Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Respekteer studente se standpunte
Prof. Gerhard van Huyssteen

Dis 1991.

Nelson Mandela is vrygelaat, die Berlynse Muur het homself te pletter geval, ’n olieoorlog woed in Koeweit, en Suidwes-Afrika het Namibië geword.

Ek is ’n derdejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria, luister na Voëlvry-musiek, woon Houtstok by, leer politieke woorde by mense soos Irma du Plessis, Andries Bezuidenhout en Hedwig Barry, en speel stut in die Taaibosmanskoshuis-rugbyspan.

Ek is die enigste man/seun in die Afrikaans III-klas en loop klas by Groot Geeste soos Rena Pretorius, Tom Gouws, Piet Roodt, Adelia Carstens, Vic Webb en Christo van Rensburg. As assistent in die departement Afrikaans maak ek vir hulle tee en hardloop op en af na die administrasiegebou om fakse te stuur.

Maar ek is kwaaitjie-kwaaitjie.

Hoekom word ons kurrikulum met Nederlandse literatuur vervuil? Wat op deeske dorre aarde het Vondel, PC Hooft en Harry Mulisch met my – hier in Suid-Afrika – te doene?

Prof. Christo het ons geleer dat Afrikaans ’n Afrikataal is. Weg met die boel koloniale literatuur!

Ek stel ’n versoekskrif op teen Nederlands in die Afrikaanse kurrikulum. Maar bitter min van die vroue/meisies in my klas steun my aktivistiese optrede. Hulle wil net eksamen gaan skryf en die kursus slaag. Prof. Rena waai my tirades af en vra hoekom my poësie-opdrag nog nie ingehandig is nie. Sonder die mag van sosiale media (dis 1991!) moet ek die aftog blaas. Ek is ont#.

Dis 2016.

Die land se universiteite brand letterlik af. Al wat ’n veldtog is, word gelegitimiseer deur ’n hutsteken vooraan te plak. Universiteite is “spaces”, almal het die een of ander “narrative” en gesprekvoering en betogings is “robust” – vir my gevoel is dit alles politieke wolwoorde waarvan die betekenis so verstard soos ’n standbeeld geword het. As ’n dosent wat erns met my vak maak, kan ek egter nie onaangeraak hierdeur bly nie. Dis ook mý taak om te luister na die studente, om te besin oor die dekolonialisering van die kurrikulum.

Die ganske wêreld is onthuts oor die Kaapstadse student wat verduidelik hoe #ScienceMustFall. Meme vlieg die kuberruimte vol, en om braaivleisvure word skaterend gelag oor die stomme onnoselheid van dié arme kind.

Hier in my binnekamer kan ek egter nie anders as om hartbloeiende simpatie vir haar te hê nie – 25 jaar gelede was ek sy, met een groot verskil: Sonder die genadeloosheid van so­siale media is die wêreld my naïewe standpunt van toe gespaar

. . . en my die verleentheid.

Soos woorde groei (van kragdadig tot geyk) en tale ontwikkel (van Nederlands tot Afrikaans?), so moet ons opinies ook dinamies bly. Ek is dank-die-vader-bly dat ek vandag anders dink oor goed as twee jaar gelede, en ek hoop van harte dat ek oor twee jaar ook nuwe insigte sal hê. Wat is ’n mening werd as dit nie kan verander nie?

Laat hy/sy wat die afgelope 25 jaar steeds presies dieselfde menings huldig, gerus vingerwysend vir daardie Kaapse student lag. Rig gerus vir jou standpunte ’n standbeeld op. Ek gun jou dit. Maar toon ook respek vir dié wat voortdurend na nuwe narratiewe in robuuste ruimtes soek. En vergeet nie wat Mr. Keating ons in Dead Poet’s Society geleer het nie: “Boys, you must strive to find ­your own voice. Because the longer you wait to begin, the less likely you are to find it at all.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.