Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rektore, benut die taal en wen!
Christo van der Rheede

Op die onlangse uitdelingsgeleentheid van die Afrikaanse Taalraad se jaarlikse Koker-pryse vir mense wat Afrikaans op ’n unieke wyse bevorder, was ek aangenaam verras met die klomp jong mense wat die geselligheid bygewoon het. Asook die begaafde en begeesterde jongspan wat pryse ontvang het.

Wat my veral opgeval het, is hul selfvertroue, lewensuitkyk en vlak van kommunikasie. Wat ’n verrassing was dit nie! Hierdie jong mense, die millenniërs, kom uit diverse agtergronde. Hulle is diep gewortel in Afrikaans en die nuwe Suid-Afrika. Van die bagasie van die verlede is daar geen sprake nie. Hulle ken nie gedwonge skeiding op grond van ras en klas nie. Nog minder het hulle ’n beheptheid en bemoeienis met etnisiteit, allerlei dogma en uitgediende kulturele norme.

Hulle is waardegedrewe, oopkop en toekomsgerig. Ek is beïndruk met hul uitgesprokenheid oor hul rol in die breë gemeenskap en die bydrae wat hulle in Afrikaans tot ’n beter toekoms lewer.

Die ervaring bly by my spook. Dit laat my diep nadink oor my eie grootwordjare op ’n Afrikaanse sending­stasie en die geleenthede vir verdere studie in Afrikaans op laerskool, hoërskool, onderwyskollege en universiteit wat vir my en derduisende ander beskikbaar was. Deur middel van Afrikaans kon ons almal op elke lewens­terrein ’n toekoms bou.

Saam met Afrikaans het ons ’n goeie dosis Engels ingekry. Vandag is ons volkome tweetalig. Dis net jammer dat ons nie die keuse gehad het om ook ’n inheemse taal op skool aan te leer nie.

Deur Afrikaans kon ons tot die hoogste vlakke in die samelewing en selfs op nasionale vlak vorder.

Deur Afrikaans kon ons tot die hoogste vlakke in die samelewing en selfs op nasionale vlak vorder. Die internasionale blootstelling wat ons só ervaar het, het ons in staat gestel om ons denke te verbreed om met nuwe kennis en hernude ywer op elke lewensterrein deurlopend ’n bydrae te lewer.

Onderliggend aan dié uitleef en verdieping van ons bydrae tot die uitbou van ons demokrasie, bly ons toegewyd aan die realisering van die waardes en ideale soos vervat in ons Grondwet. Die Afrikaanse leefwêreld en die Afrikaans wat ons ken, het ons verbind tot menswaardigheid, die bereiking van gelykheid, die uitbou van menseregte en vryheid, nierassigheid, nieseksisme en die oppergesag van die Grondwet.

Dié waardes en ingesteldheid is ook duidelik sigbaar by hierdie jong mense.

So waarom hulle straf omdat hulle Afrikaans is? Waarom hulle opsaal met die bagasie van die verlede? Waarom hulle stelselmatig ontneem van geleenthede om in Afrikaans te studeer en só ’n toekoms vir hulself te ontsluit? Waarom die marginalisering op grond van taal, etnisiteit en rigiede etniese demografiese indiensnemingsteikens?

Ek rig hierdie skrywe spesifiek aan die visekanseliers van drie universiteite: proff. Wim de Villiers (US), Francis Petersen (UV) en Dan Kgwadi (NWU). Ek versoek hulle om die derduisende millenniërs wat in Afrikaans wil studeer se intellektuele vermoëns en toekomstige bydrae ook na waarde te skat.

Die behoud van Afrikaans aan hierdie universiteite is mos nie te veel gevra nie. Dit is nié ’n struikelblok in jul strewe om inklusiewe akademiese instellings van wêreldgehalte te vestig nie. Eentaligheid is wel, want dís abnormaal in die Suid-Afrikaanse konteks.

Die intelligente bestuur van meer­taligheid aan hierdie universiteite behoort ’n enorme bydrae te lewer tot die bevordering van nuwe kennis, wedersydse begrip, nasiebou. Óók die normalisering van die samelewing, veral wat verdraagsaamheid, pluraliteit, medemenslikheid en saambestaan betref.

  • Afrikaans is jonk, boeiend, onbesmet en gerig. En ’n gevorderde akademiese taal! Gebruik dit tot jul voordeel!
Meer oor:  Christo Van Der Rheede  |  Universiteitstaal  |  Taal  |  Afrikaans  |  Rektore
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.