Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Reis van 2016 se matriekklas
Gert Coetzee

In “Kyk hoe glinster die maan” sing Laurika Rauch: “Waar is ons drome van gisteraand?/ Vlieg oor die bome met my drome/ Kyk hoe glinster die maan”.

Vandag hoor Matriekklas 2016 hoe hy gevaar het. Landwyd kry 677 141 matrieks van verlede jaar hul uitslae. In Volksblad-kontrei is daar 29 106 in die Vrystaat en 13 658 in die Noord-Kaap. Van Kakamas tot Harrismith. Olifantshoek tot De Aar. En van Sasolburg tot Burgersdorp.

Nie verniet is ons trots op ons skole en hul prestasie in akademie, sport en kultuur waaroor, soos vandag weer, deurlopend berig word nie. Om skoolname uit te sonder is skoorsoek. Het ek al geleer. Maar geluk aan almal.

Van die uitblinkers oor wie se prestasies vandag berig word, het in hul kort lewe soveel behaal dat dit moeilik is om te glo hulle is skaars 18.

Sewe onderskeidings, agt, nege . . .

Hip-hop, toneelspel, wêreldkennis-olimpiade, kuns, sport, Die Voortrekkers. Met medies, fisioterapie, die regte, internasionale besigheid, tegnologie, plantpatologie en vele ander studierigtings wat wag.

Die refrein van hul wenresep is deurlopende harde werk, dissipline, gebalanseerdheid, meelewende ouers en goeie onderwysers.

Nou is hulle reg om met hul drome oor bome te vlieg en te gaan kyk hoe glinster die maan.

Met hul selfone, iPads en digitale towerkunsies is hulle die volgende geslag wat die beroepswêreld stormenderhand gaan verower. Nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd.

Verlede week is juis berig oor ’n kandidaat van ’n private skool in Welkom wat in die onafhanklike eksamen gepresteer het en soos sy ouer sib aan ’n Amerikaanse universiteit gaan studeer.

Reg geposisioneer vir die toekoms.

Daar is ook bewonderenswaardige verhale van kinders in townshipskole wat in onwenslike toestande vasgebyt en uitgestyg het. En al die ander staatmakers oor wie nie berig word nie, maar wat hul kant gebring het.

Die keersy van die storie is waar. Daar is ook sowat tweehonderdduisend druipelinge landwyd, insluitende in ons provinsies. Wat gevoeg word by al die vorige jare se druipelinge. Wat moet meeding om ’n werkie iewers met al die suksesvolles wat geslaag het, maar nie onder die klein groepie bevoorregtes is wat verder gaan studeer nie.

Wat die miljoene werkloses in ons land verklaar. En hoekom ouers hulself afsloof sodat hul kinders ter wille van ’n voorsprong aan “bevoorregte” skole – lees: die ou model C-skole – kan skoolgaan.

Wat weer iets oor die ongelykhede in ons land sê. Wat die afgelope bykans 23 jaar sedert 1994 meestal vergroot het. Naas die elite-groepie superrykes wat bygekom het, groei die middelklas darem ook. Met aspirasies vir hul kinders.

Die eintlike hartseerverhaal is die een van al die skoolbeginners wat nie eens die kans kry om matriek te druip nie, omdat hulle dit nie haal nie. Sedert 2010 is daar sowat ’n miljoen van hulle – met ’n algehele uitvalsyfer van ’n raps oor 60%. Misdaad is dus ons land se voorland. Lees ook die hoofartikel hiernaas vir meer oor wat skort.

Van wie beter as Albert Einstein kan ’n mens ’n boodskap aan Klas 2016 gee? Die doel van opvoeding moet wees die opleiding tot onafhanklike optrede en denkprosesse by individue wat diens aan die samelewing as hul hoogste lewensprestasie nastreef, het hy gesê.

Geniet die reis. En die ontdekking van die verskil tussen kennis en wysheid, kansvattery en risiko, geld en rykdom, en beterwetery en ondervinding.

Sê groete aan die maan!

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Matriek 2016  |  Brandpunt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.