Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Reserwebank ly aan tonnelvisie

Suid-Afrikaners met skuld (min of meer almal) kan nie verkwalik word as hulle die Monetêre Beleidskomitee (MBK) van die Reserwebank as openbare vyand nommer een beskou nie.

Die besluit van dié komitee verlede week om die amptelike rentekoers te verhoog druis teen alle ekonomiese logika in en bevestig die vermoede (wat lank reeds bestaan) dat die Reserwebank se monetêre beleid nie ’n balans handhaaf tussen die bekamping van inflasie en die behoud van voldoende ekonomiese groei nie.

Roelof Botha
Roelof Botha

Een van die grootste enkele redes vir die swak groeiprestasie van die ekonomie sedert 2015 is geleë in die merkbare en onverklaarbare klemverskuiwing in monetêre beleid wat op Gill Marcus se aftrede gevolg het. In 2014 was die gemiddelde inflasie- en primakoers onderskeidelik 6,1% en 9,1%, wat ’n reële primakoers van 3% beteken het. Inflasie is vanjaar gemiddeld 4,6% en prima staan nou op 10,25%, wat op ’n reële primakoers van 5,65% te staan kom.

Dit beteken dat die koste van bedryfskapitaal, soos gemeet aan die reële primakoers, sedert Marcus se vertrek met 87% gestyg het. Dié skerp styging in die koste van kapitaal is veral vir landbouers slegte nuus en dra by om kostedruk-inflasie in die uitgebreide waardeketting van kosvervaardiging te verhoog. Kortom, die Reserwebank is eintlik aandadig aan inflasionêre druk in die ekonomie.

Daarbenewens is die MBK skynbaar salig onbewus van die feit dat die hoofrede waarom Suid-Afrikaanse vervaardigers ver benede kapasiteit produseer, aan onvoldoende vraag te wyte is. Hierin lê ’n tweede klag van aandadigheid aan inflasie deur die Reserwebank – hoër rentekoerse demp in die reël verbruikersvraag, wat beteken dat fabrieke nóg minder produseer, wat op sy beurt weer tot hoër vaste koste per eenheid sal lei (en natuurlik ook hoër inflasie).

Daar kan geen twyfel bestaan nie oor die vernietigende uitwerking op werkgeleenthede weens die volgehoue beperkende beleid wat deur die Reserwebank gevolg word, ten spyte van die ooglopende afwesigheid van enige teken van vraaginflasie in die ekonomie.

Die jongste koersverhoging sal ongetwyfeld tot laer verbruikersvraag aanleiding gee en uiteindelik ook verdere druk op die staat se belastinginkomste plaas.

Die jongste rentekoersverhoging toon ’n skokkende ongeërgdheid oor die lot van die bykans 9 miljoen Suid-Afrikaners wat nie ’n werk kan kry nie.

Hoë rentekoerse gaan nie die uitermatige styging in geadministreerde pryse of die olieprys laat sak nie en gaan ook nie die wisselkoers van die rand stabiliseer nie. Solank Suid-Afrika se staatskuld die status van beleggingsgraad by die gesaghebbende kredietgradeerder Moody’s geniet, sal die rand altyd herstel ná ’n tydperk van depresiasie, wat in elk geval gewoonlik aan eksterne faktore te wyte is.

Moody’s het juis onlangs die Reserwebank berispe oor sy volgehoue beperkende monetêre beleid, aangesien dit so duidelik soos daglig is dat Suid-Afrika tans eerder ekonomiese beleid op groei en werkskepping moet toespits.

Dit sal dalk raadsaam wees indien die aanstelling van lede van die Reserwebank se MBK aan minimum kwalifikasies en ondervinding op die gebied van ekonomiese teorie en beleidstoepassing onderhewig gestel kan word. Verder behoort die MBK se lidmaatskap ook uitgebrei te word om ervare ekonome in die private sektor in te sluit en behoort die nasionale tesourie ’n gelyke aantal stemgeregtigde lede op die MBK te hê.

Teen die agtergrond van ’n oorwig van aanwysers wat die logika van laer rentekoerse ondersteun, is dit werklikheidsvreemd dat die Reserwebank krampagtig vashou aan beperkende monetêre beleid, terwyl die meeste van Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote geskiedkundige lae rentekoerse ervaar.

Die jongste rentekoersverhoging toon ’n skokkende ongeërgdheid oor die lot van die bykans 9 miljoen Suid-Afrikaners wat nie ’n werk kan kry nie.

  • Dr. Botha is die ekonomiese raadgewer van die Optimum-groep.
Meer oor:  Reserwebank  |  Rentekoers  |  Skuld  |  Verhoog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.