Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rian: 'Kan jy die waarheid hanteer?'

Berigte oor listeriose het baie mense vir die eerste keer laat wonder presies wat hul polonie bevat. Maar wil jy regtig weet? vra Rian van Heerden.

Rian van Heerden.

Wie ken nie die “You can’t handle the truth”-toneel uit die fliek A Few Good Men nie?

Lt. Kaffee (Tom Cruise) is in ’n hewige argument met kol. Jessep (Jack Nicholson) betrokke en skree in ’n stadium: “I want the truth!” – waarop Jessep terugskree: “You can’t handle the truth!”

Baie waar, of hoe?

Kan ons werklik die waarheid hanteer? Wil ons regtig alles weet? Ek dink nie ons kan die volle waarheid hanteer nie.

Soos die gesegde gaan: Wat jy nie weet nie, kan jou nie seermaak nie.

Van listeriose het mense eintlik onlangs eers vir die eerste keer gehoor en ’n massahisterie het gevolg wat daartoe gelei het dat polonie as meer gevaarlik beskou word as sigarette. Oor Suid-Afrika heen het mense ontslae geraak van alles in hul yskaste wat selfs net van ’n afstand af soos verwerkte vleis lyk.

Daar was/is selfs ’n vrees dat jy skielik mid-hotdog sal dood neerslaan! Wie kon weet na watter afgrond hierdie pienk vleis ons sou lei?

Dit was nogal vreemd vir my. Nie die massahisterie nie (Suid-Afrikaners is baie goed daarmee), maar eerder die feit dat mense ná hoeveel dekades vir die eerste keer polonie bevraagteken.

Weet jy wat jou polonie bevat?

Weet jy wat dit bevat? Kom ek lees op hierdie Franse polonie voordat ek dit weggooi:

* Maltodekstrien

* MSG

* Aansuurders

* Gehidroliseerde groenteproteïen

* Natriumeritorbaat

* Eritrosien C145430

* Karamel E150

Hè? Wat is hierdie goed?

Dan word ons ook darem vertel dat daar vleis in is. Dit hang natuurlik af wat jou definisie van vleis is. Alles wat basies oorbly nadat die dier geslag is, word deel van die polonie hoewel hulle ons verseker dat dit nie bene, hoewe, sterte, snawels en tollies is nie.

Maar jy kan maar verseker wees dat ingewande en organe ook deel van jou polonie vorm . . . aangevul met vet, stysel en olie. Dan word dit pienk gekleur, net sodat dit ’n bietjie meer aantreklik is op die oog!

Weet jy wat jou polonie alles bevat? Foto: Argief

Jy wil ook liewer nie weet wat by slagpale aangaan of waar eiers vandaan kom nie. Die druk wat die mensdom se onversadigbare honger op die natuur uitoefen, veroorsaak dat ons onsself in ’n stelsel bevind waar daar nie veel plek is vir iets soos free range nie.

Enigiets wat deur die mensdom geëet word se lewe hier op aarde is maar kortstondig en wreed. Maar hiervan wil jy nie weet nie, hierdie soort waarhede sal ’n lekker ou braaivleis totaal ruïneer, of hoe?

Wat is tans in jou liggaam aan die gang? Wat is aan die gebeur weens die feit dat jy vir jare nie behoorlik na jouself gekyk het nie? Wil jy regtig weet? Ek dink nie jy kan die waarheid hanteer nie en dit is juis hoekom ons so bang is vir die dokter.

Met die skryf van my boek, 16 Dinge wat ek nie moes sê nie, het ek besef dat ek self die waarheid in ’n paar gevalle maar ontwyk het of vir myself gehou het. Al was dit nie gereeld nie!

En wat as jy vir ’n onbeskofte buffel, skoonma, taxibestuurder, politikus of sexy verbyganger presies vertel wat jy werklik met hulle wil doen?

Ek het net voor my boekbekendstelling by Menlyn Maine op Facebook die volgende opgemerk: “Kan jy jouself voorstel hoe dit moet wees as almal 100% die waarheid gepraat het? Presies gesê het wat hulle gewoonlik dink as hulle alleen is? Presies vir iemand vertel hoe jy oor hom of haar voel? Goed of sleg: Wat jy werklik dink. Ek dink as dit gebeur, sal die gemeenskap totaal in duie stort.” Jean Roode het hierop geantwoord: “I really don’t think us humans are wired to accept and process 100% truth. To thine own self be true and pop a filter in place when appropriate.”

Inderdaad. Kan jy jou voorstel wat sal gebeur as jy sonder om ’n duit om te gee vir gevoelens of gevolge, uiting gee aan wat jy werklik dink as jy alleen by die huis is of op die lang pad is? Sal jou geliefdes dit kan hanteer? En wat as jy vir ’n onbeskofte buffel, skoonma, taxibestuurder, politikus of sexy verbyganger presies vertel wat jy werklik met hulle wil doen?

Die mensdom kan nie daardie soort waarheid hanteer nie.

En jy ook nie!

* Van Heerden is ’n TV-persoonlikheid en radio-omroeper.

Meer oor:  Tom Cruise  |  Rian Van Heerden  |  Listeriose  |  Polonie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.