Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rian: Die einde is nog nie in sig nie

Suid-Afrikaners weet dat niks wat ooit in hul land sal gebeur ’n totale ramp sal wees nie. Maar ons besef ook dat dit nooit ’n Utopia sal wees nie, skryf Rian van Heerden.

Rian van Heerden

Dis ’n alombekende feit dat Jan Smuts eenkeer gesê het dat die beste en die slegste nooit gebeur nie.

Dit is natuurlik 100% waar. Vars van die kabinetskommeling, het ons weer Nhlanhla Nene as minister van finansies, Derek Hanekom as minister van toerisme, Pravin Gordhan is by openbare ondernemings en Naledi Pandor is minister van hoër onderwys en opleiding.

Daai raasbek en reekstwieter, Fikile Mbalula, is uit, sowel as al die ministers wat met die Guptas verbind word.

Great, of hoe? Wel, ook nou nie heeltemal nie.

Groot aanhangers van Zuma, insluitende Bathabile Dlamini, Nomvula Mokonyane en Nkhensani Kubayi-Ngubane is steeds in die kabinet en ja, die kabinet is steeds dieselfde grootte.

En hemele behoed ons, daardie dodgy premier van Mpumalanga, David Mabuza, is ons adjunkpresident. Daar is natuurlik allerhande gerugte oor sy beweerde betrokkenheid by tenderbedrog in Mpumalanga, daar is al die politieke moorde in sy provinsie en daar is die keer toe R14 miljoen kontant blykbaar uit sy plaashuis gesteel is. R14 miljoen!

Ook is Bheki Cele terug as minister van polisie. Dieselfde Bheki wat as nasionale polisiekommissaris laat gaan is nadat hy daai twyfelagtige huurkontrak van R500 miljoen vir die polisie se hoofkwartiere onderteken het.

Maar ou Bheki het darem die respek van die grootste gedeelte van die mag gehad en het dit steeds . . .

Jy sien wat ek bedoel?

Niks sal ooit ’n totale ramp wees nie

Die slegste of die beste gebeur nooit. Ons boer hier iewers in die middel rond. Dit verklaar ook hoekom nie PW óf Zuma ons kon sink nie. Of hoe?

Ek lewe al bykans 45 jaar in hierdie land en ek staan altyd verstom wanneer mense histeries begin raak oor die een of ander nuwe/ou verwikkeling in die land.

Hulle sal vir almal wat wil luister, vertel hoedat die einde hierdie keer in sig is en hoedat ons so gou moontlik hier moet padgee as ons wil oorleef.

Ons het deur die NP geleef, die sluipmoord op Chris Hani, die plakkate van landmyne teen ons klasmure, die finansiële ineenstorting van 2007-2008, Allister Coetzee en ja, selfs Jacob Zuma.

En ja, daar is altyd diegene wat na hulle luister en dan by elke geleentheid ’n grafiese foto op Facebook sal laai as bewysstuk van hierdie naderende Armageddon. Jy sal hierdie lot ook uitken aan hul slaafse navolging van paranoïese sangers en hul indrukwekkende versamelings baked beans en sweetcorn.

Die res van ons het egter ’n vreemde rustigheid binne ons wat net nou en dan effens versteur word, maar dan spoedig terugkeer na die oorspronklike stand.

Ons het deur die NP geleef, die sluipmoord op Chris Hani, die plakkate van landmyne teen ons klasmure, die finansiële ineenstorting van 2007-2008, Allister Coetzee en ja, selfs Jacob Zuma.

Ons weet dat niks wat ooit in hierdie land sal gebeur ’n totale ramp sal wees nie. Maar ons besef ook dat dit nooit ’n Utopia sal wees nie. Dis nie Switserland nie – en dis ’n goeie ding, want Switserland het destyds die dinges uit my uit verveel.

Waarom ons altyd garage-pasteie sal eet

Ons het deur die jare gewoond geraak aan die wet van die gemiddelde. Ons geniet steeds grondboontjiebotter op ons brood en is baie, baie lief vir ons mieliepap. ’n Stukkie boerewors is genoeg rede om ’n vuurtjie aan te steek en bokswyn is en sal altyd ’n gunsteling bly.

Potholes is ’n goeie rede om ’n 4x4 te koop en ons mors nie meer ons tyd om te toet vir taxi’s nie. Maar ons kan ook kies om op die sneltrein werk toe te ry, al is dit peperduur.

Soms wil ons net die see sien. Enige see. Dit is genoeg om ons weer rustig te maak sonder fênsie masserings en avokadomaskers.

Ons verwag nie die beste nie en ons verwag ook nie die slegste nie. Onbewustelik. Al jare lank.

Maar ten spyte van wat gebeur, sal ons aangaan.

Dit is waarom ons altyd sokkies en sakdoeke sal waardeer as geskenke.

En garage-pasteie sal eet.

En sal verwag dat Cyril en sy nuwe kabinet sal neig na beter as voorheen.

Ten minste beter.

Maar ten spyte van wat gebeur, sal ons aangaan.

Daar sal ten minste altyd peanut butter wees.

* Van Heerden is ’n TV-persoonlikheid en ’n radio-omroeper.

Meer oor:  Pw Botha  |  Rian Van Heerden  |  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.