Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
RET-bende se doppie geklink
ekonoom
Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum Beleggingsgroep

Maande lange gissings oor ’n moontlike paleisrevolusie deur die Jacob Zuma-Ace Magashule-faksie binne die ANC het die afgelope week bedaar, met pres. Cyril Ramaphosa duidelik in beheer van die regerende party.

Suid-Afrika se staatshoof en Sihle Zikalala­, ANC-leier in KwaZulu-Natal, is verlede week hartlik deur ’n skare in eThekwini verwelkom. Dié provinsie is nog tot onlangs toe beskou as die plek waar die faksie wat “radikale ekonomiese transformasie” (RET) voorstaan, die beste kans het om Ramaphosa die loef af te steek.

In werklikheid staan RET natuurlik nie soseer vir enige vorm van transformasie nie, maar wel vir die voortsetting van die rampspoedige manier waarop die openbare sektor onder Zuma­ se bewind bestuur is.

’n Giftige kombinasie van kaderontplooiing, nepotisme, onbevoegdheid en korrupsie het daartoe bygedra dat sowat ’n derde van die land se munisipaliteite bankrot is en dat die gehalte van Suid-Afrika se infrastruktuur, veral op die gebiede van elektrisiteit, water, paaie en die spoorweë, erg agteruitgegaan het.

Daarby het die oormatige en soms onsinnige regulering van ekonomiese aktiwiteit tot soveel onsekerheid en frustrasie onder entrepreneurs gelei dat sakevertroue wesenlik verswak het.

Dié toedrag van sake het ook tot dalings in investering in nuwe produksievermoë gelei en ’n voorspelbare kettingreaksie wat swak ekonomiese groei en min nuwe werkgeleenthede betref.

Trouens, in die tydperk waarin Zuma se obsessie met RET hoogty gevier het (2012-’17) het meer as 100 000 werkgeleenthede in die kernsektore van mynwese en vervaardiging verlore gegaan.

Teen die gemiddelde salarisse in dié twee sektore kom dit op ’n verlies van byna R40 miljard aan verlore arbeidsvergoeding neer.

Teen die gemiddelde salarisse in dié twee sektore kom dit op ’n verlies van byna R40 miljard aan verlore arbeidsvergoeding neer.

Keith Lockwood, dosent verbonde aan die Gibs-sakeskool, het in 2018 bereken die onbevoegdheid in die openbare sektor wat onder Zuma geheers het, het die land sowat R2 500 miljard aan verlore ekonomiese uitset gekos, terwyl die belastinggaarder sowat R635 miljard minder ingevorder het.

Indien Suid-Afrika onder die Zuma-bewind op die beleidsbenadering van Nelson Mandela en Thabo Mbeki voortgebou het, sou 1,2 miljoen meer mense vandag ’n werk gehad het en sou Suid-Afrika se geldsake op ’n veel gesonder voet verkeer het.

Suid-Afrikaners moenie vergeet watter ontsettende skade Zuma en sy trawante die ekonomie berokken het nie.

Magashule en sy RET-bende is duidelik ten gunste van die voortsetting van kaderontplooiing en nepotisme, wat korrupsie en onbevoegdheid in die staatsdiens sal laat aanhou.

Dit is ook belangrik om te onthou dat die RET-groep die steun geniet van politieke partye wat die nasionalisering van eiendom en selfs ganse sektore van die ekonomie voorstaan – in pas met die beleid wat tot die vernietiging van die ekonomieë van Zimbabwe en Venezuela aanleiding gegee het.

Magashule en sy volgelinge (wat al hoe skrapser word) het oënskynlik die intelligensie van die meeste Suid-Afrikaanse inwoners onderskat.

Ramaphosa is nie alleen in sy afkeer van korrupsie nie – byna almal in die land is keelvol vir politici en staatsamptenare wat lieg en bedrieg, ten koste van dienslewering.

Ramaphosa en die vier ander lede van die ANC se topses leiers verdien lof vir die geduldige manier waarop hulle tot nou toe die aanslag van die RET-groep hanteer het. Magashule se doppie is hopelik oor bietjie meer as ’n week geklink.

  • Dr. Botha is ’n ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep.
Meer oor:  Ekonomie  |  Finansies  |  Nepotisme  |  Kaderontplooiing  |  Ret  |  Ret-Bende
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.