Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Revolusie van die baard

Die baard het beslis ’n revolusie ondergaan: dis lank nie meer net daai een vreemde oom wat jy Kerstyd moet soengroet wat ’n welige baard het nie, skryf Jo Prins.

Jo Prins en sy “jaard” in Melville. Foto: Simon Sonnekus

In Engels noem hulle dit ’n “yeard”.

Dís nou ’n baard wat jy vir ’n jaar lank laat groei . . . en dis ’n super-, dalk moet ek eerder sê, hipergewilde affêre veral onder stedelike boheme.

Jy sien hulle oral, met of sonder man buns, kaalgeskeerde koppe, sommiges getatoeëer within an inch of their lives.

As jy in Melville in Johannesburg, waar ek bly, ’n klip gooi, is die kanse baie goed dat jy ’n bebaarde gaan raakgooi.

Die geneuk in Melville is net dat ’n baard wat dóér staan jou in een van ’n hele paar kategorieë kan plaas: die Moslem-brotherhood; die Boeddhiste (veral as jou kop kaalgeskeer is); die bejaarde hippies; die hipsters; en dan die bergies of boemelaars.

Ek het al eenkeer per ongeluk vir ’n hipster R5 in die hand gestop, maar te laat besef hy ruik te lekker en die baard se glinstering is nie van vroegdag se Old Brown-sjerrie nie . . .

My generasie se baardmanne was in elk geval ook dikwels die gevolg, of reaksie, op twee jaar se diensplig.

Hoe ook al, die baard het beslis ’n revolusie ondergaan: dis lank nie meer net daai een vreemde oom wat jy Kerstyd moet soengroet wat ’n welige baard het nie, die baard is terug met olies, skinny jeans, lumberjack-hemde, latté’s (waarskynlik vetvrye soja-nommers) en laaste maar nie die minste nie, ’n groener, meer vriendelike leefstyl en, natuurlik, wêreldvrede.

Die baard-ding het my eindeloos getickle.

En hoewel ek sedert my middel 20’s so te sê nog nooit nie ’n baard gehad het nie, was dit nog altyd ’n bokbaard – nie ’n volbaard nie. Dis ook effe vreemd wanneer iets wat jy al jare reeds doen, skielik ’n ding word . . . wanneer die mode jou inhaal.

My generasie se baardmanne was in elk geval ook dikwels die gevolg, of reaksie, op twee jaar se diensplig.

My vrou sê dit gaan geen verskil aan haar maak nie, ek kan maar laat loop met die “jaard”.

“We’ve been having it.”

Die ou in die spieël lyk heeltemal anders

Die “jaard” het natuurlik ook sy nadele . . . Foto: Simon Sonnekus

Benewens nou die gewone jeukerige reaksie van hare op ’n mens se gesig, en die onderdrukking van ’n vlietende gier wat jou een oggend sommer die hele ding laat afskeer, kom ek hier by maand drie, vier agter dat die baard baie meer moeite is as skoonskeer.

Jy kan die ding los dat hy wild en woes groei, maar skielik is jou mond soek.

Ook: jou neus- en oorhare het skynbaar die boodskap gekry dat die buurman oorkom.

En hy kom nie soos in die ou dae oor met ’n bottel branna’s nie. Nee, dié meneer janter oor met ’n bottel verkoelde Pinot Noir en dalk ’n ou krulkool-slaaitjie.

Dis ’n gesnip, gesnoei, getrim . . . twee baardskêrtjies later en ’n spesiale kammetjie. My plaaslike barbier, Fred, begin baardolie aan my smous – olie wat hy al vir langer as ’n jaar nie verkoop kry nie (wat die een of ander rep daar kom neersit het).

Skielik benader mense my en praat mense met my wat andersins ongesiens en ongemerk sou verbygaan.

Met die jaard al goed onder beheer en op dreef, loop ek en my kinders een Vrydagaand by Doppio Zero in vir ons weeklikse pizza-ritueel. ’n Jong man, een van die kelners, loop my trompop en sê: “You have a sick beard man!”

Skielik benader mense my en praat mense met my wat andersins ongesiens en ongemerk sou verbygaan.

En dié fenomeen is nie beperk tot kleur of kultuur nie: die middeljarige swart dude, kop kaalgeskeer met jaard, dié maak oogkontak en groet; gay, straight-ouens knik hallo – iets wat ek in die verlede nooit opgemerk het nie.

Tussen vreemdelinge word iets obskuur soos hare op jou gesig ’n “talking point”. Waar ek aanvanklik maar skepties was en gedink het dié sigwaarde-taksering is maar bra oppervlakkig en net so dun soos die melkie in die gemiddelde hipster se koffie, is hier iets – letterlik onder ons neuse – aan die gebeur.

Jy kan jouself reinvent, maar al mens wat daarmee tred hou is jy.

Iets anders wat natuurlik ook gebeur is hoe jy jouself sien. Daai ou in die spieël wat na jou toe terugkyk – hy lyk heeltemal anders.

Toe my jaard so te sê presies deur sy volle siklus was en ek gereed was om na my ou self terug te keer, sit ek vroeër vanjaar met ’n mus op die kaalkop (o koud is die windjie en skraal) in een van ons buurt se koffieplekke.

’n Vriendin wat ek al jare ken sit by ’n tafel oorkant my. Toe sy loop, groet ek en ek sien hoe sy probeer om my te plaas. Sy kon nie verby die baard kyk nie, hier voor haar sit ’n bekende vreemdeling.

Maar dié fiksie van identiteit gaan nie met almal ewe goed af nie. Soos ’n vriend van my sê: Jy kan jouself reinvent, maar al mens wat daarmee tred hou is jy.

Intussen (sê my vrou) moet ek gaan skeer . . .

* Jo Prins is ’n vryskut-joernalis van Johannesburg. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig díé van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Jo Prins  |  Melville
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.