Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rhoda Kadalie: Padongelukke maai onder ANC
Rhoda Kadalie.

Nóg ’n senior ANC-lid het die naweek op ons paaie gesterf. Die tragiese dood van Connie Rampai, adjunkburgemeester van Mangaung, is een te veel. Dit is hartseer omdat sy relatief jonk was, ’n belangrike politieke pos beklee het en ’n jong gesin agterlaat. Die verwronge wrak van haar motor ná ’n trompop-botsing toon duidelik dat hoë spoed ’n rol gespeel het.

Dié aaklige ongeluk het so gou plaasgevind ná die busramp, ook in die Vrystaat, waarin 11 ANC-ondersteuners gesterf en 58 beseer is. Die ondersteuners het van ’n ANC-vergadering teruggekeer en hulle was onderweg na Johannesburg nadat hulle ’n verkiesingsmanifesbekendstelling in Port Eliza­beth bygewoon het. Daar is bespiegel dat die bestuurders in die ry plekke geruil het.

Die ANC het al talle senior partylede weens die oorskryding van die spoedbeperking in motorongelukke verloor.

Ek onthou nog die atmosfeer in die land toe ons gehoor het minister Collins Chabane het gesterf in ’n botsing met ’n vragmotor wat ’n U-draai op die N1 in Polokwane gedoen het. Hy was net 55 jaar oud en het nog veel gehad om Suid-Afrika te bied. Dit is hartseer dat Chabane se twee lyfwagte, die 45-jarige sers. Lesiba Sekele en sers. Law-rence Lentsoane, ook uit die motor geslinger is nadat dit teen ’n spoed van 200 km/h gery het.

Dié aaklige motorongelukke herinner ons aan die ewe tragiese verlies van dr. Molefi Sefularo, adjunkminister van gesondheid, wat net 52 was toe hy in 2010 in sy Lexus op ’n hoofweg in Pretoria verongeluk het. Luidens ’n mediaberig het “ ’n werknemer van ’n wegsleepdiens wat baie vinnig op die toneel was, gesê Sefularo moes ‘baie vinnig’ gery het omdat sy motor ‘byna in twee’ geskeur en sy liggaam ‘in stukke’ was”. Sefularo, wat as ’n intelligente en toegewyde dokter bestempel is, het ’n vrou, drie dogters en ’n seun agtergelaat.

Daar is geen einde aan die bloulig-konvooie nie.

Die feit dat die ANC baie lede weens padongelukke verloor, blyk geen uitwerking te hê nie. Daar is geen einde aan die bloulig-konvooie nie. Hulle laat die verkeer in alle rigtings spat en toon duidelik dat die regerende elite die padreëls op eie risiko verontagsaam.

Wanneer bestuurders nie waarde aan hul eie lewe heg nie, bedreig hulle die lewe van ander mense. Die talle lyfwagte wat ook omgekom het, toon hoe argeloos ministers nie net oor hul eie veiligheid is nie, maar ook oor dié van die mense wat “oor hul lywe moet waghou”.

Volgens die Worldometer sterf sowat 1,25 miljoen mense elke jaar in motorongelukke en is dit die hoofoorsaak van sterftes in die ouderdomsgroep 15 tot 29. Suid-Afrika vaar per capita sleg. In 2013 het 13 273 mense uit ’n bevolking van 52 miljoen in padongelukke gesterf, teenoor Mexiko se 15 062 uit 128,6 miljoen. Die padsterftesyfer in die VSA is 34 064 uit ’n bevolking van 324 miljoen en selfs Bangladesj vaar “beter” as Suid-Afrika met 21 316 sterftes uit ’n bevolking van 163 miljoen.

Veel moet gedoen word om die publiek op te voed dat dit nie aanvaarbaar is om ander se lewe te bedreig as jy nie vir jou eie lewe omgee nie. Die Verenigde Nasies (VN) beraam dat padsterftes teen 2030 die sewende grootste oorsaak van sterftes gaan wees. Die vermindering daarvan met 50% is een van die kernpunte op die VN se 2030-agenda vir volhoubare ontwikkeling.

Soos die voormalige Amerikaanse president Calvin Coolidge bykans ’n eeu gelede gesê het, “sal al ons groot probleme hulself oplos as die mense van die VSA net die eenvoudige dinge doen wat hulle weet hulle behoort te doen”.

Om Ernest Yeboah aan te haal: “As jy die reëls gehoorsaam, gehoorsaam die reëls jou.”

  • Kadalie is ’n menseregte-aktivis.

Meer oor:  Rhoda Kadalie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.