Dit gebeur nie aldag dat ’n rubriekskrywer so ’n meevallertjie kry soos Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, se beskrywing van diegene wat die bank se mandaat en eienaarskap wil verander nie: “Die barbare is by die hek van die Reserwebank.”
(Ook Niël van Vuuren, Beeld se spotprenttekenaar, het die geleentheid aangegryp.)

Barnard Beukman
Ons demokrasie en sy instellings is springlewendig as ons Reserwebank-hoof die moed het om so ’n salvo af te vuur, wetend dat die regerende party se sekretaris-generaal aan die voorpunt van die veldtog teen die bank staan.
Moenie glo die klomp het bloot ’n alternatiewe standpunt wat hulle ná deeglike besinning geformuleer het oor hoe om gouer ekonomiese groei en werkskepping te kry nie. Hulle jaag steeds ’n sosialistiese droom na – soos deels vervat in die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie.
In die praktyk loop sulke modelle uit op al hoe meer sentralisering van staatsbronne onder direkte beheer van die magselite. Hulle word dan persoonlik verryk en dienslewering – ruim weermagsalarisse uitgesluit – word erg afgeskeep. Dit is waarom hulle steeds romantiseer oor mislukte modelle, soos die eertydse Sowjetunie, die uitmekaargerukte Libië, die stagnerende Kuba en die hedendaagse staatskapersparadys Venezuela.
Dit sou vertroue beter gestabiliseer het as Ramaphosa die kwessie verbaal en persoonlik in die openbaar hanteer het.
En kameraad Ace is erg aspris. Hy reik ’n verklaring uit oor ’n kwessie wat nooit op die nasionale uitvoerende komitee (NUK) se gesamentlike vergadering bespreek is nie, al wek hy dié indruk. Dit het wel rondgesweef op ’n subkomitee se besprekingsdokumente. Hy wil ANC-kongresbesluite uit die Jacob Zuma-dae gebruik om pres. Cyril Ramaphosa al hoe meer te kortwiek.
En ná die nou al gebruiklike dae van stilte – wat genadiglik net-net betyds verbreek is – het Ramaphosa heel vaardig gereageer. Hy erken die ANC se behoefte aan ’n ander bedeling, maar wys daarop dit is nie nou haalbaar nie. En verklaar dat die kabinet deur die finansminister daarmee sal handel.
In die proses skuif hy in die praktyk die regmatige regeringsmag terug na waar dit hoort en wat deur sy voorganger na Gupta-binnekamers of NUK-subkomitees vol lakeie geskuif is.
Dit sou vertroue beter gestabiliseer het as Ramaphosa die kwessie verbaal en persoonlik in die openbaar hanteer het eerder as deur ’n amperse te laat verklaring. Tensy dit die een of ander taktiek is, wat net daarop kan dui dat sy interne magsgreep nog finaal volvoer moet word.
Die kernvraag is: Word die verdeeldheid weer tydelik toegesmeer en sukkel ons voort tot by die volgende uitbarsting? Dit ondermyn beleggersvertroue net so erg as wanneer die verkeerde ouens wen. Of gaan dinge op die spits gedryf word?
Ramaphosa sal nie ’n skuif doen voordat hy seker is hy kan ’n finale konfrontasie wen nie, is die gevoel in sy binnekringe.
- Barnard Beukman is redakteur van Beeld.