Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Respek sal van die wêreld ’n paradys maak
Annelie Botes

Die konsep van respekbetoon kan die redding van ons land wees. Dink net in watter paradys van harmonie sal ons leef as die uitdeel van respek die norm is.

Respek, en ook verdraagsaamheid, is egter karaktertrekke wat nie inskakel by die mens se egoïsme nie. Elkeen wil wen. Elkeen wil die laaste sê hê. Elkeen wil hê sý plan moet ingestem word. Elkeen wil die kaptein of die koning wees. As sake nie na sý smaak verloop nie, raak hy briesend en wrokkig en kwetsend.

En dit is emosies wat nie as karperde saamtrek voor die wa van respek nie.

Die probleem is dat dit bykans onbegonne is om respek by ’n respeklose mens in te dril. Jy kan hom al die lesse teoreties leer en ritse voorbeelde gee, maar as dit by die doenslag kom, haal hy nie die paal nie.

Dis vreemd dat die woord “respek” net een keer in die Bybel voorkom, in Levitikus 19:32. “Selfrespek” kom nêrens in die Bybel voor nie. Eweknieë, ja.

Ek, en ons almal, is sondige wesens wat dikwels nie ’n blou duit traak oor wat ons aanvang nie.

Respek begin vir my by iets wat ek lewensrespek noem. Dit lê na aan self­respek, maar dis die respek wat jy betoon wanneer niemand jou sien en jy nie genoodsaak voel om enig­iemand uit aangeplakte ordentlikheid te beïndruk nie. ’n Lewensbenadering waarvan net jy in jou binnekamers weet. Jou eie Tien Gebooie waarlangs jy jou pad stap.

Ek, en ons almal, is sondige wesens wat dikwels nie ’n blou duit traak oor wat ons aanvang nie. Ons neig om nie te wíl bereken watter skade ons aanrig nie.

Soos prof. Hans du Plessis van Potch naastenby skryf: “As jy hout kap, moet jy dink waar die spaanders gaan spat.” Nee, ons kap net, want ons wil ten alle koste vuurmaak.

Sê nou elke siel in die wêreld – Jood, Griek, Mohammedaan, cowboy of kroek – ongeag, het ’n stel reëls vir lewensrespek gehandhaaf, en daarby probéér hou.

Soos om nooit rommel te strooi nie. Om kompos te maak en iets terug te gee aan die hol maag van die aarde. Te herwin en te hergebruik waar jy kan. Hande te was voordat jy aan iets vat wat ander moet eet. Om soggens vir jou huis môre te sê, en dankie vir die beskutting.

Niemand sien as jy die potplantblare afvee en die koue tee in die teepot vir hulle gee nie. Maar jý weet. G’n siel krap in jou klerekas nie, maar die onus lê op jóú om dit te orden en uit te deel wat jy nie dra nie.

Jy word nie beloer wanneer jy oorskietkos in die drom krap nie, maar as jy ’n rak in jou vrieskas leeg hou, kan jy dit in roomysbakke vries en by oorde vir verwaarloosde honde afgee. Ómdat jy bevoorreg is om roomys te eet.

Wat van ons giftige gedagtes? Gesindheid­sondes wat ons pleeg? Net óns weet daarvan en net óns word ongelukkig gemaak deur ’n arge­lose gebrek aan lewensrespek.

As elke cowboy en kroek sal uitmeet waar die spaanders gaan spat, en behoedsaam omgaan met ons brandhout, sal die wêreld ’n paradys wees.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Respek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.