regering stem.

Dit is verstommend, want selfs al ignoreer ons die ander probleme vir eers, het die regering skynbaar geen nuwe plan om misdaad te takel nie.

Dit is verstommend, want selfs al ignoreer ons die ander probleme vir eers, het die regering skynbaar geen nuwe plan om misdaad te takel nie. Dit beteken ons moet aanvaar dat misdaad deel van ons toekoms sal bly en ons moet daarmee saamleef. Die opposisiepartye het ook talle tekortkominge, maar kom ons bepaal ons vir eers by die regerende party. Daar is geen teken dat hy van plan is om dinge anders te doen nie, al is daar tans soveel fout met ons land.

Die een groot probleem wat pres. Cyril Ramaphosa regstreeks pak, is korrupsie. Maar totdat ’n nasionale politieke figuur aangekla, skuldig bevind en gevonnis word, is dit moeilik om te glo dat hy ernstig daaroor is om korrupsie regstreeks en robuus te takel.

Wat die res betref, wys die regerende party ’n middelvinger aan burgers deur byvoorbeeld dieselfde onbevoegde mi­nisters, soos Nomvula Mokonyane en Bathabile Dlamini, in beheer van magshefbome te behou. Dít nadat hulle hul onvermoë om diens aan die burgers te lewer so blatant gewys het.

Die huidige ANC-kandidatelys toon hulle verwag van ons om ons lot te aanvaar en nie ’n verbetering in ons lewenstandaarde te verwag nie. Dit toon verdere minagting vir burgers, tog sal baie van ons die stemhokkie vrywillig binnestap en ons demokratiese reg uitoefen om die status quo te behou. Dis moeilik om te glo, maar dit is wat dit is.

Meer oor:  Rapule Tabane  |  Misdaad  |  Kontrak Met Regering  |  Misdaadsyfer  |  Regering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.