Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Regstelsel só ondermyn
Regter John Hlophe, regter-president van die Wes-Kaap, tydens die sitting van die regterlike gedragstribunaal waarop hy skuldig bevind is aan growwe wangedrag.Foto: GALLO IMAGES

Die verdeling van mag tussen die wetgewende, uitvoerende en regterlike gesag is een van die kernbeginsels van ’n demokrasie.

Die howe se legitimiteit hang af van die regters se onafhanklikheid en onpartydigheid in sake waaroor hulle moet beslis.

Oudpres. Jacob Zuma, wat halsstarrig weier om voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te verskyn en wat nog nie sy dag in die hof gehad het nie, maak al jare ’n saak uit dat die regstelsel deur sekere belange gekaap is wat hom nie goedgesind is nie.

So ook het hy adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die Zondo-kommissie, probeer verdag maak. Hierdie verdagmakery is deel van Zuma se Stalingrad-strategie om sy dag in die hof vir so lank moontlik te ontduik.

Slaan Mogoeng terug?

Dit is daarom baie kommerwekkend dat Mogoeng Mogoeng, die hoofregter, onlangs tydens onderhoude van die Regterlike Dienskommissie (RDK) vir die aanstelling van nuwe regters ’n saak probeer uitmaak het dat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, probeer het om regter Dhaya Pillay, wat ’n vriendin van Gordhan is, te bevoordeel.

Mogoeng het ’n voorval in 2016 opgehaal toe Gordhan by hom wat Mogoeng is na Pillay se vordering verneem het.

Daarmee het Mogoeng vir diegene wat Zuma se idees oor die regstelsel glo, bevestiging gegee dat die regterlike gesag gekaap is.

Dit was onvanpas van Mogoeng om die voorval op te haal. Ook was dit onvanpas van hom om nie te rea­geer op die vraag van adv. Griffiths Madonsela oor ’n kandidaat se kerkbywoning nie.

Madonsela en Julius Malema, leier van die EFF wat lid was van die RDK-paneel, se optrede moes buite orde gereël word weens die trant van hul ondervraging van kandidate.

Al wat ’n mens kan dink, is dat dit Mogoeng se manier is om terug te slaan, nadat hy ’n waarskuwing van die Regterlike Gedragskomitee gekry het oor sy standpunt oor Israel. Sulke gedrag is onbetaamlik van ’n hoofregter.

Malema se tirade

Malema se tirade teenoor Pillay, waarin hy aangevoer het dat sy niks behalwe ’n politieke aktivis is nie, was net so onvanpas.

Ook daarop het Mogoeng nie gereageer nie.

Hoekom moet politici in die RDK dien? Politici het altyd agendas en gegewe die lang geskiedenis van ons regstelsel wat moet ingryp om die onfatsoenlike korrupsie in die staat hok te slaan, sou ’n mens kon dink dat politici sou probeer om regters aan te beveel wat hulle goedgesind is.

Intussen is regter John Hlophe deur ’n regterlike gedragstribunaal skuldig bevind aan growwe wangedrag weens ’n oortreding van art. 165 van die Grondwet. Dit is omdat Hlophe in 2008 probeer het om twee regters van die konstitusionele hof – Chris Jafta en Bess Nkabinde – ten gunste van Zuma te beïnvloed in ’n geding met Thint wat verband gehou het met die wapenskandaal.

Dit het 13 jaar geneem om tot dié beslissing te kom en ten spyte daarvan en ander flagrante optredes van Hlophe is hy steeds nie geskors nie. Die RDK redeneer dat hy nie die mag het om Hlophe te skors nie en dat net die president dit kan doen, wat dit dan ’n politieke besluit maak.

Pierre de Vos, ’n grondwetkenner, het onlangs in Daily Maverick aangevoer dat die RDK verplig is om die onafhanklikheid en die onpartydigheid van die regbank te verseker en dat sy interpretasie dat hy Hlophe nie kan skors nie verkeerd is, aangesien art. 19(4) van die RDK-wet die kommissie die mag gee om hom te skors.

Indien Hlophe sou voortgaan om op die regbank te dien, sal al sy sake met agterdog bejeën word deur diegene wat sy onafhanklikheid betwyfel en daar kan selfs bespiegel word of sy uitsprake polities beïnvloed is.

Het dit tyd geword om die samestelling en werking van die RDK te ondersoek?

Dit is ’n kommissie wat in die verlede goeie werk gedoen het, maar wat nou die proses van die aanstelling van regters in die gedrang gebring het en wat kan toelaat dat die legitimiteit van die regstelsel ondermyn word.

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap van die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Jacob Zuma  |  Korrupsie  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.