Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rian: Die duiwel wag op sosiale media

Hy is self verslaaf aan Facebook, maar Rian van Heerden wonder of sosiale media in ’n land soos ons s’n nie meer kwaad as goed doen nie.

Rian van Heerden

Ek kan eerlikwaar sê dat ek veel meer van mense gedink het voor sosiale media.

Jy kon iemand die voordeel van die twyfel gee, of hoe? Deesdae met platforms soos veral Facebook en Twitter is dit egter ongelukkig redelik duidelik dat ’n groot hoeveelheid mense maar funksionerende idiote is.

Iewers het die onderwysstelsel ons gefaal.

En nee, sosiale media wys nie net die krake in die onderrigvlakke van Suid-Afrikaners uit nie. Dit is wêreldwyd ’n tendens. In Suid-Afrika is ons egter ongelukkig as ’n nasie té los aanmekaar gelas om voortgesette aanslagte op ons brose selfbeelde te kan hanteer.

Daar is letterlik mense wat net wag om die een of ander video te deel van ’n dronk argument wat tussen rasse by ’n kitskosrestaurant, binne ’n gesinsrestaurant, in ’n parkade of voor ’n kerk uitgebreek het.

Sodoende kan wie ook al die video gedeel het mos bewys dat hulle die heeltyd reg was oor hierdie ander mense wat die land met ons deel.

Almal is mos maar dieselfde, jy sien, hulle wag heimlik om rassistiese beledigings vir jou te skreeu en jou dalk sommer te lyf te gaan.

Die idee daaragter was baie eenvoudig: Verdeel en heers. Gee hierdie spul skape ’n 'tool' waarmee hulle mekaar kan probeer oortuig dat eenheid nie moontlik is nie, dat ons heeltemal té anders is om ooit ’n nasie te vorm.

Wit rassiste, swart rassiste . . . kom ons kyk wie kry die meeste video’s bymekaar om ons punt te staaf oor hoe erg die ander groep werklik is!

Dit is waarom ek oortuig is dat ons beter af was voor die koms van sosiale media. Die duiwel hom (of haar)-self het opgekom met hierdie Facebook en Twitter.

Die idee daaragter was baie eenvoudig: Verdeel en heers. Gee hierdie spul skape ’n “tool” waarmee hulle mekaar kan probeer oortuig dat eenheid nie moontlik is nie, dat ons heeltemal té anders is om ooit ’n nasie te vorm.

Maak dan ook seker dat behalwe vir worshonde wat kan praat en oulike kindertjies wat vloek, geen goeie nuusstorie ooit dieselfde vorm van aandag kry nie.

So wat is eintlik die voordele van iets soos Facebook?

Die idee was destyds om jou vriende op datum te hou met wat in jou lewe aan die gang is, maar vinnig het dit egter ’n gewildheidskompetisie geword.

Ja, dit is seker waar dat ’n mens karakters uit jou verlede so kan opspoor, maar wil jy hulle regtig weer sien? Hoeveel het jy regtig vir iemand te sê wat jy destyds op laerskool mee gepraat het?

Die idee was destyds om jou vriende op datum te hou met wat in jou lewe aan die gang is, maar vinnig het dit egter ’n gewildheidskompetisie geword: Wie het die meeste vriende op Facebook of volgelinge op Twitter?

Al wat jy dan hoef te doen, is om met hierdie vreemdeling te deel wat op julle vakansie aan die gebeur is, of dat jy vroeg wakker is, of dat jy ’n nuwe kar gekoop het (wat jy nie kan bekostig nie).

O ja, en wat vir aandete op die spyskaart is . . .

Nou moet ek erken: Ek is self verslaaf aan Facebook. Natuurlik is dit lekker as iemand “Like” wat ook al jy pas “gepost” het. En ja, ek spandeer heeltemal té veel tyd daaraan om video’s te kyk en grappies te lees op sosiale media.

Die duiwel wag op sosiale media en as daar een ding is wat ons nie nou nodig het nie, is dit sy voortgesette pogings om ons te verdeel.

Dit weerhou my daarvan om iets meer intellektueel te lees, soos die boek van Allister Sparks wat steeds langs my bed lê.

As dit alles egter net so onskuldig was soos ’n verkeerde tydverdryf, of hoe?

Die duiwel wag op sosiale media en as daar een ding is wat ons nie nou nodig het nie, is dit sy voortgesette pogings om ons te verdeel.

So hier is my versoek:

Hou op rassistiese video’s deel. Video’s wat blykbaar wys hoe een ras ’n ander uitskel.

Daar is genoeg hiervan aan albei kante van die draad wat ons steeds apart hou.

Deel eerder iets wat wys hoe ons kan saamleef. Al is dit van kindertjies.

#EnKykWatGebeur.

* Van Heerden is ’n TV-persoonlikheid en radio-omroeper.

Meer oor:  Rian Van Heerden  |  Twitter  |  Facebook  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.